FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Gesond

Postnatale depressie: Die tekens

Postnatale depressie beïnvloed 10 tot 40% van ma’s. Dit beteken sowat 50 000 nuwe gevalle word jaarliks in Suid-Afrika aangemeld. In Edinburg, Skotland, is ’n ma verlede jaar vir 3 jaar tronk toe gestuur ná sy haar baba versmoor het.

Volgens Daily Mail het Erin Sutherland aan nageboortedepressie (oftewel postnatale depressie) gelei. Sy het haar 10 maande oue baba, Chloe, in Februarie 2015 versmoor. In die hof het dit bekend geraak dat Erin al voorheen vir postnatale depressie in die hospitaal opgeneem was.

Skotland se Mental Welfare Commission het nou in ’n verslag kritiek uitgespreek omdat daar nie voorheen, toe daar reeds tekens van postnatale depressie was, ordentlike hulp aan Erin gegee is nie, berig BBC.

MOOD baba ma unsplash

FOTO Unsplash

Om te weet

Daar is drie soorte – postnatale blues, postnatale depressie en angs, en postnatale psigose.

Postnatale blues word gekenmerk deur huilerigheid en emosionele skommelings en duur tot ’n paar dae ná die geboorte.

Postnatale depressie en angs is veel ernstiger as die blues. Die simptome kan jou lewe ernstig aan bande lê en kan van ’n paar weke tot ’n paar maande of selfs ’n jaar duur. ’n Kombinasie van medikasie, terapie en ’n goeie ondersteuningsnetwerk word aanbeveel om dit te beheer.

Postnatale psigose is die “diepste blou” van die gees. Een
tot twee vroue uit elke duisend kry dit na raming. Dit kom gewoonlik twee tot vier weke ná die baba se geboorte voor. Simptome sluit onder meer versteurde gedagtes, erge depressie, manie en psigose in. ’n Pasiënt kan ’n gevaar vir haarself en dié om haar inhou, en moet dadelik gehospitaliseer word.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Hoe weet jy dat jy aan postnatale depressie ly?

As jy ’n hele paar van die volgende simptome ná die geboorte van jou baba het, is dit raadsaam om jou ginekoloog en/of psigiater te raadpleeg. Dit is bloot riglyne.

Jy voel onder meer:

– Afgestomp en verwyderd van jou baba.
– Langer as sowat tien dae huilerig, hartseer en “af”.
– Sonder selfbeeld.
– Asosiaal en nie lus om mense te sien nie.
– Obsessief oor hoeveel slaap jy nie kry nie.
– Vergeetagtig en verloor dinge.
– Nie geesdriftig oor enigiets nie en kan niks geniet nie.
– Skuldig oor jou gevoelens as nuwe ma – jy het gedink jy sou heeltemal anders voel.
– Nie lus om jouself te versorg nie.
– Nie lus om vir enigiets te lag nie.
– Altyd bekommerd dat daar iets fout is met die baba, selfs al verseker almal jou alles is oukei.
– Asof jy alle begrip van tyd verloor het.
– Jy wil die baba en jouself beseer.
– Jy het geen belangstelling in die wêreld nie en jou energievlakke is altyd laag.

Bronne: Post Natal Depression Support AssociationNHS Choices

Lees nou

Sound of Music se Liesl oorlede

Uitbranding, stres en depressie oorheers ons wêreld

Nageboorte-depressie: Henré Pretorius se Nadine ‘lééf weer’