FOTO Instagram / @tomspinzi

FOTO Instagram / @tomspinzi

Gesond

Rio(ol)-water kan atlete laat hol …

 

…  vir die verkeerde rede

Daar’s riool in Rio se water waar die Olimpiese Spele Vrydag afskop.

Raad aan die seiljagvaarders, roeiers en langafstandswemmers wat die poskaartmooi water gaan aandurf: Hou jul monde toe.

Dis besmet met menslike riool en krioel van gevaarlike virusse en bakterieë, volgens ’n studie van 16 maande lank deur die Associated Press. Selfs net 3 teelepels van die water kan jou glo hewig siek maak met byvoorbeeld maag- en respiratoriese siektes, en (hoewel skaars) selfs hart- en breininfeksie.

Nie net die atlete kan deurloop nie, maar ook toeriste op die goue strande van Ipanema en Copacabana, dui AP se toetse aan.

Sedert AP se aanvanklik resultate verlede jaar bekend gemaak is, tref atlete omslagtige voorsorgmaatreëls om siekte te voorkom. Die voorkomende gebruik van antibiotika, bleik van roeispane en dra van plastiek-pakke om kontak met die water te verminder is van dié maatreëls, berig Sport.yahoo.com.

Antibiotika kan voorkomend vir bakterieë help, maar niks aan virusse doen nie.

Die volgende goggas word onder meer aangetref in water met menslike afval, volgens die webblad Livescience.com.

• Adenovirusse: Respiratoriese siektes, gastroënteritis, of inflammasie van die maag en derms.

• Norovirus: Baie algemeen en veroorsaak diarree en vomering.

• Rotavirus: Ernstige, waterige diarree, koors en vomering.

• Hepatitis A: Dit veroorsaak lewer-infeksie. Soms geen simptome nie, of koors, naarheid, vomering, donkerkeurige urine en geelsug. Jy kan daarteen ingeënt word.

• Astrovirus: Akute diarree, kom nie so algemeen voor nie.

• Kriptosporidiose: ’n Parasiet wat waterige diarree veroorsaak.

Of jy werklik gaan siek word, hang af van ’n reeks faktore, waaronder jou immuniteit, volgens die webtuiste. Minder as 10% van die atlete, sowat 2-5%, sal waarskynlik aangetas word.

Sommige sal ook nie dadelik siek word nie, maar wel op lang termyn. Infeksies kan in sommige gevalle die natuurlike bevolking van bakterieë in jou derm versteur. Dit kan later die sneller wees vir ’n outo-immuunsiekte, as jy ’n geneigdheid daartoe het.

Indien Suid-Afrika se watersport-deelnemers dalk bekommerd is, hou hulle dit in dié stadium vir hulself, berig Netwerk24.

“Die enigste storie wat ons gehoor het oor die water, gaan oor Roger Barrow, die SA roei-afrigter. Hy het een dag (by Rodrigo de Freitas) afgebuk en van die water gesluk. Die mense van die ander lande wat dit sien gebeur het, het byna dood neergeval. Maar hy het niks oorgekom nie en die roeiers is nie bekommerd nie,” het die Suid-Afrikaanse span se chef de mission, Tubby Reddy, gesê.

Bykomende bronne: The Atlantic, Forbes, New York Times