FOTO UNSLASH / Alexander Dummer

FOTO UNSLASH / Alexander Dummer

Gesond

Seuns, meisies se brein verskil ná trauma

’n Deel van die brein wat aan empatie en emosies gekoppel is, die insula, was besonder klein by meisies wat ’n trauma beleef het, volgens navorsing aan Stanford-universiteit se mediese skool.

By getraumatiseerde seuns, darenteen, was dit groter as gewoonlik. Dit kan verklaar waarom meisies meer geneig is as seuns om posttraumatiese stresversteuring (PTSV) te ontwikkel, volgens die navorsing deur Stanford Universiteit in die VSA.

Volgens die bevinding lyk dit asof seuns en meisies kontrasterende simptome kan hê ná besonder ontstellende of angswekkende gebeure. Die stres kan akuut of langtermyn van aard wees. Seuns en meisies moet dus verskillend behandel word. ’n Sekere deel van die insula kan vinniger as normaalweg verouder by meisies met PTSV. Dis dié deel van die brein wat gevoelens en pyn verwerk.

Die insula, of insulêre korteks, is ’n diverse en komplekse area wat diep in die brein gesetel is. Dit werk egter nie in isolasie nie en is gekoppel aan ander dele van die brein wat ook betrokke is by die verwerking van emosies en empatie, volgens LiveScience.

“Ons bevinding toon aan dat seuns en meisies verskillende simptome kan hê en dat hulle by verskillende benaderings in behandeling kan baat,” het Megan Klabunde, die hoofnavorser, gesê.

“Volgens sommige studies lyk dit asof hoë vlakke van stres kan bydra tot vroeë puberteit by meisies.”

Vorige studies het gewys sowat 8% van meisies en 2% van seuns ontwikkel PTSV iewers in hul leeftyd.

Wat is PTSV?

Dis die term wat die sielkundige uitwerking van ’n traumatiese gebeurtenis beskryf. Soos ’n ernstige motorongeluk, natuurramp of gewelddadige misdaad. Baie jongmense herstel ná so ’n gebeurtenis sonder om PTSV te ontwikkel. Maar nie almal nie, volgens die BBC.

Simptome kan insluit:

– Terugflitse en nagmerries

– Angs, onvermoë om te ontspan

– Slaapprobleme

– Probleme om te eet

– Vermyding om die gebeurtenis te herleef

Dis normaal om vir ’n paar weke lank ná ’n ontstellende ervaring simptome te hê. As dit ná ’n maand steeds voortduur, besoek jou dokter vir verwysing na ’n gesondheidwerker wat in PTSV spesialiseer.

Lees nou

Ontwerp self jou unieke partytjie-skoene

VIDEO: 60 walvisse speel in die Kaapse waters