Article 8Treatment options
Sterker saam

8 stappe tot top-kankerbehandeling

’n Kankerdiagnose is skrikwekkend, maar moenie dat vrees jou terughou nie. Hou aan vrae vra en kry die beste behandeling.

Mediese kenners kan die rigting aandui op jou kankerpad, maar dis jou verantwoordelikheid om seker te maak jy verstaan wat hulle sê. Mediese terminologie is soms oorweldigend, maar moenie bang wees om vrae te vra nie – die enigste dom vraag is die een wat jy nie gevra het nie.

Dr. Ernst Marais, operasionele uitvoerende beampte van die Independent Clinical Oncology Network (ICON), stel voor jy doen dié agt dinge om die beste kankerbehandeling te kry.

1 Doen dit saam

Dokters was altyd gesagsfigure wat vir ons voorgesê het wat om te doen, gebaseer op die beste inligting tot hul beskikking. Maar deesdae werk pasiënte baie nouer saam met hul mediese spanne omdat daar soveel inligting beskikbaar is, van ondersteuningsgroepe sowel as op die internet.

2 Kennis is mag

Jy sal meer vrugbare gesprekke met jou mediese span hê indien jy goed ingelig is. Moenie net op die internet staatmaak nie. Vra jou dokter vir goeie leesstof, praat met ander kankerpasiënte en klop ook by ondersteuningsgroepe aan.

3 Neem jou tyd

’n Kankerdiagnose is vreesaanjaend, maar moenie voel jy moet dadelik op behandeling besluit nie. Vra altyd eers jou dokter, maar selfs die mees aggressiewe soort kanker sal jou waarskynlik ’n paar weke toelaat om dinge te deurdink en jou vertrouelinge te raadpleeg.

4 Praat met spesialiste

Indien dit prakties moontlik is, kontak dokters of kenners wat spesialiseer in jou spesifieke soort kanker. Daar is soveel nuwe inligting as dit by onkologie kom – dis die moeite werd om spesialiste se raad te vra.

5 Kry nog ‘n mening

Geen dokter wat sy of haar sout werd is, sal beledig voel as jy ’n tweede opinie wil kry nie. Moenie snags wakker lê omdat jy bang is jy gaan jou dokter se gevoelens seermaak nie. Dit is jóú lewe wat op die spel is.

 6 Kies jou mediese span oordeelkundig 

Die mense wat jy in jou mediese span insluit, word soos ’n uitgebreide familie, want selfs al is jy in remissie moet jy steeds die res van jou lewe vir gereelde toetse en ondersoeke gaan. Kies hulle dus versigtig en maak seker jy kan maklik en openlik met hulle praat.

Speel ’n aktiewe rol in jou kankerbehandeling.

7 Help jouself onthou

Neem ’n lys vrae saam na doktersafsprake sodat jy kan onthou wat jy wou vra. As jy ’n slimtoestel het, laai ’n stemopname-app af om elke sessie op te neem. Dan jy hoef nie alles te onthou nie, jy kan later daarna terugverwys en jy kan ook verder uitvra tydens die volgende doktersbesoek.

8 Gebruik jou eie woorde

Net voor die einde van elke afspraak, vra jou dokter of jy in jou eie woorde kan opsom waaroor julle gepraat het. Dis ’n uitstekende manier om seker te maak jy verstaan en jy kan dadelik duidelikheid kry eerder as om tuis daaroor te gaan tob.

Kontak die Independent Clinical Oncology Network (ICON) op 021 944 3750 | icon@cancernet.co.za of www.iconsa.co.za.

Is jou lewe geraak deur kanker?

Deel die storie en inspireer ander, en staan ’n kans om deur 1Life verras te word met ’n paar onvergeetlike dae in Kaapstad #StrongerTogether

Maak seker dat jy en jou kinders voldoende dekking het. Lees verder oor die 1Life All Woman-polis of SMS “woman” na 42711 en 1Life sal jou terugbel.

Vrywaring

Die opinies en ervaringe wat deur die individue in hierdie persoonlike vertellings gedeel word, is geensins daarop gemik om enige produk of diens te bemark of te ondersteun nie – nie kommersieel, in die kleinhandel of andersins nie.