5 - 1Life - Article 5 - My child has cancer
Sterker saam

My dogter se stryd teen kanker

Toe haar aktiewe jong dogter, dol op diere en die buitelewe, skielik tekens van uitputting toon, het René vermoed alles is nie pluis nie.

Die waarskuwingsligte het vir René Viljoen (44) van Robertson begin flits toe haar 11-jarige dogter, Winé, een middag ná skool doodmoeg op haar bed neerval en aan die slaap raak sonder om eers haar skoolklere uit te trek.

Dit was glad nie haar kind se gewone gedrag nie en haar moederinstink het onmiddellik vir haar gesê iets is fout.

René het ’n afspraak by hul huisdokter gemaak en Winé is met geelsug gediagnoseer. Sy kon ’n paar dae lank nie skool toe gaan nie.

Veranderinge

“Dit het beteken dat sy bedags by my was en ek kon haar dus dophou, waar ek haar voorheen slegs voor en ná skool te siene gekry het. Dis toe dat ek die veranderinge in my kind begin opmerk het. Ek’t vir my man, Willem, gesê dis nie geelsug hierdie nie. Ek’t al geelsug gehad en dis glad nie dieselfde ding dié nie.”

Vier dae later het sy gesien dat Winé se een mondhoekie hang en so ook die een ogie.

“Toe weet ek daar is groot fout. Ek’t die dokter gebel en hy’t ons onmiddellik vir ’n breinskandering gestuur.”

Die skandering het gelei tot ’n verwoestende diagnose. Daar was ’n groot gewas op Winé se brein en dit was kwaadaardig. Dit was ’n baie aggressiewe soort kanker en dit was reeds ver gevorderd. Sy is slegs maande gegee om te leef.

“’n Mens is nooit voorbereid op sulke nuus nie – dat sy heel moontlik nie gaan gesond word nie en dat ons haar waarskynlik gaan verloor,” sê René met oë vol trane. “Die skok en die ongeloof was onbeskryflik. Ek’t haar vir die skandering gevat en die moeilike taak om vir my man te sê was dus myne. Dit was bitter swaar, veral omdat hy en sy onafskeidbaar was.”

Krieseltjie hoop

Hul aanvanklike reaksie was ontkenning. “Ons het eenvoudig verseg om die diagnose te glo,” erken René. “Ons het oor en oor vir onsself gesê sy gaan gesond word en ons gaan anderkant uitkom. Dit was die krieseltjie hoop waaraan ons vasgeklou het. Dis wat jy nodig het onder sulke omstandighede, want anders sal jy dinge nooit kan hanteer nie.”

Nadat Winé geopereer is, het sy maande lank chemoterapie en bestraling ontvang om te probeer keer dat die kanker versprei. Willem en René boer in die Breederiviervallei en moes dus ’n klein woonstelletjie huur naby die hospitaal, wat meer as twee uur se ry van die huis af was, sodat René na Winé kon omsien tydens haar behandeling.

“Ek moes haar in ’n rolstoel na die behandelings toe stoot omdat sy toe al gesukkel het om te loop. Op pad hospitaal toe het ons altyd by Woolies gestop en van daai klein wortelballetjies gekoop – sy was mal daaroor! Ná afloop van elke behandeling het ek haar ’n paar keer om die blok gestoot om bietjie vars lug te kry. Ons het haar behandelings so gereël dat dit laat op ’n Maandag en vroeg op ’n Vrydag sou plaasvind en ons kon dus naweke tuis wees op die plaas waar sy so gelukkig was.”

Huis toe

Daar het nog vyf breinskanderings gevolg, maar nie een het goeie nuus opgelewer nie. Die laaste een het bevestig dat die kanker deur Winé se hele brein versprei het, met wit kolletjies oral op die skandering sigbaar.

“Ten spyte van ons geloof, ten spyte daarvan dat ons onwrikbaar geglo het sy gaan gesond word, het ons nooit enige goeie nuus ontvang nie,” sê René.

Uiteindelik het die dokters vir die gesin die laaste stukkie slegte nuus gegee. Daar was niks meer wat hulle vir Winé kon doen nie en hulle het voorgestel dat sy eerder huis toe gaan.

Daar was nog een chemopil wat hulle kon probeer en dit is uit Amerika laat kom. Die medikasie het vir Winé ’n laaste bietjie krag gegee ná haar tuiskoms. Maar om 06:00 op 15 Januarie 2010 het sy haar stryd teen kanker verloor, net nege maande nadat sy gediagnoseer is.

Baie geleer

“Ek’t nog nooit my storie in die openbaar vertel nie – slegs vir vriende en familie,” sê René. “Dit het ten minste ’n jaar gevat voordat ons weer begin voel het asof ons die wêreld in die oë kan kyk. Elke lid van ons gesin het op sy of haar eie manier gerou. Ek wou byvoorbeeld heeltyd na foto’s en video’s kyk. My man het net stil geword en dit het vir my gevoel asof hy binnetoe huil. Ons seun Willie was toe 10 jaar oud en hy’t net aangegaan op sy teruggetrokke manier. Die skool het ’n sielkundige se hulp aangebied, maar hy wou niks daarvan weet nie. Een dag het hy uit die bloute vir ons gesê, ‘Julle moenie dink dat ek haar nie mis omdat ek nie huil nie. Ek mis haar baie.’ Daardie woorde van my seun het my geleer dat ons elkeen op ons eie manier moes leer vrede maak met die verlies aan Winé in ons lewe.”

Nuwe begin

Behalwe haar familie en haar geloof het René die meeste krag en ondersteuning geput uit die talle boodskappe wat sy ontvang het. “Mense wat die vrymoedigheid geneem het om te vra hoe dit met ons almal gaan – dit het my deurgedra, want dit het my laat besef dat ons nie alleen was nie. Hulle het ons regtig in hul gedagtes en gebede gedra.”

’n Nuwe kleinding het sedertdien sy opwagting in die gesin gemaak. Sy naam is Wessel en hy is nou drie.

“Hy het vir ons nuwe lewe gebring. Ons was so bly toe ons uitvind dis ’n seuntjie, want as dit ’n dogtertjie was sou ons haar heeltyd met Winé vergelyk het en dit sou baie swaar gewees het. Die lewe is darem wonderlik, want daar is so baie van sy suster in hom. Hy lyk nie net na haar nie, hy het selfs van haar gebare en gewoontes. Hy is ook net so lief vir diere en die buitelewe as wat sy was. Hy is ons spesiale klein engeltjie.”

Lewenslesse

René dink ’n oomblik na oor die lewenslesse wat hulle uit die tragedie geleer het. “Die moeilikste was daardie leë stoel aan die etenstafel en die leë sitplek in die kar. Maar toe kry ons ’n splinternuwe bondeltjie energie wat daardie leemtes kon vul en dit het dinge definitief meer draaglik gemaak. Dankie tog ’n mens leer om met die verlies saam te leef. Maar ons dink elke dag aan haar en lag lekker as ons dink aan al haar geite.

“Deesdae is die oorweldigende gevoel wat by my opkom dié van empatie vir mense wat in dieselfde bootjie is as wat ons destyds was. Ek wil so graag uitreik en hulle ondersteun – dis hoekom ek besluit het om my storie te vertel. Die belangrikste boodskap is dat ’n mens nooit alleen is in moeilike tye soos hierdie nie. Geloof, familie, vriende en selfs vreemdelinge – daar is so baie ‘engele’ wat ’n mens deurdra.”

Is jou lewe geraak deur kanker? Inspireer ander met jou storie #StrongerTogether

Deel jou storie HIER

Is jou lewe of dié van iemand na aan jou deur kanker geraak? Deel die storie en inspireer ander, en staan ’n kans om deur 1Life verras te word met die ervaring van ’n leeftyd #StrongerTogether

Finansiële beskerming en ondersteuning is baie belangrik wanneer dit kom by kanker. Lees meer oor die 1Life All Woman-polis wat spesiaal ontwerp is om vroue en hul kinders by te staan ten tyde van ’n kankerdiagnose, insluitend noodsaaklike voordele om te help in ’n noodgeval.

Vrywaring

Die opinies en ervaringe wat deur die individue in hierdie persoonlike vertellings gedeel word, is geensins daarop gemik om enige produk of diens te bemark of te ondersteun nie – nie kommersieel, in die kleinhandel of andersins nie.

1Life

Is jou lewe of dié van iemand na aan jou deur kanker geraak? Deel die storie en inspireer ander, en staan ’n kans om deur 1Life verras te word met die ervaring van ’n leeftyd. #StrongerTogether