Article-feature-images_Article 14
Sterker saam

Hoe sien jy om na ’n kankerlyer?

Daar is nie ’n regte of verkeerde manier om na ’n kankerpasiënt om te sien nie – slegs jóú manier.

1Lifetag

Mariana Lourens van Port Elizabeth het borskanker oorleef en versorg reeds meer as ’n dekade kankerpasiënte as onkologie-welsynwerker by GVI Oncology. Hier beantwoord sy vrae oor die eise wat dit aan jou stel wanneer jy iemand vergesel op die kankerpad.

Wat is die beste manier om dit te doen?

Jy moet altyd die kankerlyer se beste belange op die hart dra, maar daar is eerlikwaar nie ’n regte of verkeerde manier nie – net jóú manier. Moenie jouself met ander mense vergelyk nie.

Kos kan byvoorbeeld ’n geweldige kwessie (issue) raak. Familielede wil dikwels hê die persoon moet iets eet, maar natuurlik het kankerpasiënte selde veel van ’n eetlus. Sit byvoorbeeld eerder klein happies kos op ’n klein bordjie, laat hulle voor die televisie eet, of voeg drie teelepels Ensure by ’n klein bakkie jogurt. Benader dit asof jy ’n kleuter wat sleg eet probeer oorreed – dink buite die boks.

Wat is die moeilikste uitdaging?

Dit neem jou lewe geheel en al oor en jy is nooit werklik voorbereid daarop nie. Jare gelede was daar ’n advertensie op televisie waar ’n massiewe groen doek oor ’n huis gedrapeer is om allesomvattede versekering te simboliseer. Wel, dis hoe dit is om na ’n kankerpasiënt om te sien. Maar indien jy af en toe uit daardie “bubble” kan tree en klein stukkies tyd uitkerf wat net vir jou is, sal jy jouself en die persoon na wie jy omsien ’n groot guns bewys.

Wat is ononderhandelbaar vir iemand wat ’n kankerpasiënt versorg?

Tyd vir jouself. Dis nie moontlik om 24/7 na iemand om te sien nie. As jy ’n blaaskans vat, beteken dit allermins dat jy nie omgee nie – dit sê juis jy doen!

Hoe verander dit ’n mens?

Jy sal ’n fundamentele ommekeer van rolle ervaar (role reversal). Want dan is jy nie meer die eggenoot, ma, dogter of vriendin nie – jy is nou die versorger (carer). Jul emosionele verbintenis verander en die fokus van die verhouding verskuif.

Wat is die belangrikste les om te onthou?

’n Vriendin wat sterwend was aan kanker het my geleer dat die lewe soos mosaïek is. Elkeen van ons se gebrokenheid dra by tot die groter prentjie. Wanneer ons tot sterwe kom, gaan die mosaïek van die lewe voort in die lewens wat ons aangeraak het.

Artikel 14_CTA