4 - 1Life - Article 4 -Self-love
Sterker saam

Wees aktief teen kanker

Niemand kies om kanker te kry nie, maar niemand wat kanker kry het regtig ’n keuse nie. Gelukkig is dit moontlik om positief te bly deur aktief deel te neem aan jou behandeling.

’n Kankerdiagnose kom met fisieke uitdagings en veranderinge aan jou lyf wat jou dokters vir jou kan verduidelik. Maar in jou kop is dinge gewoonlik baie vaer.

Om jouself te herontdek ná so ’n diagnose, om steeds na jou liggaam om te sien en nie jou selfvertroue te verloor nie is van die grootste sielkundige uitdagings vir elke kankerpasiënt.

Kanker is ’n siekte wat jou lewe op allerhande maniere kan omverwerp deur byvoorbeeld jou werk, verhoudings, vriendskappe, stokperdjies en gunsteling-tydverdrywe te beïnvloed.

Dit forseer jou ook om jou toekomsplanne te heroorweeg en dís nie maklik nie.

Linda Greeff (60) weet presies hoe dit voel. Sy is 26 jaar gelede met kanker van die eierstokke gediagnoseer. Sy is suksesvol behandel en sedertdien help sy ander om die sielkundige uitdagings van ’n kankerdiagnose te hanteer.

Linda is die dryfveer agter verskeie organisasies wat kankerpasiënte bystaan, waaronder People Living With Cancer en Cancer Buddies. “Ek volg graag die sogenaamde aktiewe pasiëntbenadering (Patient Active Approach). Ek glo daarin omdat dit jou interne beheerstelsels opbou en jou sodoende sterker laat voel,” sê sy.

Wat behels dié benadering?

Nadat sy vrou in 1982 behandeling ontvang het vir borskanker, het die Amerikaner Harold Benjamin die Wellness Community-netwerk van ondersteuningsentrums vir kankerpasiënte in die VSA gestig.

Hy wou vir kankerpasiënte ’n beter kans gee om gesond te word deur hulle meer optimisties te laat voel en hulle daadwerklik deel te maak van hul eie behandeling. Hy het kankerpasiënte ook aangemoedig om aktief te bly in die samelewing ten einde hul lewensgehalte en kanse op herstel te verbeter.

Dié benadering is al in baie lande ter wêreld gebruik, insluitend in Suid-Afrika waar dit goeie resultate gelewer het by organisasies soos People Living with Cancer.

“Soos dit blyk uit die naam van die program is hierdie ’n ambisieuse plan wat ’n rits aktiewe take insluit om kankerpasiënte te help en aan die gang te hou,” sê Linda.

Dit stel onder meer voor:

  • Leer ken jou mediese span, word ’n aktiewe lid van die span, werk met hulle saam en hou altyd die kommunikasiekanale oop.
  • Kry goeiegehalte-inligting oor jou spesifieke siekte, die behandeling, moontlike newe-effekte en hoe om daardie newe-effekte te benader en ook te behandel.
  • Hou vol met jou behandeling, moenie agterraak daarmee nie en stel vir jouself klein, bereikbare doelwitte.
  • Hou altyd die geestelike en emosionele aspekte van jou lewe in gedagte en moenie nét op die fisieke fokus nie.
  • Bou ’n netwerk van ondersteuners, omring jouself met optimistiese mense en probeer om negatiwiteit sover moontlik te vermy.
  • Hou aan om die lewe te geniet – dis in die haak en dit word toegelaat!

Hoekom werk dit?

“Dis nie ingewikkeld nie en dit behels ook geen toorwerk nie,” lag Linda. “Dit verg maar net harde werk, toewyding en ’n wilsbesluit om elke dag die benadering van voor af te volg in elke deel van jou lewe; dit bly ’n konstante ‘onvoltooide projek’. Maar dit help jou om nie meer soos ’n slagoffer te voel nie en bemagtig jou deur nuwe maniere om met kanker saam te leef.”

Positief en negatief

’n Kankerdiagnose kan jou in ’n emosionele warboel dompel: hartseer, vrees, frustrasie, angs, verlies aan beheer en skuldgevoelens kan alles ’n rol speel. Maar Linda sê daar is ook ’n positiewe kant.

“Verskeie kankerpasiënte het al oor die jare vir my gesê dat hulle nuwe waardering gekry het vir hul liggame; hulle vind vrede en voel dankbaar; hulle heroorweeg hul prioriteite; daar is meer duidelikheid oor persoonlike doelwitte en hulle verstaan die betekenis van die lewe beter.”

Selfs te midde van ernstige siekte is dit dus moontlik om plek te maak vir die noodsaaklike dinge, soos:

  • Gun jouself die nodige tyd om aan te pas.
  • Praat met ander mense in soortgelyke situasies.
  • Lag.
  • Bly kalm.
  • Wees so aktief moontlik.
  • Vra vir hulp en aanvaar dit –  uit persoonlike sowel as professionel oorde.

Vir meer inligting oor die “Patient Active Approach”, besoek www.cancerbuddies.org.za of skakel 0800 033 337.­

Is jou lewe geraak deur kanker? Inspireer ander met jou storie #StrongerTogether

Deel jou storie HIER

Is jou lewe of dié van iemand na aan jou deur kanker geraak? Deel die storie en inspireer ander. So staan jy ook ’n kans om deur 1Life verras te word met ’n besonderse ervaring #StrongerTogether

Finansiële beskerming en ondersteuning is baie belangrik wanneer dit kom by kanker.Lees meer oor die 1Life All Woman-polis wat spesiaal ontwerp is om vroue en hul kinders by te staan ten tyde van ’n kankerdiagnose, insluitend noodsaaklike voordele om te help in ’n noodgeval.

Vrywaring

Die opinies en ervaringe wat deur die individue in hierdie persoonlike vertellings gedeel word, is geensins daarop gemik om enige produk of diens te bemark of te ondersteun nie – nie kommersieel, in die kleinhandel of andersins nie.

1Life

Is jou lewe of dié van iemand na aan jou deur kanker geraak? Deel die storie en inspireer ander, en staan ’n kans om deur 1Life verras te word met die ervaring van ’n leeftyd. #StrongerTogether