Article-feature-images_Article 13
Sterker saam

Nog ’n kans: Wat sou kankerpasiënte anders doen?

’n Onkologie-welsynwerker met 15 jaar se ervaring deel haar ondervindinge van omsien na kankerpasiënte.

1Lifetag

“In ’n perfekte wêreld sou alles mooi uitwerk soos in ’n Hollywood-film. Maar natuurlik is die lewe allesbehalwe perfek!” sê Clare Manicom, ’n onkologie-welsynwerker by GVI Oncology. Ná meer as 15 jaar se ervaring het Clare al byna alles gesien. Hier deel sy ’n paar van die dinge wat kankerpasiënte en hul geliefdes al oor die jare vir haar gesê het – dinge wat hulle anders sou doen indien hulle weer die kankerpad moes stap.

Gereelde ondersoeke

“Die meeste mense wens hulle het vir gereelde ondersoeke en toetse gegaan, veral dié wat ly aan borskanker, prostaatkanker en kolonkanker. Die meeste mense is onbewus daarvan dat jy ná die ouderdom van 50 elke 5 jaar vir ‘n kolonoskopie behoort te gaan. Selfs al is daar ’n familiegeskiedenis van kolonkanker vind ons dat baie mense steeds nie vir ondersoeke gaan nie, en skielik is dit te laat.”

Kry ’n tweede opinie

“Natuurlik is nie elke bultjie of kolletjie kankeragtig nie, maar baie mense sal vir jou sê hulle wens dat hulle meer vrae gevra het. ’n Tweede opinie kan ’n twispunt raak wanneer pasiënte onder druk voel om ‘onderdanig’ te wees aan hul dokters en nie ‘moeilik’ wil wees nie. Dis ongelooflik hoe baie mense dink dat die dokter harder sal probeer en beter na hulle sal omsien as hulle nié ‘n tweede mening gaan soek nie, en dis verbasend hoe gereeld dit gebeur.”

LEES: 8 stappe tot top-kankerbehandeling 

LEES: Wees aktief teen kanker 

Nie ten alle koste

“Geliefdes en naastebestaandes van ’n kankerpasiënt word dikwels geweldig emosioneel en dan hoor ons dinge soos ‘My ma se lewe is enigiets werd’. Ná die tyd sê hulle altyd hulle moes verder gedink het, meer navorsing gedoen het, of selfs net die dokter vir afslag gevra het. Dit beteken nie jy heg nie waarde aan die persoon se lewe nie; dit beteken jy tree verantwoordelik op. Onthou: elke bietjie wat bykom, dra by tot die uiteindelike koste.”

LEES: Hoe betaal jy vir kankerbehandeling?

Laaste wense

“Baie mense wil graag by die huis wees wanneer hulle sterf en dikwels is dit om godsdienstige redes. Maar dood en siekte tuis kan ’n geweldige emosionele impak hê op die mense wat agterbly, veral kinders. Die lewe is nie soos ’n fliek nie – dinge werk nie altyd so netjies uit soos jy dit graag in jou eie draaiboek sou wou skryf nie. Praat dus met jou geliefdes en maak jou wense betyds duidelik. Sodoende hoef niemand op die nippertjie rond te skarrel om te probeer onthou wat jou gunsteling-blomme was, of watter kos by jou roudiens voorgesit moet word nie.”

LEES: Leef lig en beplan vir die ergste 

Artikel 13 _CTA