Article 11Nominations
Sterker saam

Ons is sterker saam – Deel 2 #StrongerTogether

Ontmoet ’n paar van die vroue wat benoem is in die #StrongerTogether-veldtog vir kankerbewustheid.

Cathy Bhagwandin, Lenasia

Cathy benoem haar skoonsuster Yvette Bhagwandin.

“My skoonsuster is gediagnoseer met ’n seldsame tipe borskanker, bekend as Triple Negative Breast Cancer. Met ondersteuning, baie aanmoediging asook haar eie vasberadenheid het Yvette haar siekte oorkom. Sy is tans in remissie. Ten spyte van die feit dat sy ’n mastektomie gekry het, was sy kalm en kragtig. En sy lyk deesdae vir ons mooier as ooit tevore!”

Bina Coetzee, Krugersdorp

Bina benoem haar ouers, Danny en Susan Coetzee.

“In 2013 is my pa gediagnoseer met fase 4-prostaatkanker. Sedertdien bekommer hy hom geweldig oor my ma wat alleen moet agterbly, omdat sy ook ’n paar ernstige siektes het soos velkanker en emfiseem. En sy is erg ondergewig. Om vir haar voorsiening te maak ná sy afsterwe, het my pa vorendag gekom met ’n fantastiese nuwe motorproduk waarin ’n groot voertuigvervaardiger belangstel. Ons hou almal styf duimvas dat hierdie ding gaan werk! Dis al wat hom nog aan die gang hou. Hy wys vir ons almal wat ’n sterwende man kan vermag en bewys dat ware liefde altyd sal seëvier.”

Fatima Pasha, Goodwood

Fatima benoem haar man, Nizaam, seun Haydher (13) en dogter Hana (9).

“Ek is met borskanker gediagnoseer in Mei 2014, toe ek 39 was. Ek was bang, maar my gesin het my deurgedra. Ek is ’n finansiële adviseur en skielik was ék die ‘kliënt’ in die dokters se spreekkamers! In Desember 2014 het ek ’n mastektomie en herkonstruksie gehad. Binne vier maande moes ek my eierstokke laat verwyder, om kanker van die eierstokke te vermy toe die ‘Afrikaner BRCA1’-geen by my gevind is tydens genetiese toetsing. Deur dit alles het my man en twee kinders my op die hande gedra. Tydens my laaste ondersoek het ek gehoor dat ek in remissie is. Ek is terug by die werk en voel of ek my lewe terug het.”

Leigh Anne van Rooyen, Humansdorp

Leigh Anne benoem haar suster Natalie Lohrentz.

“Ek was saam met my suster by die radiografis toe sy hoor sy het borskanker. Gelukkig het die kanker in daardie stadium nog nie versprei nie. Sy het behandeling ontvang en dis nou 10 maande later. Sy’t gehoor daar is vir eers geen verdere chemo nie; dis wonderlik. Ons bly ver van mekaar af, maar ek weet sy het ’n klomp mense wat vir haar omgee en dit maak my hart rustig.”

Elsie Schoeman, George

Elsie benoem haar dogters, Karla (12) en Emma (10).

“My twee blondekop-dogtertjies het met kanker grootgeword. My man, Fanie, is in 2008 gediagnoseer met kolonkanker toe hy 36 was. Toe ons in 2013 vir hulle moes sê dat pappa nie meer lank by ons gaan wees nie, moes ek aanskou hoe my engeltjies se harte breek. Daardie gesprek was my en Fanie se moeilikste een, want hy moes sy prinsesse begin groet. Maar dieselfde yster wat in sy are was, vloei ook in hulle. Ná sy dood het hulle my leermeesters geword; my ankers. Ek’s bevoorreg om mini-replikas van hom te hê om my elke dag te herinner dat selfs wanneer kanker jou deur die hel sit, jy en jou gesin sterker anderkant kan uitkom.”

Karlien de Wet, Johannesburg

Karlien benoem haar ma, Kitty Potgieter.

“My pa is in 2011 oorlede aan breinkanker. Hy was in en uit hospitale, het drie breinoperasies ondergaan en heelwat chemo-sessies deurgesit. My ma het haar lewe opgeoffer om na hom om te sien. Sy het ophou werk en was 24 uur per dag by hom. Om te sien hoe my pa wegkwyn was swaar vir ons almal, maar my ma het sterk gestaan – al was my pa altyd die sterk een. Sy het hom versorg en liefgehad tot aan die einde. Sy woon nou alleen en moes haar leefstyl aanpas omdat my pa se inkomste nie meer daar is nie, maar sy doen dit steeds met ’n glimlag. Elke dag.”

Sara Smit, Struisbaai

Sara benoem haarself.

“In Desember 2005 het ek ongemak ervaar in my linkerbors: uiteindelik moes ek ’n mastektomie kry op 43. Ek is ’n baie positiewe mens en met die ondersteuning van my man en personeel het ek die operasie en behandeling oorleef. Drie maande later was my regterbors seer en ’n tweede mastektomie is toe op die kaarte. My droom om ’n eie besigheid te begin het in duie stort. Dié keer moes ek vir ses maande chemoterapie kry. Nogtans herstel ek wonderbaarlik goed en kon ek weer begin werk. Vandag is ek ’n kanker-‘survivor’. Onthou: Daar is altyd hoop as ons glo!”

Lana Laughlan, Johannesburg

Lana benoem haar man, Jimmy.

“Ek is met borskanker gediagnoseer in 2013 en het ses maande van chemo ondergaan, ’n gedeeltelike mastektomie en ses weke se radioterapie. My wonderlike man was heeldag en aldag daar vir my. Hy’t alles by die huis gedoen en selfs skoongemaak as ek naar geword het. Ek is kankervry verklaar in 2014, maar ses maande later is ek met long-, bors- en limfkanker gediagnoseer. Deur dit alles was hierdie wonderlike man aan my sy. Hy sê elke dag hoe mooi ek vir hom is en hoe lief hy my het.”

Jerminah Tsatsi, Johannesburg

Jerminah benoem haarself.

“Ek is in 2014 met borskanker gediagnoseer. Dit was die slegste nuus óóit; ek’t gedink my lewe is verby. Ek was baie geskok, want ek was net 26 en daar is geen kankergeskiedenis in ons familie nie. Ek’t gedink ek gaan sterf en ek gaan my tweejarige seuntjie moet agterlaat. Gelukkig was my limfnode-biopsie skoon en het ek slegs ’n gedeeltelike mastektomie nodig gehad. Nou is ek vir eers klaar met kankerbehandeling en drink ek net elke dag ’n pil. My familie het my aan die gang gehou en ek’t geleer dat ek ’n sterk jong vrou is wat nie deur kanker gedefinieer hoef te word nie.”

Ontmoet die inspirerende vroue in die eerste groep benoemings van die #StrongerTogether-veldtog.

Deel jou storie en inspireer ander