only use on 1life campaign
Sterker saam

Twee dapper vroue leef met kanker

Elke kankerlyer se reis het twee bane – een vir die pasiënt en die ander vir versorgers, geliefdes en ondersteuners.

“Ek het nooit gedink ek sou kanker kry nie. Dis iets wat met ander mense gebeur,” sê Jane Eagar (51) van Muizenberg, ’n kunsredakteur wat twee jaar gelede met borskanker gediagnoseer is. “Ek was natuurlik geskok, maar ek het onmiddellik my energie gefokus – en doen dit steeds – om gesond te wees, positief te bly en dankbaar te wees. Ek bestee nie baie tyd aan al die hoekoms en waaroms nie.”

Anjolien Brink (38) van Krugersdorp is weer aan die ander kant van die stryd. Sy moes sowel versorger as ondersteuner wees vir haar man, Stephan (40), toe ’n klein kolletjie aan die kant van sy neus hul lewe vir ewig verander het. Hy is met velkanker gediagnoseer.

Anjolien onthou: “Die dokters het twee keer vir ons gesê dis nie velkanker nie. Stephan het selfs begin dink ek is paranoïes. Maar die derde dokter by wie ons was, is ’n plastiese chirurg. Hy het my man een kyk gegee en bevestig wat ek gevrees het. Drie dae later is Stephan opereer.”

Anjolien het voorheen as onkologie-suster gewerk. Sy sê: “Dís hoekom ek aanhou karring het dat hy moet dokter toe. Dit wys jou net – kanker tref geen onderskeid nie.”

Die uitslag van die operasie was nie dit waarop hulle gehoop het nie. ’n Gedeelte van Stephan se neus moes verwyder word en herkonstruksie kon eers ses maande later gebeur sodat sy liggaam eers ten volle kon genees. Die familie het ’n uiters moeilike ses maande in die gesig gestaar.

Danksy haar agtergrond in verpleging kon Anjolien self die wond versorg. Sy het ook besef sy moet hul twee kinders by Stephan se herstelproses betrek om die gesin bymekaar te hou. Dit het gewerk: Stephan se siekte het hulle nader aan mekaar gebring en hulle kon mekaar ondersteun.

Dag vir dag

Jane sê: “Kanker is nie ’n vinnige storie nie. Mens het tyd nodig om te herstel. Ek het geen ander keuse gehad as om dinge dag vir dag aan te pak nie. My benadering was om gereeld met my dokters te praat, elke dag daarop te fokus om positief te bly en te bly glo ek is sterk genoeg om dié ding te oorkom – maak nie saak hoe oorweldigend dit soms was nie. Ek het nie veel energie gemors op wat-as-vrae nie en ek het geen internet-speurwerk gedoen nie; dis eerlikwaar nie die moeite werd nie.”

Anjolien sê geloof en familie is die twee steunpilare waarop sy die meeste vertrou het. “My benadering was om oomblik vir oomblik hierdeur te gaan. Ek het gekonsentreer op die ses maande totdat Stephan se herkonstruksie kon plaasvind. Elke pasiënt, elke versorger, elke geliefde – almal van ons het ondersteuning nodig. My man en ons twee kinders, my ma, my tweelingsuster (ook ’n onkologie-suster) en my ouer suster – hulle het my staande gehou en ons in gebed gedra.”

Kyk vorentoe

Jane sê haar kankerdiagnose het ongetwyfeld haar lewensuitkyk verander. “Ek het besef elke mens dra ’n kruis: dalk is hul storie net so vreesaanjaend soos myne, maar dit kan nie in een woord opgesom word soos kanker nie. Ek kry nie ’n goue ster omdat my diagnose met ’n groot K kom en ’n lang operasie vereis nie. Elkeen van ons kan doen met ’n bietjie koestering. Ek dink ek het sagter en meer empaties geword ná my diagnose.”

Vir Anjolien en haar gesin het dinge op praktiese maniere verander. “Ons ignoreer nooit meer veranderinge in ons eie liggame sonder om ’n dokter te gaan sien nie. Die kinders praat gereeld met hul maats oor hoe mens kanker kan klop. Hulle werk ook as vrywilligers in kankerbewustheidsveldtogte waaraan ek en Stephan deelneem. Hy het begin om sportgeleenthede te organiseer en vir mense te vertel hoe om veilig in die son te wees – veral ons Afrika-son! Ons gesin lééf regtig ons ‘handelsmerk’,” lag sy.

Jane sê die oorweldigende gevoel wat by haar posgevat het, is dankbaarheid. “Ek is dankbaar vir toegang tot onmiddellike mediese sorg, vir die finansies om daarvoor te kon betaal, vir die feit dat ek al twee jaar in remissie is en natuurlik vir gawe, vrygewige, liefdevolle en ondersteunende familie, vriende en kollegas. Meer as enigiets is ek dankbaar dat ek en my man ons kosbare klein dogtertjie saam kan sien grootword.”

Is jou lewe geraak deur kanker? Inspireer ander met jou storie #StrongerTogether

Deel jou storie of iemand wat jy ken se storie HIER

Kankerdekking kan ’n hulpmiddel wees wanneer jy dit nodig het. 1Life het ’n polis vir vroue en kinders geskep wat geldelike bystand gee as jy met kanker gediagnoseer word, asook ander nodige en relevante voordele. Klik hier vir meer oor 1Life se All Woman-polis.

Vrywaring

Die opinies en ervaringe wat deur die mense in hierdie persoonlike vertellings gedeel word, is geensins daarop gemik om enige produk of diens te bemark of te ondersteun nie – nie kommersieel, in die kleinhandel of andersins nie.