Article7
Sterker saam

Wanneer kinders kanker kry

Drie dapper jongmense praat oor hoe hulle die stryd teen kanker aangepak het.

Arno Bouwer, Krugersdorp

Toe hy 16 was, het Arno gehoor daar is ’n kwaadaardige gewas in sy brein. Hy het langs sy ma, Anita, gesit toe die dokter verduidelik wat die skandering gewys het. Later sou Arno vir haar sê: “Ek het eers gedink hierdie klink nogal rof, maar ek veronderstel daar is dokters vir ’n rede. Ek het nie toe besef hoe ernstig dit was nie – hierdie is breinkanker; nie speletjies nie.”

Arno se gewas was seldsaam en Anita sê hulle kon net 11 gevallestudies van soortgelyke gevalle wêreldwyd opspoor. “Ná ’n groot breinoperasie moes Arno nog radioterapie en ook chemoterapie kry en daar was geen waarborg dat hy sou herstel nie. Hy het dit alles met sy unieke humorsin aangepak, en sy kitaar! Die dae waarop ons die kitaar gehoor het, het ons geweet hy voel weer ’n slag beter.”

Vandag is Arno gesond en staan hy aan die einde van sy skoolloopbaan, met planne om universiteit toe te gaan. Hy lag as hy vertel die kanker het hom eintlik ‘n beter voorkoms gegee, want sedert sy hare ná chemo teruggegroei het, is hy nou skielik ’n krulkop. Hy het selfs sy “makeover” gebruik as sy unieke verkoopspunt toe hy vir die skool se leerlingraad gestaan het.

Deané Grobler Basson, Amsterdam, Mpumulanga

Deané is net sewe jaar oud, maar in haar kort lewe het sy al herhaaldelik die wipplank van siek- en gesond-wees gery. Haar ma, Colette, sê: “Sy was nog nie eens een jaar oud nie, toe begin sy siek raak – die simptome was soos dié van griep en verkoue, sy was dikwels naar met ‘n hoë koors. Meer as ses maande later, insluitend verskeie rondes antibiotika en hospitaalbehandelings, was daar steeds geen sekerheid oor wat met my kind fout is nie. Toe besluit ek om vir ’n tweede opinie te gaan aanklop. Sy is uiteindelik met AML-leukemie gediagnoseer, ’n soort bloedkanker. Ná behandeling was sy in remissie, maar die volgende jaar was die kanker terug – ons harte het weer in stukke gebreek. Gelukkig kon sy ’n beenmurgoorplanting kry danksy ’n skenker wat in Suid-Afrika gevind is – dis ‘n ongelooflike storie.”

Vandag is Deané se lyfie stokstyf as gevolg van Graft Versus Host Disease (GVHD), ’n algemene newe-effek van sulke oorplantings, maar niks bring dié dogtertjie van stryk nie. In 2013 is sy graad RR toe en in 2014 het sy die gr. R-toekenning gekry vir beste leerling by haar skool.

Zizipho Malinge, Mlungisi, Queenstown

Zizipho het op vyfjarige ouderdom gehoor sy het nierkanker. Vandag is sy 22 en reeds 17 jaar lank in remissie. Sy onthou: “Ek was so klein dat ek nie geweet het wat aangaan nie. Ek was bang om dood te gaan, maar my ma het bly sê ek gaan leef. En my broer en drie susters, almal ouer as ek, het my superspesiaal laat voel elke keer dat hulle vir my in die hospitaal kom kuier het.”

Haar boodskap? “Dis nie die moeite werd om hartseer deur die lewe te gaan nie. Sê vir mense waardeur jy gaan. Dit help hulle verstaan en dan baat julle almal daarby.”

KINDERKANKER-ORGANISASIES

Childhood Cancer Foundation South Africa (CHOC)

086 111 3500 | www.choc.org.za

Reach for a Dream

011 880 1740 | www.reachforadream.org.za

Is jou lewe geraak deur kanker?

Inspireer ander met jou storie #StrongerTogether

Is jou lewe of dié van iemand na aan jou deur kanker geraak? Deel die storie en inspireer ander, en staan ’n kans om deur 1Life verras te word met ’n paar onvergeetlike dae in Kaapstad.   #StrongerTogether

Maak seker dat jy en jou kinders voldoende dekking het. Lees meer oor die 1Life All Woman-polis of SMS “woman” na 42711 en 1Life sal jou terugbel.

Deel jou storie en inspireer ander