FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Gesond

Vitamien D vir verkoue – die nuwe vitamien C?

Een uit 5 kinders in SA het ’n tekort aan vitamien D. En tot 2 uit 3 Suid-Afrikaners kan doen met ’n bietjie van dié sonskyn-vitamien. Dis die bevindings van twee afsonderlike studies.

Dit ten spyte daarvan dat ons land geseën is met ’n oorvloed sonskyn  – die hoofbron daarvan. Jy moet 20 minute per dag in die son kom vir jou dosis D. Die vangplek: Dit moet sonder sonskerm wees.

In Amerika is dit die vitamienaanvulling wat die beste verkoop, selfs meer as multi-vitamiene.

Want hoor net hier: Amerikaanse navorsing wys vitamien D-aanvullings kan kinders se risiko vir griep met tot 42% verminder. En dis net so belangrik as vitamien C, selfs meer, om jou liggaam te help om teen verkoue en griep te veg. Inderdaad het ’n oorsig van 72 studies geen beduidende effek van vitamien C-aanvullings op verkoue gevind nie. Die C in groente en vrugte het wel ’n positiewe uitwerking.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Dis góéd vir jou

• Sonlig stimuleer die produksie van serotonien, die liggaam se sogenaamde goedvoel-hormoon. Dit verbeter dus jou bui, keer depressie, laat jou beter slaap en kan jou selfs help om gouer van reisroes te herstel.

• Dit gee jou immuniteit skop. Vitamien D is noodsaaklik om jou immuunstelsel se “vegters” te aktiveer en jou dus te beskerm teen van griep en voedselvergiftiging tot selfs kanker, volgens Deense navorsing.

• Dit verlaag cholesterol. Volgens Britse navorsers is dit waarskynlik die rede waarom mense in die kouer noordwestelike dele van Europa meer aan hartsiektes sterf as in die sonnige Mediterreense lande.

• ’n Tekort daaraan kan tot vetsug lei, aldus Skotse navorsing. Dit beheer die hormoon leptien wat jou brein laat weet jy is versadig. As jy aan vetsug ly, produseer jy ’n tiende minder vitamien D as mense wie se gewig normaal is.

• Vitamien D help jou liggaam met die opname van kalsium. Dis dus noodsaaklik vir beengesondheid en osteoporose.

• Lae vlakke word gekoppel aan onvrugbaarheid, endometriose en polisistiese-ovarium-sindroom. Dit kan dalk ook ’n rol speel by pre-eklampsie (hoë bloeddruk tydens swangerskap), vroeë geboortes, bakteriële vaginale infeksies en gestasie-diabetes, ’n toestand wat laat in swangerskap verskyn en gewoonlik daarna verdwyn.

• Hoë vlakke van vitamien D word gekoppel aan ’n laer risiko vir Alzheimer se siekte, volgens ’n Franse studie. En Amerikaanse navorsers het bevind lae vlakke van die vitamien by ouer vroue word verbind aan ’n groter kans dat die geheue verswak.

Mood Unsplash Son

Onthou dié algemene riglyne

• Kom minstens 4 – 6 keer per week sowat 20 minute per keer in die son. Jy moet ’n veloppervlakte gelykstaande aan jou gesig en voorarms aan die son blootstel (sonder sonskerm). Doen dit in die somer voor tienuur soggens en ná vieruur smiddae. Veral mense wat heeldag op kantoor is, moet tyd maak om in die son te kom, naweke of smiddae ná werk. Maar moenie in die son braai nie.

• Dis moeilik om vitamien D net deur jou kos in te kry. In Europa word dit juis om dié rede veral by suiwelprodukte gevoeg. Bronne is eiers, salm, tuna (die vetterige rou soort, nie die blikkies nie), sardientjies en volroommelk. Visolie (soos lewertraan) is ook ryk daaraan.

• Aanvullings. As jy nie ’n tekort het nie, kan jy 200 IU per dag neem, sê die geregistreerde dieetkundige Mariza van Zyl. Neem dit saam met kalsium en magnesium sodat al drie optimaal opgeneem kan word, beveel sy aan. (Kalsium 600 – 900 mg/dag, magnesium 300 – 450 mg/dag.) Vitamien D₃ (cholekalsiferol) is meer doeltreffend as D₂ (ergokalsiferol). Jy het vir D₃ gewoonlik ’n voorskrif nodig. As ’n bloedtoets wys jy het ’n tekort, moet jy aanvullings onder toesig van ’n dokter neem. Die Amerikaanse vitamien D-raad beveel dan 5 000 IU/dag aan.

• Sonbeddens? Nee! Dit blokkeer meestal die son se UVB-strale (wat nodig is vir die vervaardiging van vitamien D), maar nie die UVA-strale nie. Dit is ’n risikofaktor vir melanoom, sê dr. Izolda Heydenrych, ’n dermatoloog van Kaapstad.

*Dis-Chem het Augustus as vitamien D-bewusmakingsmaand verklaar

Lees nou

Eet jou verkoue weg

Eet sjokolade sonder skuldgevoel

Oefenprogram van nét 12 minute