FOTO Instagram / @karliekloss

Gesond

Wêreld-slaapdag: Satynkussing = jong vel

Dut, kiep, uiltjie knip, doeks, slaap, Vrydag is Wêreld-slaapdag. Het jy geweet? Omtrent 40 persent van alle Suid-Afrikaners kry nie genoeg slaap nie. 

Vinnige feite:

– Pasgebore babas slaap 14-17 uur per dag.

– ’n Kameelperd benodig minder as 2 uur slaap per dag.

– 1 055,6 uur is hoeveel slaap ’n ouer in sy of haar kind se eerste lewensjaar verloor.

– 2/3 van ’n kat se lewe word gewy aan slaap.

Bron: Time

FOTO Unsplash / nomao saeki

FOTO Unsplash / nomao saeki

Volgens Anton Fourie, ’n kliniese tegnoloog van die Milnerton-slaapkliniek, is ’n goeie bed en kussing noodsaaklik.

“Gemak verseker dat jy ’n goeie nagrus het. Jy het ook die regte kussing nodig om jou lugweg te ondersteun.”

Bron: The Westin Cape Town

FOTO: Unsplash

FOTO: Unsplash

Dié kussingslope hou jou jonk

Hoewel ’n sy- of satyn-kussingsloop jou nie oornag jonger gaan laat lyk nie, glo die SARIE-skoonheidspan dat dié eenvoudige kop(kussing)skuif wel ’n paar voordele vir jou vel en hare kan inhou …

1. ’n Vogtige vel

Die vesels van sy- en satynstof absorbeer minder vog as dié van materiaal wat hoofsaaklik van katoen gemaak word. Daarom sal daar minder vog uit jou vel getrek word, veral as jy geneig is om op jou maag of sy te slaap. En ’n vogtige vel is ’n gesonde vel.

2. Dis sysag

Ons almal ken die luukse, sagte tekstuur van sy en satyn. Wanneer jy in jou slaap beweeg, help dié materiale dat jou vel oor die kussingsloop gly pleks daarvan dat dit daaroor skuur. Só kan ’n sy- of satyn-kussingsloop rooiheid en ’n growwe veltekstuur verminder.

3. Hare wat blink

’n Kussingsloop van sy of satyn hou boonop dieselfde voordele vir jou hare in as vir jou vel. Wanneer jy beweeg, gly jou hare makliker oor hierdie sagter materiale as oor dié met ’n growwer tekstuur soos katoen. Omdat daar dan minder wrywing op jou hare is, kan dit gesplete punte en hare wat breek verminder. Minder vog word ook uit jou hare getrek en dít kan kroeserigheid en statiese hare verminder, veral tydens die droë wintermaande.

Vir al die voordele klik hier.

slaap gif

Lees nou

Appel by die #SARIEfees

Brak se nederlaag verwarm harte

Roete 62 is tops, meen wêreld