FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Hoe klink jóú Afrikaans?

Bobby “veg” in Afrikaans

Daar is net iéts aan Afrikaans. ’n Hartsding.

Afrikaans is kleurryk, Afrikaans het ritme, Afrikaans het seggenskap en Afrikaans het nut! Afrikaans is uniek en Afrikaans is universeel. Afrikaans is … oppibôl! Só skryf hulle op afrikaans.com – die splinternuwe platform vir enigiets en alles Afrikaans.

Maar elkeen se Afrikaans lyk anders. Van SA se grootste sterre gesels met ons oor húl Afrikaans …

HemelBesem verskuif grense

Op sy linkerarm is die woord “silence” getatoeëer. Want wanneer kletsrymer HemelBesem, oftewel Simon Witbooi, die mikrofoon vat en Afrikaanse woorde begin uitspoeg, wil hy hê jy moet stilbly. Luister. En dink.

“Wat sê jy?” groet Simon Witbooi. (Of Hemel, of Besem.) Jou keuse. En “lekker man, lekker”. Sy oë, lewendig, blink, kyk jou vas aan. ’n “Strak” blik, beskryf die geskiedskrywers sy groot-grootoupa, kaptein Hendrik Witbooi, Namakoning en Namibiese volksheld. Jy kry skoon rillings as jy kyk na die Namibiese N$10-, N$50-, N$100- en N$200-banknoot met sy gesig daarop.

Daai oë, daai kyk, selfs die bokbaard deel hy met sy nasaat.

Simon is die man wat Steve Hofmeyr se “Pampoen” ’n hip-hop-straatkleed aangetrek het. Hy stel ook Anneli van Rooyen se “Ek wil jou ken” aan ’n nuwe generasie Afrikaanssprekendes voor.

Verwerkings van Karin Hougaard se “Kruietuin” en Carike Keuzenkamp se “Kaalvoet in die reën” kom nog.

Simon, Hemel, of Besem: Hy is lief vir Afrikaans en verskuif gereeld die grense daarvan.

Hip-hop in Afrikaans

“Dis seker die grootste musiekgenre tans in ons land. In alle tale, behalwe Afrikaans. Ons hip-hop-broers in die ander tale draai hul rug op ons Afrikaanses. As jy Afrikaanse hip-hop sê, dink baie mense boonop aan Jack Parow en Die Antwoord, dis wat hulle ken en verstaan. Afrikaanse hoofstroom-radiostasies is ook skrikkerig vir hip-hop, behalwe ’n liedjie of twee van Jack Parow.

“Jy sit dus met daai chasm: jy hoor die donderstorm van Afrikaanse hip-hop êrens, maar sien dit nog nie. Dis egter besig om groot te raak. Verlede jaar by die KKNK het ek en [die hip-hop-kunstenaar] Earl voor sowat sesduisend mense opgetree. In my program op RSG, Straatpredikante, konsentreer ek hoofsaaklik op Afrikaanse hip-hop. Ek verduidelik die liedjies, konsepte en Afrikaanse straattaal. [Dis was tot einde Maart op die lug.]“

Kry jy ooit te doen met mense wat dink jy praat nie Afrikaans “reg” nie?

“Ek is ’n Pasella-aanbieder. En spreek dalk sekere woorde anders uit, maar ek moet eie bly aan wie ek is. Dit vat tyd vir sommige mense om daaraan gewoond te raak. Maar Afrikaanssprekendes is eintlik lief vir enige vorm van Afrikaans. As hulle by jou show is, in konteks hoor en sien hoe jy praat, love hulle dit. Dit doen meer vir die taal as die puris se idee van Afrikaans.”

FOTO Ronald Berwers Photography

FOTO Ronald Berwers Photography

*Dit is ’n verkorte weergawe van ons onderhoud met HemelBesem in ons April 2016-uitgawe. Lees die volledige onderhoud wat Lydia van der Merwe gedoen het in die digitale weergawe van die tydskrif.

Bobby van Jaarsveld veg in Afrikaans

Onse Bobby, die hartedief met die outjie-van-langsaan-persoonlikheid was tot verlede week toe nog elke Sondag op die kassie as mentor op The Voice SA.

In die eerste paar weke van dié program kon deelnemers sing vir ’n plek in die kompetisie. Bobby vertel in ons Maart 2016-uitgawe dit is “flippen moeilik” as jy en van die ander mentors dieselfde deelnemer kies. Dit gebeur gereeld en dan moet hulle hulself “verkoop” – en die deelnemer besluit in wie se span hy/sy wil wees.

bobby

FOTO M-Net

“Die ander ouens (Lira, KAHN, Karen Zoid) het sterk persoonlikhede en ek is op my plek. Dan moet ek veg. In Engels, nog erger. Ek sou my saak soveel beter in Afrikaans kon stel, ek sou vurig gewees het.”

Dan het hy ook soms die Afrikaanse deelnemers probeer oorreed – in Afrikaans – op sy skaam manier, soos net Bobby kan. Kyk dié video waarin hy vir Nolene Olivier oorreed om in sy span te wees.

Besoek afrikaans.com en wys hoe lyk jóú Afrikaans en jy kan groot pryse wen!

Hipster 1667 × 833