Dít laat jou dink

  • As ek in my lewe maar net . . . 'n lewe getrou aan myself te leef

    As ek in my lewe maar net . . . 'n lewe getrou aan myself te leef

    SARIE Junie 2012

    Baie van ons is spyt oor dinge wat ons nooit gedoen het nie.
’n Verpleegster wat met sterwendes werk, het 
5 dinge op die internet gedeel waaroor mense veral berou het. Elke dag dié week kyk ons na 'n spesifieke versugting.

    Ek wens ek het die moed gehad om ’n lewe getrou aan myself te leef, nie die lewe wat ander van my verwag het nie

    James de Villiers, sielkundige van Kaapstad sê:

    Die dood laat jou dink oor wat die lewe werklik is. Dit is veelseggend dat so baie sterwendes verwys na die behoefte om meer getrou aan hulself te wees. Dis asof hulle helderder sien. Hulle besef wie hulle regtig is. Hulle raak meer bewus van die “ware self”, wat onsterflik is en onafhanklik van die liggaam en brein bestaan.

    Dr. Bruce Greyson, gerespekteerde Amerikaanse navorser oor byna-dood-ervarings, verwys na die helderheid van jou ervarings in die aangesig van die dood. En dié helderheid van insig laat jou dan anders, soms radikaal anders, na jou lewe kyk. En daarna ook anders lewe (sou jy nie sterf nie). Alles val in plek.

    Daar is ook ’n ander self. Die “aardse self” wat sy eie lewe wil lei, maar terselfdertyd afhanklik is van dinge en mense om te oorleef. Dié self is bang vir verwerping, seerkry en straf. Jy wil graag jou drome uitleef, maar uit vrees vir verwerping neem jy besluite en tree teen jou beterwete op. Dit
 kan enige besluit wees: oor ’n loopbaan of huwelik; of om stil te bly toe jy moes gepraat of opgestaan het vir dit waarin jy regtig glo en wil hê. Of om uit vrees vir seerkry jouself te pantser teen liefde eerder as om spontaan jouself te wees.

    Jou “aardse self” baklei teen jou “ware self” en wil sy eie geluk skep. Maar eers as die swaarkry te groot word, kom jou “ware self” na vore. En besef jy dit was onnodig om jouself so deur vrees te laat beheer. Dat jou “ware self” onvoorwaardelik goed is. En jy vry is om jou potensiaal uit te leef en die lewe se oorvloed te geniet.

    WAT IS JOU KOMMENTAAR HIEROOR?

  • 'Ek sien nou die lewe se moontlikhede'

    'Ek sien nou die lewe se moontlikhede'

    SARIE Junie 2012 | Kommentaar: 4

    Reené Wessels van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap het 'n jaar gelede werk bedank, finansiële sekerheid vaarwel geroep en haar passie - fotografie - haar loopbaan gemaak.

    Wat ek geleer het

    • Die lewe is kosbaar. Dit was nooit bedoel om maklik te wees nie, maar om die lewe vir jouself mooi te maak help al klaar.
    • Die moeilikste les wat ek moes leer, is om positief te wees.
    • Die belangrikste verhouding wat jy kan hê, is die een met jouself. Ek moes selfvertroue aanleer. Mense voel selfvertroue aan en is geneig om hulle te assosieer met ander wat baie daarvan het.
    • Ek leer elke dag meer van myself. Dis tog waaroor die lewe gaan, om iets nuuts te leer, al is dit oor jouself.
    • Werk hard om jou droom waar te maak.
    • Ons almal maak foute. Wanneer jy daaruit leer, is lewensukses binne bereik.

    Kyk na haar foto's by www.reenewessels.blogspot.com

  • Het jy jou passie vir jou werk verloor?

    Het jy jou passie vir jou werk verloor?

    SARIE Junie 2012

    Dis menslik dat jou entoesiasme vir jou werk soms taan. Maak dan só

    Vermy roetine
    Probeer iets nuuts. Skuif die goed op jou lessenaar rond, moenie elke dag op dieselfde tyd ’n sekere taak doen nie, eet jou middagete ’n slag buite of dra daardie parfuum vir spesiale geleenthede werk toe.

    Doen selfondersoek
    Dink oor jou sterk punte, jou talente, vaardighede en passies. Vra: Wat wil ek bereik in my lewe? Dit sal jou help om jou dag met groter fokus aan te pak.

    Herevalueer jou loopbaan
    Vra: Wat het ek nodig wat ek nie uit my werk kry nie? Meer uitdagings, erkenning, verskeidenheid, geld? Skryf neer wat jy wil verander. Fokus op wat jy dadelik kan doen en begin sommer vandag. Elke verbetering sal jou meer gemotiveerd laat voel. As jy bv. meer verskeidenheid soek, dra doelbewus by tot ’n ander afdeling.

    Neem verantwoordelikheid
    Dis net jý wat weer jou passie kan ontsluit, selfs al beteken dit werkverandering.

    Leer iets nuuts
    Dit sal jou motiveer, inspireer en waarde tot jou as werknemer toevoeg. Of lees blogs vir nuwe idees.

    Bron: www.profitimpressions.co.za
    Kontak: info@profimpressions.co.za

  • Michélle van Breda raak liries oor rooi . . . en rooikoppe

    Michélle van Breda raak liries oor rooi . . . en rooikoppe

    SARIE Junie 2012

    Dis die kleur van liefde en geluk. Van passie en skoonheid, maar ook van woede, obsessie en gevaar.

    Dit definieer Mars, daardie vulkaan-planeet, maar simboliseer terselfdertyd die rustigheid van ’n sakkende son. Dís nou maar eenmaal rooi se storie. Van die vroegste tye is dit ’n kleur van teenstrydigheid, en die skakering wat die meeste emosie by ons aanwakker, verklap vele studies.

    Warm nuus is dat rooi hare die internasionale kollig nou soos ’n brander tref. In ons skoonheidstorie op bl. 108 (in die Junie 2012-uitgawe) sê die tendensvoorspeller Li Edelkoort rooikoppe gaan die mode- en skoonheidswêreld op sy kop draai. Aarbei-blond tot diep-amber sal die kleur wees wat ons almal, vroue en mans, begéér. Dit sal die voorkoms van die tyd wees.

    Ek juig saam met elke rooikop, want niks is mooier as ’n bos vlamrooi hare nie. Saam met ’n ligte vel en oë en sjarmante sproete is dit nuut en verfrissend ná die oorheersing vir dekades van ons brunette en blondines. Hierdie is ’n wetenskaplike feit: net 2% van die wêreldbevolking het natuurlike rooi hare.

    Rooikoppe ís inderdaad uniek en besonders.

    Met rooi hare stap die geskiedenis ’n lang, vreemde pad. Egipte se Cleopatra was glo ’n rooikop, ook Napoleon en die komponis Vivaldi. So ook koningin Elizabeth I en die Bybel se Judas. Deur die eeue is rooikoppe op ’n troon geplaas 
en intens bewonder, maar net so genadeloos gespot, dikwels gevrees en verdryf. Want in ons wêreld word anders nie sommer aanvaar nie . . .

    Oor die rooikopkind Nicolas in my lewe het ek al  ’n paar keer hier geskryf. Die seuntjie wat van die begin af sy rooi hare en andersheid met ’n energieke onnutsigheid uitgeleef het. Totdat skoolboelies hom begin teiken het, en sy andersheid vir hom ’n emosionele struikelblok geword het. Uit die veld geslaan is ek dat “gingerism” vandag nog so ’n aaklige werklikheid is – ten aanskoue van ouers en onderwysers wat tog moet wéét dat hul kinders, hierdie boelies, hulle skuldig maak aan ’n vorm van diskriminasie.

    NicolasNicolas

    Dis nie net SA se probleem nie, dis ’n wêreldwye probleem waardeur rooikoppe al selfs tot selfmoord gedryf is. ’n Sterk stem gaan voortdurend internasionaal op om bevooroordeeldheid teenoor rooikoppe, ook in hul volwasse lewe, in dieselfde klas te sien as rassisme en haatspraak.

    So is ek toe nie verbaas nie toe ek “Redhead Day” op die internet raaklees. Elke jaar, aan die begin van September, vier derduisende natuurlike rooikoppe van oor die wêreld hul uniekheid in die Nederlandse stad Breda. Net om vir ’n slag nie uit te voel nie, maar eerder uitsonderlik, tussen mense wat verstaan.

    "Redhead Day"hans905 via flickr

    Wat is dit oor anders wat ons só beangs maak, en dan só bevooroordeeld teenoor ander? Want anders is net iets wat ons nog nie verstaan en verken het nie. Die aanvaarding van anders is juis waarin ons groei en verryking as mense lê. Dit ís 
soos die kinderboekskrywer Dr. Seuss sê: “Waarom inpas as jy gebore is om uit 
te staan?” Dis ’n waardevolle les vir elkeen van ons, en sommer ’n lewensmotto 
vir elke wonderlike rooikop.

    - Michélle van Breda, Junie 2012

    * Vir dié redakteursbrief is my hare digitaal rooier gemaak! As jy jouself as ’n rooikop 
wil sien, probeer hierdie gratis aanlyn-mooimaak-sessie

  • Ontspan in 60 sekondes

    Ontspan in 60 sekondes

    SARIE Mei 2012

    Kalmeer jou gedagtes én senuwees met dié vinnige oefening.

    Lê op jou rug en staar na die plafon.

    Tel stadig terug van 60 tot by 0.

    As jy boontoe kyk, stimuleer dit die parasimpatiese senuwee-stelsel, wat jou bloeddruk verlaag en jou asemhaling stadiger maak.

    Die tellery sal help om ontslae te raak van jakkalsies in jou kop wat jou aandag aftrek.

    Bron: health.com

  • Hoeveel kJ bevat jou gunsteling-koffie?

    Hoeveel kJ bevat jou gunsteling-koffie?

    SARIE Mei 2012

    Caffè latte (740 kJ)
    • 225 ml volroommelk = 578 kJ
    • 10ml suiker = 162 kJ
    = 2 mediumsnye Hawaiise pizza

    Cappuccino volroom (676 kJ)
    • 100 ml volroommelk = 257 kJ
    • 100 ml skuim = 257 kJ
    • 10ml suiker = 162 kJ
    = 1 klein pakkie tjips, of 3 Provitas met 1 dun skyfie kaas, of 2 middelgroot vrugte

    Cappuccino laevet (578 kJ)
    • 100 ml laevetmelk = 208 kJ
    • 100 ml skuim = 208 kJ
    • 10ml suiker = 162 kJ
    = 1 sny rolkoek met konfyt

    Cappuccino-sakkie (316 kJ)
    • 1 sakkie wat jy self met warm water maak
    = 3 baba-aartappels

    Koffie met melk
    25ml volroom = 64 kJ
    = ½ Ryvita

    25ml laevet = 52 kJ
    = 1 gedroogde appelring

    25ml vetvry = 39 kJ
    = 2 medium-suurtjies (pickles)

  • Kikker jou dag (vinnig) op

    Kikker jou dag (vinnig) op

    SARIE April 2012

    5 minute. Dalk nie baie tyd nie, maar lank genoeg vir één ding. Maak seker dis iets wat jou dag in ’n meer positiewe rigting stuur. Hier’s ’n paar wenke.

    1. Wees dankbaar

    Dankbaarheid is ’n belangrike bousteen van geluk. Knyp elke dag ’n tydjie af en skryf ’n paar dinge neer waaroor jy dankbaar is -
groot én klein. Ons is te geneig om op die negatiewe te konsentreer.

    2. Asem diep 
in ... en uit

    Laat jou kop stil word en fokus op jou asem-haling. Herhaal dit
’n paar keer daagliks en voel hoe jou
 spanning verdwyn.

    3. Peusel aan iets

    Eet ’n vrug of gesonde happie (ongesoute neute of laevetkaas). Dit sal keer dat jy
’n pak tjips nader trek as die lus vir knaag 
jou oorval.

    4. Strek

    Lig jou arms bokant jou kop. Of loop ’n draai. Dit kan stywe spiere laat ontspan wat met stres gepaardgaan.

    5. Luister musiek

    Talle studies wys musiek kan jou bloeddruk verlaag, stres verminder en jou bui verbeter. Laai dus liedjies op jou MP3-speler wat jou laat glimlag.

    6. Ruik aan ’n suurlemoen

    Japanse navorsers glo dit verminder dalk die liggaam se veg-of-vlug-respons, m.a.w. stres.

  • Suzanne Steyn: "Jou grense beperk jou"

    Suzanne Steyn: "Jou grense beperk jou"

    "Jy beperk jouself dikwels deur die “grense” van jou realiteit, geskep deur jou omgewing, vriendekring, dorp, stad, ens."

    "Daar is dinge waarin jy onwrikbaar glo, mense/plekke/aktiwiteite waarvan jy nie hou nie. In ’n nuwe land besef jy al die klein reëltjies is eintlik irrelevant. Die mode is anders, die leefwyse, dit wat “koel” is. Dan besef jy, ja, behou jou beginsels en wat vir jou belangrik is, maar stel jouself oop vir nuwe dinge en ander denkwyses. Dit maak jou ’n meer volledige en verdraagsame mens." - Suzanne Steyn, Kwêla-aanbieder

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 92

Web Development by FormFunction