Leana Niemand
FOTO: verskaf

Leana Niemand FOTO: verskaf

Dit laat jou dink

Al om die wêreld

Sy weet nooit waar sy aan die einde van die dag gaan wees nie. Dís die toppunt van  lekkerte vir Leana Niemand van Kaapstad wat al sewe jaar alleen op haar fiets deur die wêreld ry

Dit het alles begin as ’n “mal” idee … twee pêlle, twee fietse, en die hele Afrika wat voorlê. Maar toe kom Leana Niemand en haar vriend Ernest Markwood in Egipte, en “daar is geen rede om te stop nie”.

Vandag, meer as 7 jaar, 104 801 km, 7 vastelande en 60 lande later, trap Leana steeds voort – sonder doel of plan, waar die wind haar waai, wanneer en hoe sy lus voel. Net sy alleen (Ernest trek iewers in Amerika), met al haar aardse besittings op haar fiets, genoeg ervarings vir vele leeftye en ’n asembenemende foto-album wat bekroonde fotograwe groen van jaloesie sal maak.

Noem maar op: Afrika, die Midde-Ooste, Oos-Europa, Suidoos-Asië, China, Australië, Suid-, Sentraal- en Noord-Amerika. Sy was al daar.

Oor elke nuwe land raak sy kinderlik opgewonde, en oor elke dag kan sy ’n boek vol skryf,  vertel Leana per e-pos uit Seoel, Suid-Korea. Sy verwoord moeilik haar beweegrede in ’n enkele sin. “Daar’s te veel redes! Ek hou van beweeg, die vryheid,
die onbekende, die uitdaging van elke dag, die min verantwoordelikheid, die feit dat ek alles saam met my kan dra, dat ek reis met pure trapkrag, ek’s mal daaroor om ’n grens oor te steek, ek is dol op die lewe …”
Die land waarin sy op daardie oomblik is, is gewoonlik haar gunsteling. “Elke land kom met sy eie geure, kleure, gewoontes, kos en taal. Maar mense bly mense, almal met dieselfde begeertes en behoeftes. Ons verskille is mensgemaak. Sommige plekke moet jy jou hare bedek, ander plekke moet jy jou skoene uittrek en op nog ander moet jy dit weer aantrek. Dit is al hierdie verskille wat lande so interessant maak.”

Daar is dikwels oomblikke wat haar lank bybly. ’n Indiese vrou in ’n kleurryke sari wat haarself ná die reën in ’n poel water was, sy kyk op en glimlag breed vir jou. Of ’n nag by die nomade in die woestyn in Sirië, wat toe vergesel word van ’n huweliksaanbod.

“Daar is selfs kamele aangebied!” Deur die jare het sy al ’n klompie rampe net-net  misgeloop. Vallende rotse tydens ’n rotsstorting langs die Karakoram-hoofpad in Pakistan het haar rakelings gemis. ’n Bomontploffing het ’n plaaslike mark in Islamabad, Pakistan, waar sy skaars tien minute tevore inkopies gedoen het, in puin gelê. En twee dae nadat sy in die stad Zamboanga in die Filippyne was, het lede van die Moro Islamitiese Bevrydingsfront die stad aangeval en sommige inwoners as gyselaars geneem. Om maar enkeles te noem. Maar noem jy haar dapper, lag sy.

“Die lewe op ’n fiets is baie makliker as die sogenaamde ‘normale’ lewe. Jy moet baie meer uithouvermoë hê om in die betonoerwoud te oorleef. Dapperheid is wanneer jy bang is om iets te doen, en dit steeds doen. Ek’s nie bang om te doen wat ek doen nie. ’n Goeie humorsin en common sense help!”

Op die vraag hoe sy geldelik oorleef, skerts sy: “Met heelwat moeite! Ek het geen borg nie. Ek het alles verkoop wat ek gehad het en het net my fiets en vier sakke. Bygesê, die mense langs die pad is dikwels goed vir my.”

Sy het haarself nog nooit beskou  as “vrou-alleen” nie. “Baie mense toer op hul eie, hoewel nou nie op ’n fiets nie. Ek is nie ’n alleenmens nie en dis vir my belangrik om met  mense langs die pad te gesels. Die meeste is baie nuuskierig oor my doen en late. My antwoorde laat hulle gewoonlik in verbasing na hul hart gryp.

“Hulle is meestal regtig vriendelik en wil gedurig hê ek moet by hulle kom oornag, pleks van langs die pad in ’n tent. Ek glo ook dis minder gevaarlik vir ’n vrou as vir ’n man, of
dalk is ek net gelukkig.”

Dinge raak veral interessant in lande waar jy nie die taal kan praat of lees nie.

“Hier in Asië staan ek geweldig uit. Almal staar my aan en wil saam met my afgeneem word. Nou die dag het ek by ’n eetplek aangesit. Die diens was wonderlik en die een gereg na die ander is voorgesit. Later kon ek nie meer nie, maar toe ek die rekening vra,
beduie hulle hulle wil nie geld hê nie. Ek besef toe eers dis nie ’n restaurant nie, maar ’n private woning!”

Onlangs het sy twee dae saam met ’n Chinese fietsryer gery, en al kon hulle mekaar nie verstaan nie, het hulle ver gekom met handgebare. In Hongarye, Roemenië en Bulgarye het sy ook saam met ’n vriend getrap.

“Geselskap is altyd lekker, maar dan het ek heelwat minder interaksie met die inwoners. Sulke wonderlike goed gebeur langs die pad. Ek wil niks misloop nie. Nou die dag trap ek  dat die sweet loop in erge hitte in Borneo. In die middel van nêrens is ’n stalletjie met yskoue suikerriet-sap. Die man by die stalletjie waai opgewonde en roep van ver. Op sy toonbank staan ’n yskoue glas sap vir my! ’n Verbygaande motoris het dit reeds vir my betaal.”

Sy eet meestal straat- en markkos. “Dis gewoonlik die goedkoopste en die varsste. My leuse is as die plaaslike inwoners dit kan eet en drink, kan ek ook. Maar ek bly versigtig vir iets wat nog kriewel!”

Siektes tref haar min. Buiten ’n vreemde Chinese siekte wat haar “’n skrikwekkende hoeveelheid gewig laat verloor het”, was denguekoors in Indië tot dusver die ernstigste siekte wat sy gekry het. “Ek het tien dae platgelê en byna gedink ek gaan dit nie maak nie.”

Leana was al ’n paar keer terug in Suid-Afrika, albei kere met ’n gebreekte arm wat dit onmoontlik gemaak het om te trap. Haar suster, Amanda, wat in Table View woon,
het al twee keer vir haar gaan kuier en ’n bietjie saamgery (en saamgelag!).

“Maar dis nie ’n leefstyl vir almal nie en bitter min mense is bereid om so basies en sonder plan te lewe.”

Al ry sy sonder roete of doel, probeer sy wel aan soveel moontlik aktiwiteite deelneem.  Soos om grotte te verken, te skubaduik, staptogte (trekking) in die Himalajas en witwater-kanovaarte …

Sy dink nooit oor “eendag as sy klaar is” nie – sy het ook “geen idee” hoe lank sy nog so gaan toer nie. (Voorheen was sy ’n eiendomswaardeerder in Kaapstad.)

“Ek het natuurlik al meer as een keer gewonder: Wat het my besiel? Maar elke dag kan ek nie wag om weer op die pad te kom nie!”