Dit laat jou dink

Bereik jou doelwitte só

As jy ’n doelwit het, het jy ’n mikpunt wat jou aan die gang hou, selfs wanneer jy terugslae beleef. Dit kan ’n doelwit vir die volgende uur wees, planne vir volgende week of oor tien jaar, sê Retha Alberts, ’n Kaapse leierskap-afrigter. ’n Doelwit gee jou iets om voor te leef, ’n besef dat jou lewe nog nie afgehandel is nie. Jy kan groot droom, maar jy moet ook bereikbare doelwitte stel wat jy suksesvol kan afhandel, reken Elise Beeby, sielkundige en hipnoterapeut van Johannesburg. Dit hou jou emosionele “brandstoftenk” vol sodat jy energie het om nuwe doelwitte aan te pak. Soms gaan jy misluk, maar pleks van gaan lê, kan jy daaruit leer en eerder nuwe doelwitte formuleer.