SARIE.com-blogger Joyce Kuter (FOTO: Anli Wahl)

SARIE.com-blogger Joyce Kuter (FOTO: Anli Wahl)

Dit laat jou dink

Blog en kry soveel terug – DEEL 1

Joyce Kuter, bestuurder van ’n logistiese maatskappy in Kaapstad, het gevoel haar lewe stort ineen toe sy op 18 Desember 2012 met borskanker gediagnoseer is. Maar sy het geestelike heling gekry danksy haar borskankerblog,  My kosbare ure. Sy het haar ervarings verlede jaar in Oktober (Borskankermaand) op SARIE.com gedeel.

Knoppie ontdek

“In Oktober 2012 het ek op die romantiese eiland Phuket in Thailand, ons gunsteling-vakansieplek, ’n knoppie in my bors ontdek toe ek my met sonbrandroom insmeer. Ek het dit geïgnoreer. Toe dit ná twee maande nie verdwyn nie, het my man, Shawn, gesê ek moet dokter toe gaan. Ek was platgeslaan toe ek hoor dit is kanker.

Joyce en haar man, Shawn. Dié foto is geneem nadat haar chemoterapie-behandeling voltooi is FOTO: Eric Uys GRIMERING: Marietjie Hurter

Joyce en haar man, Shawn. Dié foto is geneem nadat haar chemoterapie-behandeling voltooi is
FOTO: Eric Uys GRIMERING: Marietjie Hurter

My ouers, Hans en Tertia, het my kalmeer toe ek histeries met die nuus bel. My ma het gesê ons geloof is sterk, ons gaan dit stap vir stap hanteer.

Op 16 Januarie, ’n dag ná my 31ste verjaardag, is my regterbors verwyder én die rekonstruksie is gedoen. Ek, wat nog nooit siek was nie, was beangs. Ná ses weke se herstel het ek vyf maande lank chemoterapie by die Mediclinic Cape Gate se onkologie-eenheid gekry. Ek het gedurende dié tyd aanhou werk, al het ek goor gevoel.

Alles borrel uit

’n Vriendin van Tulbagh het die mooiste foto’s geneem van my met die kaal kop! Ek wou dit in Borskankermaand op my Facebookblad en kankerwebtuistes gebruik vir bewusmaking. Iemand by SARIE het dit gesien en my gekontak om ’n blog te skryf. Dit was ’n eerste . . . En toe ek eers begin skryf, was dit asof alles binne een naweek uitgeborrel het. My man het my drie dae lank nie gesien nie.

Kanker ruk jou tot stilstand. Jy dink baie oor jou lewe en besef dinge is dikwels nie in balans nie. Jy bestee soms té veel tyd aan jou man, vriende en jou werk. Jy besef jy moet God altyd prioriteit in jou lewe maak, dan sal dinge in plek val. Ek kon in my blog my frustrasie en woede verwoord. Ek kon vra hóékom het dit met my gebeur, ek kon huil. Maar ek kon ook daaruit leer en vir ander raad gee. Dit was bevrydend.

Ek het dit in dagboek-vorm geskryf, en dit is toe gedurende Oktober op SARIE.com gepubliseer.

Joyce Kuter op een van die mooi foto's wat 'n vriendin van haar met haar kaal kop geneem het FOTO: Anli Wahl GRIMERING: Iza Cloete

Joyce Kuter op een van die mooi foto’s wat ‘n vriendin van haar met haar kaal kop geneem het
FOTO: Anli Wahl GRIMERING: Iza Cloete

Iets om voor te leef

Mense se reaksie was oorweldigend. Dit het vir my gevoel die blog het weer vir my iets gegee om voor te leef. Mense het vir my raad gevra. Die klein verskil wat ek in SARIElesers se lewens kon maak, kan jy nie met geld koop nie. Party het vriende geword.

Die afgelope jaar sal ek vir niks verruil nie. Dit was nie maklik nie, maar ek het soveel wyser en sterker geword. Ek het besef hoeveel my gesin en familie vir my beteken. Tydens chemoterapie was ek nie altyd die maklikste mens nie. Soms wou ek niks eet nie, maar my man het geduldig gebly. En deurentyd het my vriende, kollegas en ouers my bly ondersteun.’’

Wat ek geleer het

  • Dit was lekker om my siel op die blog te deel. Dit het ander vrygemaak om húlself bloot te stel.
  • Ek het nooit gedink ek sal sterk genoeg wees om ander in nood te help nie, maar dit is vir my ’n voorreg.
  • Ware liefde fokus nie op die uiterlike nie. Met my kaal kop het Shawn my verseker ek is die mooiste vrou op aarde.
  • Mense kla te maklik.
  • Om elke oggend gesond wakker te word is dié grootste seëning.
  • Mense jaag die verkeerde dinge na – groot huise, grênd karre en duur juweliersware – dít kan nie met jou praat, lag of jou hand vashou nie.

Lees Joyce se spesiale borskankerblog hiér