Kosblogger, Sam Taylor FOTO: Kate Phillips

Dit laat jou dink

Blog en kry soveel terug – DEEL 2

“’n Rekenaar (as geskenk) my pieng-oomblik,” sê Sam Taylor, ’n opgeleide sjef en resep-ontwikkelaar van die Paarl oor haar wen-blog. Sy het in September verlede jaar die eerste aanlyn- kookkompetisie in Suid-Afrika, Pick n Pay se Freshly Blogged-toekenning, gewen. Haar blog gee haar groot vreugde.

Kleintyd-teepartye

“Kosmaak was nog altyd een van my groot passies (dít en om te skryf). Ek en my suster, Chan, ’n  arbeidsterapeut van Durban, het kleintyd teepartytjies vir ons teddiebere in die tuin gehou. Later, op hoërskool, het ons geld ingesamel vir die basketbal-span deur sjokoladekoeke te verkoop – met my ma, Cheryl, se resep wat nou nog op my blog is!

Ná matriek in 1991 het ek ’n jaar lange kursus aan die Christina Martin School of Food and Wine in Durban gevolg. Ek het later ook my B.A. deur Unisa (met Engels en sielkunde) verwerf, maar ek het meestal as sjef gewerk. Dis harde werk, maar superkreatief. Ek het onder meer by restaurante op wildplase en in boetiekhotels soos die Quarters Hotel in Durban gewerk.

My man, Glyn, deesdae bestuurskonsultant vir hotelle, was ook ’n sjef in Durban toe ons ontmoet het. Ons is al elf jaar getroud.

Toe ons eerste kind, Mackensie (nou 8), sowat twee jaar oud was, het ek my werk as sjef by Bouillabaisse op Franschhoek bedank om tuis by haar te wees. Noah is in 2010 gebore. Ek was vier jaar lank ’n tuisbly-ma en dit was wonderlik om tyd met my kinders te bestee. In 2012 het ek weer begin werk as resep-ontwikkelaar vir ’n sagtevrugte-maatskappy.

My eerste blog

As tuisbly-ma het ek versot geraak daarop om blogs te lees, veral van kosskrywers. Joythebaker.com was byvoorbeeld skreeusnaaks. Ek het bly hunker na iets meer kreatiefs wat my talente vir kosmaak en skryf sou bevredig. Maar ek het gedink, daar is so baie slim vroue, wat kan ék tog bydra.

Toe Glyn vir my ’n skootrekenaar vir my verjaardag present gee, was dít die pieng-oomblik. Kort daarna het ek my eerste blog oor skons geskryf. Baie mense het vir my gesê hul skons is dikwels ‘rotse.’ Myne was ’n stap- virstap- resep.

My resepte is gebruikersvriendelik. Net reg vir lui Sondagmiddae om die tafel. Ek skryf graag oor die verhouding tussen kos en herinneringe, hoe dit ons verbind met sekere plekke en mense, en dan raak mense wat my blog lees, dikwels saam nostalgies.

Dink altyd nuut

Hooglied in die Bybel was die inspirasie vir my blog, Pomegranate Days. Ek het die naam gekies omdat die oopgesnyde granaat vol pitjies die komplekse emosies van die mens verteenwoordig. Dit gaan oor die volle belewenis van die lewe. Ek glo my talente kom van God. Ek skryf een blog per week. Soms gaan dit vinnig. Soms maak ek ’n gereg tot drie keer as dit flop. Daar mag nie ’n enkele fout in ’n resep wees nie.

Die toekenning is vir my wonderlik, veral omdat my blog taamlik klein is. Maar ek skryf nooit vir mense se ‘klikke’ nie. Dán kan jy jou identiteit begin verloën. Jy durf ook nie skryf om maatskappye heuning om die mond te smeer omdat jy hoop op gratis produkte nie.

Kosbloggers moet geduldig wees. Baie mense dink dit bring kitsroem. My blog is eintlik ’n resepteboek vir Mackensie as sy groot is. Dit is bloot ’n bonus as dit uitloop op ’n régte resepteboek. Ek en my vriendin, die fotograaf Kate Phillips, beplan vir vanjaar ’n e-resepteboek. My blog kry ook ’n nuwe voorkoms. Ek glo jy moet altyd ‘nuut dink’.’’

Wat ek geleer het

  • Ek is baie trots op my blog – dis die resultaat van harde werk en toewyding. Dit is die een plek waar ek “net Sam” is.
  • Die lewe is vol wonderlike mense. Baie aanlynvriende (op Facebook of dié wat kommentaar op my blog lewer) is nou  wáre vriende. Ons gesels oor alles van resepte tot die op en af van ma-wees.
  • Om te blog het my waarnemingsvermoë verskerp. Ek sien in alles, selfs iets wat vir my snaaks is, potensiële temas vir my blogs.
  • Elke mens wat jy ontmoet, leer jou iets oor jouself.
  • Wanneer ek blog, voel my lewe (en ek!) meer opwindend.

Lees DEEL 1 in ons “Blog en kry soveel terug”-reeks híér