Dit laat jou dink

Casper de Vries gesels oor lewenslesse


As ek twintig jaar kon teruggaan om my jonger self raad te gee oor besluite wat ek nou weet verkeerd was, sou die jonger ek tien teen een nie eens na die ouer ek geluister het nie.
 
’n Mens móét foute maak. En dit dan hérken en ook érken. Só word ’n mens volwasse en kundig met léwe.
 
Ek is baie aanpasbaar. Elke keer wanneer ’n krisis opdoem, het ek die vermoë om dit onmiddellik te verwerk en die negatiewes in positiewes om te skakel. Dit gebeur baie, veral as ’n mens ’n vertoning of TV-reeks vervaardig.
 
Ek kan soms baie ongeduldig en opvlieënd raak wanneer mense nie dinge vinnig begryp nie, maar ek probeer deesdae regtig om die ander kant van ’n saak in te sien, selfs al stem ek nie daarmee saam nie.
 
Iemand het eenkeer vir my gesê dat jy die meeste van jouself leer deur hoe jy dié mense behandel wat niks vir jou kan beteken nie. Só ontdek jy wie waarlik “goeie” mense is en wie ander net misbruik of dalk “goed” probeer oorkom, maar eintlik net afshow omdat iemand hulle dophou. Ek gebruik dít dikwels as barometer om mense te peil. Ek hoop en vertrou daar is meer goeie as slegte mense. Maar ek besef ook dat mense baie vinnig en maklik iets leliks aan ander kan doen. Dis maar altyd ’n innerlike stryd wat ons voer.

Jy word gebore sonder ’n instruksiehandboek en daarom skryf jy dit sommer self soos wat jy aangaan.
 
Jy kan jou drome en ideale verwesenlik as jy dit met selfvertroue en doelgerigtheid najaag. Moenie wag vir ander mense om dit vir jou te doen nie, want dan sal dit nooit gebeur nie. Jy het natuurlik ander mense nodig om jou te help, maar jy moet dit wíl bereik en self inisieer en hard daaraan werk.
 
Toegewyde, harde werk word altyd beloon met sukses. Mislukking haal altyd vir Slap-alies in wat met so min as moontlik werk probeer wegkom.                      

  • hyla

    Ek dink sy naam is nogal baie toepaslik – Casper de Vires (virus)!!!