Dit laat jou dink

My droom het waar geword

Met min hoop vir die toekoms het Bulelani Ponoyi skool op 12 verlaat. Maar vandag studeer hy onderwys aan die Universiteit Stellenbosch om hoop te bring vir sy gemeenskap. Dan droom hy nog van vlieënier word . . .

Bulelani Ponoyi is skraal, fiks, gefokus. En onafskeidbaar van sy rooi pet. As onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch het hy tot sowat ’n jaar gelede elke dag meer as 8 km kampus toe gestap. Vanjaar kon hy uiteindelik nader blyplek kry. Maar kla sal hy nooit nie. Want die pad wat hy van sy kinderjare in Khayelitsha tot hier moes loop, was baie lank.

Ek is op 15 November 1990 gebore. My ouers was liefdevol en sorgsaam en ja, my toekoms was rooskleurig. My pa, ’n konstruksiewerker, het hard gewerk en ons het genoeg kos gehad. My ma was ’n tuisteskepper en altyd beskikbaar vir my en my broer. Ek was twaalf toe my pa oorlede is. My rolmodel, my mentor. Dit het ons gesin geskud. My ma, werkloos, moes daagliks stoei om haar kinders se mae vol te kry. En ek en my broer het dit nie vir haar makliker gemaak nie. Sy kon ons niks vertel nie. Ons het besluit om die skool te verlaat en die straat het ons tweede tuiste geword. Ons het onder die straatligte uitgehang, saam met van Khayelitsha se mees ongure karakters. En die etiket van boewe gekry.

Die volgende twee jaar was moeilik. Dit het gevoel asof ek in ’n donker put was, ek kon nie enige lig sien nie. My ma was sterk en baie lief vir ons. Elke nou en dan, miskien een keer per week, het sy ons met ’n ordentlike maaltyd verras. En al wat ons gedoen het, was om haar te laat huil. Ek onthou die dag goed toe die polisie my broer voor haar oë in hegtenis kom neem het. My ma het net reddeloos gehuil. Dit het my tot stilstand geruk. Ek het geweet ek moet ’n ommekeer maak, anders was dit ook my voorland. Ek het vir haar gesê ek wil teruggaan skool toe. Om vir ons ’n beter lewe te skep. In 2004 is ek terug skoolbanke toe. My ma het ’n regeringstoelae gekry wat ons aan die gang gehou het. Ek
het daardie jaar, graad ses, met vlieënde vaandels geslaag en skoonskip van al die skooltoekennings gemaak. Die lewe was weer goed. My ma het geglimlag, my aangemoedig.

Ek is hoërskool toe en het geweet ek moet nog harder werk. Vir my ma. Sy was my motivering, my krag … Soms het dit gevoel dis net ek en sy teen die wêreld. Tot God haar in 2009 weggevat het, weg van my af. My wêreld was skielik weer donker. Ek was wees, deel van die statistieke. Ek het myself afgevra hoekom gaan ek nog skool. My ma, vir wie ek dit gedoen het, was nie meer daar nie. Was dit die moeite werd? Wat gaan ek eet? Moet ek nie maar weer op my ou weë terugval nie? Miskien was geleerdheid mense soos ek nie beskore nie. Ek was in graad elf. En reg geraai, my punte het verswak. My blink toekoms was skielik onseker. Ek het dit sterk oorweeg om op te gee en weer skool te los.

Maar terwyl ek daarmee geworstel het, het ’n onderwyser my hulpkreet gesien. Mnr. Agulhus, my lewensoriëntering-onderwyser, het my ingeroep en gevra wat is fout. Ek was eers huiwerig, trots kan ’n mens soms pootjie. Maar hy het aanhou karring en uiteindelik het ek my storie vertel. Hy het belowe om my te help. En al wat hy wou hê, was dat my punte verbeter. En dit hét. Ek het weer ’n rede gehad om hard te werk. Ek kon hom nie teleurstel nie. Mnr. Agulhus het vir my kos en skoolklere gekoop en vir skooluitstappies betaal. Ek kon presies soos enige ander leerling lyk. Goed, ek gaan matriek slaag, maar wat dan, het ek gewonder. Hoe gaan ek dit bekostig om universiteit toe te
gaan? Die vraag is beantwoord toe ek my matriekuitslae kry: bo sewentig persent vir wiskunde, wetenskap, aardrykskunde en lewensoriëntering. Ek het aanbiedings vir beurse gekry. Dit was wonderlik. Organisasies soos Studietrust* het dit vir my moontlik gemaak om na een van die beste universiteite in die land te gaan. Dit het my lewe verander. (Jy moet jouself eers op universiteit bewys voor jy in aanmerking kom vir ’n onderwysbeurs van die staat.)

Toe ek toelating tot die Universiteit Stellenbosch kry, het ek geweet my droom het waar geword. My lewe gaan ten goede verander. Ek gaan skouers skuur met die beste studente uit alle bevolkingsgroepe. Hulle gaan nie omgee waar ek vandaan kom nie, maar waarheen ek op pad is. Stellenbosch … Ek verwonder my steeds aan hoe mooi dit is. Ek het straat op en af geloop en na die geboue gestaar. Ek kon skaars glo dit was die plek wat ek minstens die volgende vier jaar huis gaan noem. Ek is nou in my derde jaar en het nog nie een vak gedruip nie. Ek is geskok as ek hoor mense kla oor klein dingetjies. Nie net studente nie, maar mense wat in die omgewing grootgeword het. Ek wil hulle dan vra of hulle enige idee het hoe bevoorreg hulle is om op so ’n mooi plek te woon. Ek wens ek kan hulle uitnooi Khayelitsha toe. Dat hulle kan sién.

Dit breek my hart as ek van die mense sien wat saam met my grootgeword het. Wat steeds in daardie einste strate onder daardie einste straatligte uitkamp – omdat hulle nie dieselfde geleenthede as ek gehad het nie. Miskien was daar nie ’n onderwyser wat ingetree en hulle die pad gewys het nie. Daarom het ek besluit my drome om ’n vlieënier te word moet eers wag. Ek wou ’n beroep volg wat dit vir my moontlik sal maak om méér vir my gemeenskap terug te gee as net geldelike hulp. En as wiskunde- en wetenskap onderwyser kan ek dit doen.

Dis ’n besluit waaroor ek nie spyt is nie. As ek by ’n klaskamer instap, kan ek maklik met die leerlinge voor my identifiseer. Die klaskamer is vir hulle ’n ander planeet, dit het bitter min met hul werklikheid daar buite te doen. Ek ken hul wêreld. Want ek het daardie einste pad geloop. Ek kan hulle inspireer sonder dat ek ’n woord sê. En ’n groter beloning is daar nie.

* Studietrust is ’n onafhanklike nasionale beursorganisasie met ’n Christelike grondslag. Dit help behoeftige en talentvolle jong mense om verder te studeer. Lees meer by www.studytrust.org.za