Dit laat jou dink

Eksklusiewe uittreksel uit nuwe boek: “Wat vroue wens hulle mans kon weet”

Hierdie maand bied sarie.com en Christelike Uitgewersmaatskappy jou ‘n eksklusiewe uittreksel uit Dr. James Dobson se boek Wat vroue wens hulle mans kon weet (R99, CUM-boeke). Hier’s hoofstuk een en twee uit sy topverkoperboek wat nou ook in Afrikaans vertaal is:

Aan ’n knapie met die naam Ryan,
wat gek is oor sprinkane, maar dit haat om te bad,
wat meisies duld
en ’n miljoen vrae binne een uur kan vra
(“Mamma, gaap wurms?”).
Ek dra hierdie boek met liefde aan hom op
en belowe om my bes te doen
as sy pa wat hom liefhet.

HOOFSTUK 1

Mamma: die huisingenieur

Jy het seker opgelet dat ek hierdie boek oorspronklik aan my dierbare seun, Ryan, opgedra het. Hy was drie jaar oud toe ek hierdie boek geskryf het, en hy was ‘n ti piese peuter. Ryan het élke eienskap wat die handboe ke beskryf as tipies van kinders tussen 18 en 40 maande. In hierdie dinamiese fase van die lewe – die peuterstadium – is emosionele entoesiasme en op ge wondenheid veron derstel om oor te borrel vanuit die een of ander onuitputlike bron van energie. En dit was presies die geval met Ryan.

Die einste dag toe hy 18 maande oud geword het, was dit asof ‘n stemmetjie in sy oor gefluister het: “Nou, laaitie, nou!” Ryan het daardie middag begin hardloop, en van toe af elke dag teen topsnelheid geleef. Hy was nie ‘n moedswillige kind nie, en hy het selde ons gesag blatant uitgedaag. Maar hy was ongeloofliknuuskierig en het alles ondersoek. As dit enigsins menslik moontlik was, kon ‘n mens van Ryan verwag om dit te mors, te breek, uitmekaar te haal, te smeer of onbruikbaar te maak. Om hom te laat stilsit en stilbly, was onmoontlik! En natuurlik het sy persoonlike veiligheid van die een oomblik tot die volgende op die randjie van rampspoed gewankel. Dit was beslis nodig dat ‘n emosioneel stabiele volwassene Ryan die hele dag lank moes volg, net om te keer dat hy homself verongeluk. Elke nou en dan was dít natuurlik my verantwoordelikheid.

Een oggend was ek alleen saam met Ryan by die huis toe ek skielik besef dat daar ongeveer twee minute verloop het sedert my klein ontdekker enige geluid gemaak het. (Wanneer ‘n mens vir Ryan opgepas het, was stilte beslis nie ‘n goeie teken nie.) Ek het onmiddellik na hom begin soek, elke vertrek in die huis gefynkam, maar ek kon hom nêrens kry nie. Uiteindelik het ek deur die kombuisvenster gekyk en gesien dat Ryan dit op ‘n manier reggekry het om te klim tot agterop die vragmotor wat die bouers in ons op rit geparkeer het. Die bak van die vragmotor was hoër as Ryan se kop, en dit is vandag nog ‘n raaisel hoe hy dit reggekry het om so hoog te klim. Teen die tyd dat ek hom gekry het, het hy reeds verskeie wanhopige pogings aangewend om af te klim. Op daardie oomblik het hy op sy maag oor die agterste rand van die vragmotor se bak gehang, en woes geskop met sy voetjies wat 30 tot 40 sentimeter bokant die grond gehang het.

Ek het onmiddellik besef dat hy kon val en, sonder dat hy my hoor aankom het, het ek agter hom gaan staan. Ek het my hande na hom toe uitgesteek om sy val te keer, maar toe ek nog nader stap, het ek hom met homself hoor praat. Hy het nie gehuil nie. Hy het nie gekla nie. Hy het nie van vrees geskree nie. Hy het eenvoudig met sy voetjies in die lug rondgetrap en saggies geprewel: “Iemand, help die seuntjie. Sal iemand asseblief die seuntjie help?” Sy woorde was tekenend van sy manier van leef, want “help die seuntjie” het ‘n voltydse beroep vir my en Ryan se dierbare ma geword. Kort ná die ervaring met die vragmotor het klein Ryan vir my ‘n ander kant van sy sprankelende persoonlikheid gewys. My vrou, Shirley, het haar been gebreek terwyl sy geski het, en só vir my die kans gegee om ‘n paar weke lank háár skoene vol te staan.

Ek het in daardie tyd baie dinge geleer oor die kleur van die gras aan die ander kant van die draad: Nie net is dit glad nie groener nie … dit is nie eens eetbaar nie!
Die heel eerste oggend toe ek aan diens was, het Ryan vir my die reëls van die spel genaamd moederskap geleer. Om sesuur die oggend het hy my met ‘n harde geskree wakker gemaak. Ek is uit my diep, dromerige slaap geruk, het uit my bed gesteier en voel-voel deur die huis na Ryan se slaapkamer gestrompel. Die hele tyd het hy luidkeels geskree. (Daardie geluid het byna dieselfde uitwerking op my senuwees gehad as vingernaels wat oor ‘n skryfbord getrek word.) Toe ek by sy kamer kom en die deur oopstoot, het die geskree dadelik opgehou en ‘n vrolike stemmetjie het getjirp: “Is ontbyt al gereed?”

“Ek doen my bes, Ryan,” het ek geantwoord. Ek het kombuis toe gestap om vir die kind iets eetbaars te maak, maar ek was steeds 80% aan die slaap. Met wasige oë het ek daar voor die kombuiskaste gestaan, in die hoop dat iets sommer net vinnig en vanself daar sou uitval. Intussen het Ryan self uit sy bedjie geklim en my kombuis toe gevolg. Hy het herhaaldelik ‘n gesprek met my probeer aanknoop – wat die heel laaste ding op aarde
is wat ‘n slaperige pa daardie tyd van die oggend wil hê
of nodig het.
“Gaan ons spek eet?” het hy gevra.
En: “Hoekom het jy nog nie vir my melk ingegooi nie?”
En: “Is die kos amper klaar?”
Hy het my tientalle vrae gevra, maar ek het hom op nie een geantwoord nie. Ek het al sy vrae geïgnoreer. Toe ek uiteindelik wel na hom begin luister, was ek net betyds om hom te hoor sug en sê: “Ek is nou al so moeg vir jou.”

Wat moet ‘n ma dan doen, mense? Ek weet nie! Ek het my boek Dare to Discipline gaan uithaal en dit weer gelees, maar dit het niks gesê oor hoe om die voor-sonopaktiwiteite van ‘n ambisieuse peuter te hanteer nie. Ek het vir my vrou gesê as sy maar net sal terugkom na haar werk toe, sal ek haar elke dag respekteer en haar geseënd noem daar waar ek saam met die leiers by die stadspoort beraadslaag (Spr. 31:23). Eintlik kon ek nie wag om weer by die leiers by die stadspoort te gaan sit nie!

Deur hierdie kortstondige blootstelling aan die verantwoordelikhede van ‘n ma, en uit die ervaring wat ek op gedoen het deur die vroue wat vir berading na my toe gekom het, het ek ‘n diep waardering ontwikkel vir die unieke vaardighede van vroue en ma’s. Ek glo hulle taak is van die allergrootste belang vir die gesondheid en lewenskragtigheid van ons samelewing, en ek betreur die feit dat daar vandag byna geen respek is vir ‘n vrou wat kies om ‘n tuisteskepper te wees nie. Die woord “huisvrou” het selfs onvervuldheid, minderwaardigheid en onbelangrikheid begin simboliseer. Hoe jammer! Geen samelewing kan ‘n groter fout maak as om te glo die gesinen die opvoeding wat kinders daar behoort te ontvang, is onbelangrik nie.

“Huis-werk” bring egter spesifieke frustrasies en spanning vir vroue mee, en hulle moet hierdie frustrasies en spanning op ‘n manier verwerk. Selfs vir ‘n ma wat haar opreg verbind het aan haar gesin en hulle welwese, breek daar dikwels tye aan dat dit vir haar voel sy wil weg hardloop. Klein kinders kan uitputtend en irriterend wees vir dié wat 365 dae per jaar vir hulle moet sorg. Dié klein rakkers is raserig en hulle baklei met mekaar en hulle krap alles om en hulle mors oral en hulle maak hulle klere nat en hulle krap die meubels en hulle rafel hulle ma se senuwees stadig maar seker deur die lang dae uit. Dit verg waarlik ‘n supervrou om ‘n paar kinders groot te maak sonder om nou en dan te wonder: “Wat op aarde doen ek hier?”

Vroue moet ook gereeld ander probleme en druk, wat minder algemeen onder mans is, hanteer. Eensaamheid en die smagting na volwasse geselskap kom besonder dikwels voor onder vroue wat by die huis bly. Hulle smag dikwels diep en onophoudelik na kontak met ander mense. Hulle soek na vrolikheid en liefde en verlang terug na die romantiese oomblikke van hulle jonger dae. Hulle verslawing aan die sepies wat elke dag op die TV is, is maar net ‘n simptoom van hierdie behoefte om in die lewe van ander mense betrokke te wees. Hulle bestaan het so geïsoleer geraak. En dit is nie ‘n onbenullige probleem hier die nie.

Dit bring ons by die algemeenste bron van frustrasie wat vroue tydens huweliksberading aan my erken: ‘n Vrou wat met hierdie onvervulde behoeftes saamleef, is dikwels glad nie in staat om haar gevoelens aan haar man te verduidelik nie. Dié vrou wat weet iets lewensbelangriks het uit haar lewe verdwyn, reik van nature uit na haar man om daardie ontbrekende bestanddeel te voorsien. Sy smag wanhopig daarna dat hy haar vrese en frustrasies sal verstaan, maar sy kan skynbaar glad nie tot hom deurdring nie. O, sy probeer! Daar is geen twyfel hieroor nie. Maar in plaas daarvan dat haar pogings empatie en ondersteuning by hom uitlok, interpreteer hy dit as ‘n gekerm, ‘n gekla, self bejammering en vyandigheid in verskeie vorme.

En elke man wat leef, is toegerus met ‘n knoppie iewers in die middel van sy skedel wat hom in staat stel om hierdie soort onnodige geraas “uit te skakel”. Een vrou het vir my ‘n brief geskryf en die presiese gevoel van miljoene ander vroue verwoord: “Die gebrek aan kommunikasie is die grootste oorsaak van my depressie. Wanneer ek ons probleme probeer oplos of daaroor wil praat, bou my man ‘n muur van stilte tussen ons. Hy word uiters negatief wanneer ek oor enigiets met hom probeer praat. Hy voel ons hét geen probleme nie!”

Ek het nie hierdie boek geskryf om mans te beledig nie. In die afgelope jare is ons as mans genoeg afgekraak. Dit het immers gewild geraak om ‘n man uit te beeld as ‘n dwaas,
‘n onverdraagsame skepsel, ‘n uitbuiter, ‘n huwelikshater, ‘n sportfanatikus, ‘n seksmaniak en ‘n selfgesentreerde buffel. In die woorde van ‘n paar woedende vroue: Mans is laer as slakslym op die seebodem. Omdat ek self ‘n man is, is ek geneig om hierdie beledigings redelik persoonlik op te neem. Maar ek glo wel dit is waar dat gans te veel mans nie die emosionele behoeftes van die vrou in hulle lewe verstaan nie.

Hulle leef in ‘n totaal ander wêreld met ‘n hele klomp frustrasies van hulle eie. Hulle is óf nie in staat om hulle in ‘n vrou se rol in te dink en te besef en te voel wat sy ervaar nie, óf hulle is so behep met hulle werk dat hulle eenvoudig nie na haar luister nie. Wat die rede ook al is, ‘n vrou het behoeftes wat ‘n man nie verstaan nie. En dit is hierdie gebrek aan begrip wat dié boek en sy titel gemotiveer het: Wat vroue wens hulle mans kon weet. Die res van hierdie boek is dus opgedra aan die vrou, en spesifiek die vrou wat gekies het om ‘n tuisteskepper te wees. Daar ís werkbare oplossings vir die probleme en frustrasies wat sy ervaar, en ek deel in hierdie boek ‘n paar van die benaderings wat in die lewe van ander vroue doeltreffend gewerk het. Ek bespreek ook die aard van ‘n vrou se emosies en hoe dit haar daaglikse aktiwiteite en lewe beïnvloed.

Kortom, hierdie boek is spesifiek ontwerp om die volgende doelwitte te bereik:

  1. Om vroue te help om hulle unieke behoeftes aan die man in hulle lewe te verduidelik.
  2. Om vroue te help om vry te kom uit die boeie van emosionele isolasie.
  3. Om die sleutels te gee tot ‘n meer vervullende ervaring van ma-wees.
  4. Om te gesels oor die algemene oorsake van depressie by vroue, en oor die oplossings daarvoor.
  5. Om spesifieke antwoorde op alledaagse irritasies te gee.
  6. Om die pad na ‘n goeie selfbeeld en selfaanvaarding aan te dui.
  7. Om die ware betekenis van romantiese liefde te belig.

Ek erken dat dit ambisieuse doelwitte is. Dit klink byna soos die aanhef van ‘n grondwet. Maar onthou, dit is makliker om reguit te skiet as jy weet waar die teiken is. Kom ons begin dan deur te gesels oor die oorsake van depressie by vroue.

HOOFSTUK 2
Oorsake van depressie by vroue

Die vroue wat vir sielkundige berading by my was, het my tot die onvermydelike gevolgtrekking laat kom dat depressie en emosionele apatie herhaaldelik in vroue se lewe voorkom. Die oorgrote meerderheid volwasse vroue ervaar skynbaar hierdie tye van wanhoop, moedeloosheid, gebrek aan belangstelling, ontsteltenis, terneergedruktheid en ontnugtering met die heersende omstandighede in hulle lewe. Ek noem al hierdie toestande saam “die groot D”, en dit is duidelik hoekom. Iemand wat vir berading na my toe kom, sal sê: “Ek het die D vandag” – en ek sal presies weet wat sy bedoel.

Depressie is beslis nie ‘n unieke eienskap van vroue nie, maar dit kom minder dikwels by mans voor en is dan skynbaar meer krisis-georiënteerd. Met ander woorde, mans raak depressief oor spesifieke probleme, soos ‘n terugslag in ‘n onderneming of ‘n siekte. Hulle is egter minder geneig om die vae, algemene, byna onidentifi seerbare gevoel van wanhoop te ervaar wat so baie vroue gereeld ervaar. Selfs ‘n bewolkte dag kan genoeg wees om ‘n fi sieke en emosionele verlamming te veroorsaak by vroue wat besonder kwesbaar vir depressie is. Ons noem dit die blues.

Die impak van depressie kan effens verminder word as ‘n mens die sikliese aard van emosies in albei geslagte verstaan. Het jy al in jou lewe opgemerk dat hoogtepunte altyd deur laagtepunte en laagtepunte deur hoogtepunte gevolg word? Daar is ‘n gereelde wisseling tussen die twee, byna soos ‘n wiskundige sinuskromme. Die hoogste punt van entoesiasme lei altyd
weer tot die diepste swaarmoedigheid, en omgekeerd. Meer nog, een persoonlikheidstipe neig nie meer in een rigting as in ‘n ander nie. Met ander woorde, as ons vir ‘n spesifieke persoonlikheidstipe ‘n streep deur die middel van die kurwe sou trek om die emosionele middelpunt (nie hoog óf laag nie) aan te dui, is die afstand van daar af
na die hoogtepunt byna dieselfde as die afstand van daar af na die diepste vallei. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld of twee.

Tipe I-mense (hieronder uitgebeeld) word nie baie opgewonde oor enigiets nie. Hierdie Besadigde Bennies en Standvastige Sannies juig nie entoesiasties by sport wedstryde nie en hulle lag nooit uitbundig nie. Goeie nuus ontvang hulle so kalm soos slegte nuus. Hulle word egter ook nooit baie moedeloos nie. Hulle is redelik eentonige mense, maar ten minste is hulle konsekwent eentonig. Jy kan op hulle staatmaak. Vandag sal hulle baie soos gister wees, en môre en volgende November sal hulle baie soos vandag wees.

In teenstelling hiermee is Tipe II-mense (hieronder uitgebeeld) die wêreld se ware “skommelaars”. Hulle emosies wip van die hoogste balke af tot onder in die kelder en dan weer teen die muur op tot heel bo.

Ons almal ken minstens een Tipe II-mens wat elke nou en dan ongeloofl ik gelukkig is. Hierdie mense staan in die oggend op en giggel as hulle net dink aan die son wat binnekort gaan opkom. Hulle waai vir die voëltjies en glimlag vir die blomme en fluit vrolik die hele dag deur. Pas op vir hierdie vrolike mense. Ek kan jou waarborg hulle gaan oor ‘n paar dae die bodem van die put tref. En wanneer hulle val, is die ineenstorting oorweldigend. Hulle vrolikheid verdamp soos mis voor die son. Niks sal reg loop nie, en die lewe sal nie die moeite werd wees nie,
en hulle sal geen vriende hê nie, en ellende sal die hele aarde tref.

Hulle is so sentimenteel dat hulle selfs by die opening van ‘n nuwe supermark huil. Hulle is waarlik soos ‘n emosionele klimtol. En om redes wat net ‘n verwarde Kupido ken, sal hierdie Tipe II-ekstremis waarskynlik met ‘n eentonige Tipe I trou, en hulle twee sal mekaar in die volgende 40 jaar gereeld skaaf en skuur.

Ek onthou dat ek en my vrou tydens ons eerste reis na Europa na ‘n simfoniekonsert in Berlyn gaan luister het. Voor ons het ‘n jong man gesit wat waarskynlik musiek aan ‘n plaaslike universiteit gestudeer het. Tydens die eerste helfte van die uitvoering het hy in ‘n vreemde ek stase verval, met sy oë dig toe op maat van die orkes ge wieg, en ná elke item op die program opgestaan om verwoed hande te klap. Ná die laaste uitvoering voor die pouse het hy byna waansinnig van genot geraak; ‘n mens sou dink sy gunstelingspan het so pas die wenpunte in die
nasionale kampioenskap aangeteken. “Bravo! Bravo!” het hy uitgeroep, en vir die dirigent gewaai.

Maar, kan jy glo, die tweede helfte van die simfoniekonsert het hom skoon siek laat voel. Hy het in sy stoel weggesink, die orkes uitgejou, en in die oorblywende uur sy misnoeë met ‘n gemompel te kenne gegee. Uiteindelik het hy uit sy stoel opgespring en na die paadjie gestrompel terwyl hy op tone getrap, teen knieë gestamp en Beethoven se Vyfde Simfonie vermorsel het. Stomend is hy by die ouditorium uit. Al het ek daardie jong man nog nooit voor die konsert gesien nie, en ook nie weer daarna nie, kan ek met veiligheid sê hy verteenwoordig die Tipe II-persoonlikheid.

Sy vermoë om ‘n “hoogtepunt” te bereik, wat duidelik te sien was tydens die eerste helfte van die simfoniekonsert, is geëwenaar deur ‘n teenoorgestelde “laag tepunt” namate die aand gevorder het. As ek eerlik moet wees, het ek sy manewales meer geniet as die musiek, maar ek sou hom nie vir ‘n swaer wou hê nie. Hy het waarskynlik meer obsessies gehad as wat vir enige mens goed is. Dink jy nie sy vrou sou dalk ‘n paar interessante stories kon vertel nie … ?

Dit is ook goed om die aard van die emosionele ritme in die mens te verstaan. Enigiets wat tot ‘n uiterste “hoogtepunt” lei, sal die weg vir ‘n latere “laagtepunt” voorberei, en omgekeerd. Jare gelede wou ek en my vrou byvoorbeeld ‘n nuwe huis koop. Ons het toe al ‘n hele paar jaar vir die regte huis gewag, en ons was baie opgewonde toe die ooreenkoms geteken was en die eiendom uiteindelik aan ons behoort het. Dié ekstase het ’n paar dae geduur. In daardie paar dae het ek met Shirley oor ons ervaring gesels.

Ek het vir haar gesê ons is in vervoering en dat ons opwinding nie onbepaald sou kon voortduur nie. Emosies werk nie baie lank teen topspoed nie. Nog belangriker, ons gemoedstoestand sou waarskynlik binnekort tot ver onder seevlak daal. Soos ons verwag het, het ons albei drie dae later ’n mate van teleurstelling en ligte depressie ervaar. Die huis was toe nie so wonderlik nie, en daar was nie veel wat enige entoesiasme by ons geskep het nie. Omdat ons die “laagtepunt” verwag het, kon ons egter hierdie tydelike fluktuasie herken en aanvaar toe dit ons getref het. Jou depressie sal draagliker wees as jy dit verstaan as ’n relatief voorspelbare gebeurtenis. Dit sal byvoorbeeld net ná ’n besige vakansie, die geboorte van ’n baba, be vordering
by die werk of selfs ’n rustige vakansie toeslaan.

Die oorsaak van hierdie verskynsel is deels fisiek van aard. Ekstase en opgewondenheid verbruik immers groot hoeveelhede van die liggaam se energie aangesien al die stelsels vinniger moet werk. Die noodwendige gevolg van hierdie vinnige pas is moegheid en uitputting, wat tot depressie kan lei. Hoogtepunte móét dus deur laagtepunte gevolg word. Dié verskynsel word deur ’n sielkundige wet gereguleer. Jy kan daarop reken. Maar in die gesonde mens lei die laagtepunte genadiglik uiteindelik ook weer tot hoogtepunte. Om terug te keer na my vorige stelling: Dit is nie die “normale” wisseling tussen hoog en laag wat my bekommer nie. Ek is eerder bekommerd oor die neiging van baie vroue om veel langer in ’n toestand van depressie te bly as wat ’n mens sou verwag. In plaas daarvan om tussen hoog en laag te skommel, bly hierdie vroue twee of drie weke per maand terneergedruk en moedeloos. Sommige word selfs jare lank sonder enige verligting in ’n emosionele kelder vasgevang. Die feit dat vroue keer op keer tydens berading met my hieroor gepraat het, het my gedring om die oorsake daarvan te soek en oplossings daarvoor te vind.

Voordat moeilike probleme opgelos kan word, moet hulle egter verstaan word. Dit was byvoorbeeld eers nodig om die skadelike poliomiëlitis-virus te identifi seer en te isoleer voordat dr. Jonas Salk ’n entstof daarteen kon ontwikkel. Net so moes ek eers die spesifieke oorsake van buitengewoon lang tye van depressie by vroue identifiseer en isoleer. Ek het tydens beradingsessies opgemerk dat vroue van verskillende ouderdomme en uit uiteenlopende agtergronde dieselfde frustrasies en ir ri ta sies verwoord. Tien probleme het vir my uiters bekend begin word. Ek het gereeld genoeg daarna geluister om die tipiese omstandighede van elke irritasie te kon memoriseer. Ek het dus ’n lysie gemaak met dié tien faktore daarop en dit “die
oorsake van depressie by vroue” genoem. (Ek sluit die lysie aan die einde van die hoofstuk in.)

Later het ek besluit om dié lysie met tien faktore in ’n opname onder vroue te gebruik. Ek het ongeveer 75 vroue gevra om hierdie tien faktore te rangskik volgens die mate van frustrasie wat elkeen in hulle lewe veroorsaak. Aan die een wat die meeste depressie by hulle veroorsaak, moes hulle ’n punt van 1 toeken; aan dié faktor wat vir hulle die onbelangrikste was, moes hulle ’n punt van 10 gee. Deur ’n gemiddeld van hulle antwoorde uit te werk, kon ek bepaal watter probleme die grootste invloed gehad het op die lewe van dié vroue wat aan die studie deelgeneem het.

Al was hierdie studie nooit bedoel om in alle opsigte aan die streng voorskrifte van die wetenskaplike metode te voldoen nie, is dit interessant om te let op ’n paar eienskappe van die vroue wat die vraelys voltooi het. Die 75 deelnemers was almal getroud en tussen die ouderdomme van 27 en 40; hulle gemiddelde ouderdom was waarskynlik 32. Die oorgrote meerderheid was ma’s wat nog klein kinders in die huis gehad het. Aangesien hulle die vraelys by twee kerkbyeenkomste ingevul het, het die mees te van hierdie vroue aangedui dat hulle toegewyde
Christene is. Hulle was hoofsaaklik voorstedelike middelklas-tuisteskeppers. Elkeen is gevra om die faktore te rangskik. (Later is hierdie opname ook gedoen on der 5 000 vroue wat Family Life-seminare bygewoon het, en hulle het die bevindings van die eerste opname bevestig.)

Ek maak die bevindings van my ondersoek in die volgende hoofstukke bekend. Ons sal kyk na die tien grootste oorsake van depressie by vroue, in die volgorde van belangrikheid soos ongeveer die helfte van die eerste groep vroue dit gerangskik het. (Die tweede groep het die faktore baie dieselfde as die eerste groep gerangskik, maar nie presies dieselfde nie.)
Voordat jy verder lees, stel ek voor dat jy self die vraelys voltooi. Skryf die getal 1 tot 10 op ‘n vel papier neer, en rangskik dan die faktore op die lys twee keer: Die eerste keer rangskik jy hulle volgens jou ervaring; die tweede keer rangskik jy die faktore soos jy dink ander vroue hulle ervaar. Mans wat hierdie boek lees, kan dalk hierdie tweede ranglys opstel deur te raai wat die reaksies van die studiegroep was.

Oorsake van depressie by vroue

Rangskik asseblief die volgende oorsake van depressie van 1 (die grootste oorsaak) tot 10 (die kleinste oorsaak) volgens jou ervaring in jou lewe. Moenie jou naam hierby neerskryf nie.

Bron van frustrasie Jou punt Geskatte punt
1. Die afwesigheid van romantiese liefde in die huwelik    
2. Konflik met die skoonfamilie    
3. ’n Swak selfbeeld    
4. Probleme met die kinders    
5. Finansiële probleme    
6. Eensaamheid, isolasie en verveling    
7. Seksuele probleme in die huwelik    
8. Menstruasie- en fisiologiese probleme    
9. Uitputting en tydsdruk    
10. Ouderdom    

Kry die boek Wat vrouens wens hulle mans kon weet (R99, Dr. James Dobson, Christelike Uitgewersmaatskappy) by www.cum.co.za