Dit laat jou dink

Goeie nuus sal kom

My man het onlangs sy werk verloor. Dit het groot stres meegebring. Ons eerste huis was pas klaar gebou en ek is besig om my sakeonderneming te vestig. Toe hy onlangs sê hy’t goeie nuus, kon ek myself nie keer nie en vra toe: “Het jy werk gekry?” Op daardie tydstip was dit mý wens vir hom, mý
stukkie goeie nuus waarop ék gehoop het. Die teleurstelling was hoorbaar in sy stem: “Nee, maar die alarm is uiteindelik uitgesorteer.”

Ek bel my ouers en vra of hulle nog in die dorp is. My pa vra: “Ja, hoekom? Het jy goeie nuus?” menende of ek swanger is, want hul groot wens vir ons is ’n baba.

Ons het almal ons eie idees van wat óns wil hê die goeie nuus móét wees. Maar daar is soveel ander goeie nuus wat ’n mens soms miskyk. Ons raak so vasgevang in wat óns wil hê dat ons dikwels vergeet om dankbaar te wees vir dít wat ons reeds het. Die “goeie nuus” sál kom.

Jonette Nel, Somerset-Wes