suurlemoenbloeisel
Dit laat jou dink

Help! Mxit, Facebook en Twitter oorheers my kind se lewe

Sy wil nie met my kommunikeer nie en bly heeldag in haar kamer.
Clare Harvey, ‘n kliniese sielkundige van Dunkeld, Johannesburg, sê jou kind se sosiale wêreld is nou vir haar belangrik. Sy wil kommunikeer met haar vriende.

“Sy is besig om haar eie identiteit weg van jou as ouer te vorm en jy moet aanvaar dat dit nou vir haar ontwikkeling nodig is om meer tyd saam met vriende deur te bring.”

Jimmy Henderson, ‘n Lifeline-gesinsberader, benadruk dat haar privaatheid ook nou baie belangrik is.

“Respekteer haar persoonlike ruimte – sy het dit nodig.” Hy sê die enigste tyd wanneer jy met haar betrokkenheid op sosiale netwerke kan inmeng, is as dit ’n duidelike negatiewe invloed op haar skoolwerk het. Maar jy sal haar dit nie heeltemal kan verbied nie, want dit sal haar net meer opstandig maak.

“Sy het die netwerke nodig om deel te wees van die cool groep. Sy wil deur maats aanvaar word.Moenie neuroties wees nie, wees ondersteunend. Daar moet steeds redelike reëls wees,
maar jou kind het jou begrip en ondersteuning nou meer nodig.”