200515933_001hires
Dit laat jou dink

Hipersensitief of net oorsensitief?

In teenstelling met hipersensitiwiteit het oorsensitiwiteit meer te maak met ou pyn wat weer geaktiveer word, verduidelik Irene.

“Ons oorreageer as iets ons onbewustelik herinner aan ou, verborge, emosionele pyn. Jy doen enigiets om nie die pyn te ervaar nie en reageer op ’n manier wat wys dat jy ‘eintlik niks voel nie en in beheer is’.”

Anize stem saam. “As jy as kind dikwels gespot is, sal jy meer geneig wees om sensitief te wees
as mense agter jou rug lag.” Gewoonlik het liggeraakte mense een of meer komplekse, voeg Ester by.

“Ons kan komplekse hê oor baie dinge, soos ons gewig, voorkoms, liefdesverhoudings, seks, status, geleerdheid en geld. Elke kompleks veroorsaak ’n onmiddellike, outomatiese oorreaksie weens denkfoute, soos byvoorbeeld om alles persoonlik op te neem, net op die slegte te fokus, opmerkings uit verband te ruk en te veralgemeen.”

Irene sê die reaksies van iemand wat liggeraak of oorsensitief is, is in ’n bepaalde situasie buitensporig.

“’n Oorsensitiewe persoon voel in die meeste situasies sy is te na gekom. Om haarself te beskerm en die impak van die ‘beledigings’ teen te staan moet sy heftig reageer om die sagte self te beskerm. Dit raak naderhand ’n gewoonte.”

Jy kan met ’n sensitiewe trek in jou persoonlikheid gebore word, en dit kan versterk word deur die
omgewing waarin jy grootword, sê Anize. Trauma kan ook hipersensitiwiteit na vore bring. Kenners is dit eens dat professionele hulp nodig is om van oorsensitiwiteit ontslae te raak.

“Met psigoterapie kan jy die komplekse in jou onbewuste na die bewuste bring,” sê Ester.

“Wanneer jy weet waarom jy oorsensitief reageer, kan jy leer hoe om die impuls te hanteer.”

  • Karel

    Stuur asb vir my die sielkundige in Pretoria se naam en tel nr. Haar is naam is Ester maar ken nie die van nie. Dankie