Dit laat jou dink

Hoe gemaak as skoonsus oorneem?

Hoe hanteer jy dit as jou skoonsuster wat komkuier die huishouding wil oorneem?
Annerie Joubert, voorligtingsielkundige van Durbanville gee raad:

Daar is ‘n spreekwoord wat sê elke haan kraai koning op sy eie mishoop. Die uitdaging is om jouself te laat geld en in beheer te bly sonder om die atmosfeer en goeie verhoudings te versteur. Die grootste slaggat wat jy moet vermy, is om te aanvaar dat jou skoonsuster se gedrag daarop dui dat jy ‘n slegte huisvrou/gasvrou is of dat jou manier van doen nie goed genoeg is nie/verkeerd is.

Elke vrou het haar unieke styl van dinge doen en mag dit uitleef, veral in haar eie huis! Sê dus op ‘n vriendelike, fermmanier vir jou skoonsuster jy verstaan dat sy graag wil help en nie ‘n ekstra lading op jou skouers wil plaas nie.Ook dat sy vanweë haar geaardheid baie georganiseerd en doeltreffend is en dat jy haar daarvoor bewonder. ( Jy dink waarskynlik sy is dominerend en oorheersend, maar wees taktvol en moet dit nie sê nie.)

Sê dan dat elke huisvrou mos maar haar eie manier het waarop sy dinge doen en dat dit vir jou beter werk as jy die huishouding bestuur soos jy daaraan gewoond is. Vra haar hulp met spesifieke take, soos om die wasgoed op te vou. Ken sekere verantwoordelikhede aan haar toe, soos om slaai te maak. Bedank haar telkens opreg en hartlik vir die feit dat jy op haar nommer kan druk.

Lees in jou Desember-uitgawe van SARIE hoe om ‘n Kerstyd sonder stry te hê – kenners gee raadType or paste here.