Dit laat jou dink

Hoe’t jy gevoel toe…

. . . jy twéé pryse met jou kosblog wen?

Alida Ryder (24), ’n Pretoriase tuisbly-ma van die tweejarige tweeling Abigail Mia en Aidan Christopher, het onlangs twee pryse–beste kosblog én beste nuwelingblog–by die SA Blog-toekennings losgeslaan vir haar kosblog Simply Delicious.

My blog is soos my derde kind. In Oktober 2009 het ek begin inskrywings doen. Ek was verveeld met die roetine van kinders grootmaak. Ek wou weer soos ’n mens voel, nie nét ’n ma nie.

Die toekenningsplegtigheid was by die glansryke One & Only in Kaapstad, maar ek het dit nie bygewoon nie. Ek het telefonies gehoor ek het gewen en dit toe gevier met ’n yskoue margarita-skemerkelkie.

Al die resepte op my blog het ek al op my gesin of kuiergaste getoets. Die meeste reaksie wat ek gekry het, was op die lamsburger met tzatziki (jogurt-en-komkommersous met knoffel en kruisement), my melktert en my ultimate potato bake. Ek is baie lief vir boerekos, maar ook gek na Mediterreense, Indiese en Thai-geregte. My gunsteling-gereg is risotto.

Ek is oorspronklik ’n gekwalifiseerde haar-en-grimeerstilis. My ouma Alida von Backström van Centurion, vriendinne, resepteboeke en TV-sjefs het my leer kook. Vandag is ek seker die Britse kok Nigella Lawson se grootste fan, en ek wens ek kan eendag Suid-Afrika se weergawe van haar wees. Dan is ek ook mal oor die Brit Jamie Oliver se maklike kookstyl, en die innoverende geregte van die Suid-Afrikaanse sjef en rolprentmaker Justin Bonello.

Die geheim van wen-kos is vars bestanddele en liefde. My gesin kan proe as ek die aand nie lus was vir kook nie! Ek werk nou aan ’n paar idees vir ’n kookboek, maar soek nog ’n uitgewer. Die sukses van my blog is humor (jy moet kan lag as jou rys aanbrand of jou koek flop!), die kos is maklik, geurig en die blog is verbruikersvriendelik. Ek neem die foto’s daarvoor en my man, Chris, redigeer dit.

Klik hier om haar blog te lees