phyllis_ander
Dit laat jou dink

“Hy steek te veel vir my weg” – kenner gee raad aan leser

“Ek is 28 en het nou al byna twee jaar ‘n man in my lewe nadat ek voorheen ongelukkig getroud was. Eers het ek gedink hy is die son, maan en sterre – tot hy gesê het die verhouding gaan nie werk nie. Dit het gevoel asof my wêreld intuimel.

“Ek het hom met SMS’e en oproepe gepeper en hy het ons weer ‘n kans gegee, maar my nooit vertel hy is getroud en dat hy en sy vrou uitmekaar is nie. Hy is in Desember geskei, maar te veel dinge is vir my weggesteek. Ek voel ál meer vasgevang, maar kan ook nie sonder hom nie. Is ek bang om alleen te wees? Ek kan nie met hom kommunikeer nie.”

Doreen Hofmeyr, voorligtingsielkundige van Durbanville:

Dit lyk asof die son van verlief wees jou verblind het. Toe jou maat begin twyfel of die verhouding kan werk, het jou “blindheid”gemaak dat jy hom gepla het om die verhouding weer ‘n kans te gee. Noudat jy helderder sien, is jy ontevrede met die situasie en meet jy dit waarskynlik aan kennis wat jy
uit ‘n vorige ongelukkige verhouding opgedoen het.

Onsekerheid oor jou pad maak jou wys dat jy vasgevang is. Dis positief dat jy begin protesteer en leiding soek! Doen selfondersoek. Glo jy dat jy ‘n beter verhouding verdien?
Besef jy dat kommunikasie, vertroue en wedersydse respek die basis van ‘n verhouding behoort te wees? Dalk is dit tyd dat jy na jou eie behoeftes omsien?
‘n Swak selfbeeld laat mense soms glo dat hulle nie goed genoeg is nie en nie ‘n goeie maat of gelukkige verhouding verdien nie. Dis waarom vroue dikwels die slagoffers van fisieke of emosionele mishandeling word en moeilik uitstap. Vrees vir alleen wees kan jou wysmaak dat ander vir jou geluk verantwoordelik is. Jou ervaring wys dis nie waar nie. Hoe meer jy vasklou, hoe ongelukkiger raak jy. Probeer self die verantwoordelikheid aanvaar.

‘n Verhouding met openlike kommunikasie, vertroue en ondersteunende liefde kan bydra tot ‘n gevoel van bevryding en groter vertroue. Praat openhartig met jou maat oor jou behoeftes en vrese. As hy nie dieselfde waarde aan jul verhouding heg
nie, is dit tyd dat jy aanstap.
Alleen wees ís ‘n aanpassing. Reik uit na ‘n ondersteuningstelsel (familie, vriende, die kerk). Herontdek jouself (waarin jy glo, jou stokperdjies/ideale) en die dinge wat jou gelukkig gemaak het voor dié verhouding.

Wat jy van jouself dink, reflekteer jou selfwaarde, jou gedrag en jou lewenskeuses. Jy verdien ‘n bevredigende verhouding. Ontwikkel jou selfgelding. As jou maat optree in stryd met jou drome, beëindig jul verbintenis. Die lewe is nie sonder pyn nie. Waag om jóú drome na te jaag.

Evert van Huyssteen, sielkundige van Centurion

Jy het dié man totaal vertrou en die traumatiese onthulling oor sy getroude status het jou diep getref. Dit het jou weerloos gelaat en met ‘n diep twyfel oor jouself laat stoei. Dis waarom jy juis aan hom vasklou.
Vertroue is ‘n belangrike pilaar van ‘n verhouding. As dít wankel, is dit moeilik om sinvol daarmee voort te gaan.

Navorsing wys ál meer dat mense as sosiale wesens op hul beste funksioneer in ‘n intieme verhouding. Die meeste mense het dus ‘n behoefte aan ‘n lewensmaat.’n Vrees vir alleen wees dui soms ook daarop dat jy ongemaklik met jou eie gedagtes is. Kry helderheid oor jou basiese behoeftes (emosioneel, fisiek,
sosiaal en geestelik) in ‘n verhouding. Het jul verhouding gesonde boublokke?

Emosioneel: Voel jy gerespekteer as individu? Aanvaar hy jou met jou tekortkominge en foute? Voel jy
emosioneel veilig in die verhouding?

Fisiek:
Word jy voldoende aangeraak en gestreel, selfs al is julle intiem?

Sosiaal: Word jy ondersteun en aangemoedig in sosiale situasies? Sluit hy jou in by van sy sosiale interaksies?

Geestelik:
Respekteer hy jou geestelike behoeftes, selfs al verskil dit van syne? Hoekom kan jy nie met hom praat nie? Is jy bang vir sy reaksie?

Emosionele veiligheid is belangrik. Net as jy jou vrese en kwesbaarhede met hom kan deel sonder om verkleineer of geïgnoreer te word, voel jy veilig. Daarsonder is intimiteit, inspirasie en
konneksie onmoontlik.

Dalk het hy besef hy het ‘n fout gemaak. Oorweeg dan ‘n verhoudingsterapeut en probeer jul probleme oplos.