Dit laat jou dink

Ma ís hier!

Skielik is my laaste kuiken uit die nes! Weliswaar met baie subtiele aanmoediging en ’n bietjie cruel-to-be-kind-taktiek. Niks het my hierop voorberei nie, nie eens die jare se ma-wees vir twee baie aktiewe seuns nie!

Ek talm by winkelrakke met sy voorkeur-lekkernye, lê steeds laatnag wakker en wag vir sy “doef-doef”-klankstelsel wanneer hy huis toe kom, ek mis ons laatnag-geselsies en midnight snacks. (Hou groeiende jong mans ooit op met eet?)

Maar ek mis veral sy amper-manlyf wat my onhandig vashou met ’n “Ai, Ma” wanneer my hormone hul eie koers kry en ek vir geen aardse rede heerlike vet trane stort. Diep in my binneste lê daar ’n groot dankbaarheid. My kind is net ’n telefoonoproep ver, by sy ouboet.

Seuns, doen jul ding. Loop jul lewenspad fier en reguit. Ma is hier wanneer julle my nodig kry.”

– SARIE-leser, Schöni Jordaan van Wildernis

* Deel jou storie met SARIE. Stuur ‘n e-pos aan mysetel@sarie.com