Dit laat jou dink

Mei-maand se wenbrief – “Dans in die reën”

Dit reën in die Suid-Kaap – genade-gawe uit sy Vaderhand. ‘n Fyn misreën vou see, berge en land in ‘n sluier van dankbaarheid toe.

Aan die kant van die halfdroë lagune vergader die watervoëls. Dis ‘n mengelmoes van kleure en vere. Party sit met vlerke wyd gesprei, koppe ver agteroor gebuig in ‘n “loof die Here”-houding. Ander sit ineengedoke, koppe tussen die vlerke ingetrek – ‘n toonbeeld van stille verwondering en dankbare gebed. Die res trippel-dans en klap uitbundig met hul vlerke in die modderige water.

Só moes koning Dawid gevoel het toe hy die arkdans uitgevoer het – huppelend van vreugde. Ek koers in die nat straat af met die reën wat ‘n vreugde-mantel oor en om my vou en ek dank God vir só baie vreugde en genade wat deel is van my lewe.

Bettie Louw, Mosselbaai