Dit laat jou dink

Moenie kwaad vir mekaar gaan slaap nie. Mite?

Never go to bed mad. Stay up and fight. – Phyllis Diller

Daardie een van: Ons belowe om nooit kwaad vir mekaar te gaan slaap nie, werk net ‘n rukkie. Dan word dit ‘n mite, hoewel ‘n vrou steeds nie kwaad wil gaan slaap nie. Julle kan mekaar heelnag wakker hou totdat julle gedaan is.

“Hei, jy kan nie nou gaan slaap nie, ek praat nog met jou!”
En die gesprek raak al hoe driftiger,’n oplossing bly buite sig.
“Kom ons kry mekaar maar weer môreoggend.”

Dis soos om weg te loop. Slaap liewer. Want môreoggend skyn die son en skielik lyk die probleem nie meer so groot nie. ‘n Mens kan daardie probleem as ‘t ware in ‘n nuwe lig sien.
Letterlik.

Daar is mense wat sê hulle gaan slaap nooit kwaad vir mekaar nie. Hoe kry hulle dit reg? Hulle is óf nog hopeloos verlief, hulle hiper-ventileer, óf hulle probeer voorgee hulle is die ideale, gelukkige paartjie. Dan sê die een skielik op ‘n mooi dag: “Ek wil skei.”

En die ander een se verbasing is groot: “Ons het dan nooit kwaad gaan slaap nie. Ons het dan nooit eens baklei nie?”