Dit laat jou dink

Mooi is ewig

Skakel in op ’n nuuskanaal en stories soos hierdie, met hier en daar ’n variasie soos ’n sikloon of ’n vliegramp, is waarop jy jou maar kan voorberei. Dis hoe die nuus is. So was dit altyd en so, lyk dit my, sal die nuus bly.

En tog, te midde van dié somber nuus-boodskappe, gebeur die wonders van die lewe. Oral om ons gedy die mooier dinge, half uitdagend, en weier om oorweldig te word deur die donker kant van die lewe. Of die olieprys nou styg of daal, elke dag skilder die son met skemeraand êrens ’n meesterstuk, of sing die kabbeling van ’n stroom ’n loflied saam met ’n gemeente vol voëltjies terwyl paddas hulle skaamteloos verbeel hul bydrae gee die gevleuelde soprane se poging die diepte en afronding wat dit kortkom. Mooi is ewig en geen donker of lelik kan dit uitwis nie.

Ja, daar is elke dag groot nuus. Kyk maar rond in restaurante en jy sal sien dat die wonderlikste onderhandelings aan die gang is. Nuwe liefdes ontluik en nuwe drome begin. Só het een van my jonger

 

Hoe nodig het die hart nie om ander nuus te hoor as wat vanaand om sewe uitgesaai gaan word nie.

vriende onlangs met die nuus gekom: Dis sy! Die groot ontdekking: Die volmaakte vrou bestaan wel. Skielik is alles anders. Geen groter gebeurtenis het die planeet in eeue getref nie. Hierdie twee het ontdek waarvan geen ander aardbewoner nog ooit eens gedroom het nie. ’n Mens sien in hul oë hoe hulle die mensdom bejammer oor hul armoede en onkunde: Die armsalige res van ons wat nog nooit ’n liefde soos hulle s’n gevind het nie.

Hoe nodig het die hart nie om ander nuus te hoor as wat vanaand om sewe uitgesaai gaan word nie. Nie om soos ’n skilpad in sy dop te kruip en te maak asof slegte dinge nie gebeur nie, maar om te midde van die donker te sien dat daar ligte skyn. So kyk ek na die twee verliefdes en ek weet dat daar dinge groter as die aandnuus is. Dinge wat langer gaan hou. Want alles sal ophou, behalwe, meen Paulus, geloof, hoop en liefde. En die grootste hiervan is die liefde.

In hierdie dae, met ’n verliefde paartjie in die omgewing, stem ek heelhartig saam.

  • Celia

    Dankie vir sielskos en met elke rubriek ‘n nuwe blik op die klein dingetjies waarvoor ons so innig dankbaar kan wees!

  • marina buitendag

    Dankie vir die sielskos.

    Ek lees dit altyd heel eerste,

    Het dieselfde beleef met my dogter wat op 22 Junie getroud is.Sien die liefde bestaan tog nog ten spyt van wat om

    ons gebeur.Die liefde bly maar die grootste!!

  • Yvette

    Koos, dankie, ek het iets "special" gesoek, en ek het dit in jou artikel gekry!