Dit laat jou dink

“My hart mis ‘n goeie kuier” – oorsese leser vertel

“My man is soos ‘n klein seuntjie oor tegnologie. Ons het alles van iPhones, Skype, telefone en internet. Alles maniere om te kommunikeer, maar ai, my hart mis die goeie ou boerekuier met my hartsmense, vriende en kollegas.

“Praat maar met mekaar oor ‘n stomende koppie koffie en dekadente stuk koek, op ‘n parkbankie, in ‘n restaurant of terwyl julle stap . . . Woorde is belangrik, maar vorm net krummels van jou boodskap. Uit jou oë straal jou siel.

“Jou liggaamshouding is die emosie-instrument om jou boodskap te versag of te versterk, jou hande die verfkwaste wat jou boodskap inkleur en ophelder. En aanraking die strelende wonderroom wat die eina-seer meteens kan laat verdwyn. Net woorde is soos droë roosterbrood.

“Tower dit om na roomys deur te praat met jou mond, oë, liggaam en hart.”

Renza Vermeulen van Epsom, VK (opgedra aan verlore vriendskappe)