Dit laat jou dink

NKD wil platinum gaan met album

Dit het begin by Idols 2005. Beoordelaar Dave Thompson van Sony Music het drie finaliste ná die kompetisie gevra om een liedjie op te neem. Toe word Nicky de Lange van Bloemfontein, Kesha Charlton-Perkins van Randburg en Deidré Visser van Centurion die gewilde NKD, die eerste vroulike trio in SA wat uit gewese Idols-deelnemers ontstaan het. Hulle behartig hul eie sake en skakelwerk. En hulle sing die SA musiekbedryf aan die brand met hul tonne energie. Die bekendstelling van hul tweede album – Step Right Up – die afgelope naweek (Sondag) in Kaapstad, val saam met hul landwye toer. Op dié album is daar ’n lekker verrassing vir Madonna-aanhangers, vertel hulle aan Mercy Morkel.

Jul nuwe album bevat ’n paar Afrikaanse snitte. Verklap meer.

Daar’s vier – 7×70, Hou my vas, Hallo en ’n Mynie Grove-liedjie, wat sy 25 jaar terug geskryf het. Ons noem dit Malle Meule Malhuis Moeras, maar op die album is dit Mamma, Kom Haal My. Ons het net ons NKD-“twist” daarop gesit! Hou my vas en Hallo is deur NKD geskryf. Hallo ’n ongelooflike mooi ballade! Dit gaan daaroor dat mens soms voel of jou geluk uitgehardloop het en jy vra waar “lady luck” is, hoekom het sy jou verlaat het en als nou so moeilik gaan. Almal bereik só ’n punt in hul lewe en daarom het ons besluit om daaroor te skryf. 7×70 is geskryf deur Marius Brouwer, ons vervaardiger. Mense verwar dit gereeld met Die Broers se treffer 70 x 7! Marius het absoluut net die beste uit NKD gehaal met dié album. En die eindresultaat is fantasties!

Hoeveel liedjies is daar?

Altesame dertien, waarvan twee nuwe weergawes is, naamlik Mamma, Kom Haal My en Ray of Light, wat ons heeltemal verander en in ’n ballade verwerk het. (Laasgenoemde gaan ’n lekker verrassing vir Madonna-aanhangers wees!)

Jul eerste toer was ’n groot sukses. Gaan julle dit dié keer oortref?

Ons pak dié toer self aan en sit die hele program op ons eie aanmekaar, saam met LG Mobile. Sover is die Step Right Up with NKD powered by LG Mobile-toer ’n groot sukses. Ons wil graag terugkyk en tevrede wees met goeie werk.

En die orkes wat saam op jul road show gaan?

JAAAAA! Hul is ’n great groep ouens! Op tromme het ons vir Rudolph, op kitaar vir Werner en op baskitaar vir Jan!

Wat was jul beste optrede ooit?

Nelspruit – InniBos. Daar was 39 000 mense en ons was op die hoof-verhoog. Dit was ongelooflik! ’n Ander groot geleentheid was om saam met Westlife te toer!

Watter lesse het die vermaaklikheidswêreld julle geleer?

Deidré – Volg altyd jou sesde sintuig. Ek het ook geleer om altyd ander te raad te vra en om liefde en vrede die grondslag van enige situasie te maak.

Nicky – Ek het geleer hoe belangrik familie en geloof is. Familie staan by jou deur dik en dun. En wanneer ek terugkyk oor die afgelope vier jaar, besef ek hoe groot God is! Ek lees ook my kontrakte mooi deur! Hehe!

Kesha – Die bedryf kan baie druk op ‘n verhouding plaas, maar ek en my kêrel het dit die afgelope vyf jaar goed hanteer. Ons het geleer om tyd vir mekaar te máák, al is dit tien minute. Ek leef net een dag op ‘n slag en begin dit soggens met ‘n gym-sessie. Dis baie ontspannend. En ek skakel by rekenaar saans om sesuur af!

Die geheim vir jul sukses?

Dit lê definitief daarin dat ons drie is en nie een nie. Ons is altyd daar vir mekaar en as die een af is, dra die ander twee haar. Ons probeer altyd onsself bly met ons voete plat op die grond!

 

Liefdadigheid lê vir julle na aan die hart.

Nadat ons ’n Carte Blanche-program gekyk het, wou ons net al die hondjies help wat só in die moeilikheid was! Daar moet geveg word vir diere wat nie ’n stem het om op te staan vir hulself nie!

Reik Suid-Afrikaners genoeg uit na mekaar?

NKD dink mense sal nooit genoeg kan uitreik na mekaar nie. Hoe meer goed daar in die lewe is, hoe beter. En met die verkiesing ophande, moet veral jong mense bewus wees van die impak wat hulle op ons toekoms kan maak.

Toekomsplanne?

Om platinum te gaan met die tweede album! En ons wil eers gróót naam maak in ons eie land voordat ons dink aan oorsee gaan.