Magriet Smit

Dit laat jou dink

Nou of nooit – Magriet Smit PLUS haar 5 wenke

Soms val alles net in plek en jy weet: nou moet jy spring en daardie één ding aangryp waaroor jy passievol voel. Magriet Smit van Strand het.

Magriet Smit, ’n enkelma van die Strand, het ses jaar gelede met blinde vertroue bedank as skoolsekretaresse en haar eie leesterapie-program begin. Vandag word Word4Word (www.word4wordrt.co.za) landwyd én in Namibië gebruik.

Terugreis na myself

“As rykmansvrou in die Paarl het status en mooi dinge my gelukkig gemaak. Ek het geen selfwaarde gehad nie en myself ter wille van mense se goedkeuring verloën. My identiteit was gekoppel aan my man – my ridder op ’n wit perd. Ná ’n paar jaar het ek selfondersoek gedoen en nie gehou van wat ek sien nie.

“My kinderjare was moeilik. Ek was as aangenome kind blootgestel aan baie emosionele seerkry. Ek is gereeld oortuig van hoe lelik ek is en hoe min ek werd is. Tydens my huwelik was ek vasgevang in die ander uiterste, ’n glashuis. Ek kon nie werklik uitreik na ander of hulle na my nie.

“Ons egskeiding was die vrug van vele slegte besluite. Ná agt jaar waarin ek goed versorg was en sekuriteit geken het, was ek skielik die broodwinner.”

Buite my gemaksone

“As enkelma van my seuntjie, Niel, nou 7, het ek baie gehuil. Ek het ’n pos as skoolsekretaresse aanvaar en smiddae leesklasse aangebied. By my voormalige man se oogkundige praktyk het ek gereeld kinders gehelp met leesprobleme. Ek kon later sien wat help hulle om beter te lees. ’n Idee het toe al by my posgevat.

“Kort hierna was ek in ’n motorongeluk wat my vir ’n wyle ontmoedig het. Ek het niemand gehad om my te help nie. Maar in dié moeilike tyd het die strategie virmy leesterapie-program Word4Word by my opgekom. Ek glo elke ma is ’n gebore onderwyser. As jy haar en die opvoeder kan help om te doen wat hulle kan, met dit wat hulle het waar hulle is, help jy gesinne en gemeenskappe.

“Van die begin af het die programsoos my reddingsboei gevoel. Ek het iets unieks gehad wat kon vlerke kry. Ek het twee weke lank elke aand gewerk aan die strategie wat vrywilligers in vigs-weeshuise sou toepas. Maar daar was nie geld om dit in werking te stel nie. Toe my aanneempa skielik aan ’n hartaanval oorlede is, het ek so alleen op aarde gevoel. Maar my klein erfporsie sou my in staat stel om my program toe te pas. Alles het in plek geval.”

Nie meer 9 tot 5

“Ek het bedank sonder ’n plan, maar ek het geweet die vrede in my hart beteken ek het die regte besluit geneem. My vriende kon nie glo ek sou suksesvol wees nie. Ek was vantevore iemand wat nie eens saans alleen wou ry nie.

“My besluit het my bemagtig om ook ander veranderinge te maak. Ek het Melkbosstrand toe getrek, ’n kantoor gehuur en nog soortgelyke leesprojekte ontwikkel wat kinders en vroue kon bemagtig.

“Om weg te stap van die bekende het uiteindelik ’n beter lewe vir ons beteken. My seuntjie was gelukkiger, want ek kon van die huis af werk. Dit het al hoe makliker geword om op my droom te fokus en vir die lewe kans te sien.”

Magriet Smit

Magriet Smit

 

5 Dinge wat Magriet geleer het

Swaarkry kan ’n verskoning word. As jy ’n slagoffer bly, gaan jy nooit daardie lewensveranderende besluit kan neem nie.

Deur mense te help, help jy jouself.

As jy oor jou toekoms twyfel, identifiseer jou passies. Dit gee momentum aan jou besluit.

Oornagsukses bestaan nie. Jou “oomblik” gaan vele vrese, alleen-ure en groot besluite wat ’n impak op baie lewens het, tot gevolg hê. Dis ’n proses wat jy moet bestuur.

Nóg inspirasie