Catherine Eybers

Catherine Eybers

Dit laat jou dink

Nou of nooit – Catherine Eybers PLUS haar 5 wenke

Soms val alles net in plek en jy weet: nou moet jy spring en daardie één ding aangryp waaroor jy passievol voel. Catherine Eybers van Barrydale het.

In haar 20’s sou Catherine Eybers van Barrydale nooit kon droom dat sy skuins voor haar 40ste verjaardag haar korporatiewe uitrustings sou verruil vir ’n sjefsjas om aan die hoof van ’n kombuis vir ’n werklikheidstelevisiekosprogram soos Kokkedoor te staan nie.

Saadjie geplant

“Ek het byna twintig jaar gelede begin werk as sekretaresse by ’n groot melkproduktemaatskappy se bemarkingsafdeling. Hoe ironies, want ek het nooit van kosmaak gehou nie! Die kombuis was nie my natuurlike habitat nie.

“As skakelbeampte en later as bemarker van kosprodukte het ek kosfoendies soos Errieda du Toit en Francois Ferreira leer ken. Ek het begin geesdriftig raak oor die kosbedryf.

“In 2010 het ek besluit om by Francois se sjefskool op George, Eden School of Culinary Art, ’n diplomakursus te volg. Ná een en ’n half jaar agter die boeke en kospotte het ek my diploma in Kulinêre Kuns verwerf.

“Ek het al hoe meer besef ek moet die korporatiewe wêreld los en met my nuutgevonde passie woeker. My skryfliefde kon ek ook begin uitleef deur ’n kosblog [lemonandthedachshund.wordpress.com].

“Dit was toe reeds ses jaar dat ek ietwat ontuis gevoel het in my werk as bemarker. Naby my 40ste verjaardag het die onrus my werklik geslaan.

Hartsomwenteling

“Ek het besef jy moet gaan na waar jou passie jou lei. Myne was die koswêreld. Dit was ’n stadige maar sekere waterskeiding. Ek het alte goed geweet my hart is nie meer in bemarking nie. Dié wêreld het vir my te plastiek en aangeplak begin voel teenoor die eerlike wêreld van kos.

“Ek het steeds oor my nuwe lewensrigting gewonder. Sou dit ’n stap in die regte rigting wees? En wat volg daarna? Waar sou ek geld kry? As enkellopende moet ek vir myself sorg.

“Mettertyd het ek geweet waaroor dit werklik gaan: Ek het ’n nuwe uitdaging nodig gehad en wou vir myself ’n punt bewys. Ek wou ’n loopbaan in die kosbedryf begin.”

Nuwe horisonne

“Met dié droom het ek bedank en elke oggend daarna in ’n koue sweet uitgeslaan. Gelukkig was my netwerk daar om ook as kosstileerder my vlerke te sprei. Kosstilering en fotosessies is fassinerend: jy begin ‘skoon’ en kleur dit in met nuwe gedagtes en resepte.

“Daleen van der Merwe, ’n uitgewer van kookboeke, het my kort daarna ’n kans gegee om resepte te ontwikkel vir 7de Laan vier fees, dié sepie se tweede kookboek. En toe is daar die kans om hoof van die kombuis vir kykNET se Kokkedoor te wees.

“My besluit is makliker gemaak deur die ondersteuning van ongelooflike vriende en familie. Dit het baie vir my selfvertroue gedoen.

“Hierdie keuse het my ander hartswense verwesenlik. Ek is in die Karoo gebore en lief vir die platteland. Ek kon toe na Barrydale verhuis. Nou kyk ek verbaas na besige stadsmense wat altyd gejaagd is. Ek kry soms so ’n kort wankelrige oomblik dat ek wonder hoekom ek nie meer deel is van die warboel mense in ’n haas nie … En dan weet ek my nou-ofnooit- oomblik was die beste ding wat met my gebeur het. Jy moet net dinge doen en woon op ’n plek wat jou sielerus gee.”

Catherine Eybers

Catherine Eybers

5 Dinge wat Catherine geleer het

Omring jou met positiewe mense wanneer jy van lewens- en beroepsrigting verander sodat jy hulle as klankborde kan gebruik. Vermy negatiewe mense.

Jy is net werklik suksesvol as jou hart betrokke is. Maak die hartstoets jou riglyn vir sukses.

As iets nie werk nie, beteken dit nie jy het misluk nie – jy kan uit alles wat jy aanpak iets leer. Jou oomblik is dalk ’n proses en nie ’n kitsklaar-oomblik nie.

Wanneer jy in ’n nuwe rigting beweeg, kry ’n mentor wat jou goeie en sterk punte kan raaksien.

Soek altyd nog ’n nuwe uitdaging deur aan te hou leer. Dit sluit deure oop.

*Hierdie storie kom uit die Januarie 2014-uitgawe van SARIE

Nóg inspirasie