VIDEOGREEP: YouTube

VIDEOGREEP: YouTube

Dit laat jou dink

Internasionale Vrouedag: Waar is óns emoji’s?

Dit is Internasionale Vrouedag – beslis ’n dag om te vier! So, watter emoji stuur jy aan jou vriendinne oor die planne wat jy wil maak? Dit blyk dat ons vroue net naels kan gaan verf, hare kan laat doen en wel, trou. Ons vra: het jy al ooit régtig na die emoji’s op WhatsApp en op jou ander apps gekyk?

Always, ’n vervaardiger van vroulike produkte, het met hul #LikeAGirl-veldtog meisies gevra om bietjie te kyk na die gesiggies wat hulle daagliks op hul selfone gebruik.

Voor jy na die video kyk, loer na die gesiggies wat jy gebruik om jou emosies en aktiwiteite uit te beeld. Wat let jy op as jy kyk? Sien jy ’n beroepsvrou of ’n sportsoort wat deur ’n meisie gespeel word?

Kyk die video en die meisies se antwoorde hier:

Watter emoticon sal jy wil sien as jy een kon maak? Vertel ons!

Geskiedenis van Internasionale Vrouedag

Die eerste amptelike Internasionale Vrouedag is op 8 Maart 1911 gehou. Die Duitser Clara Zetkin het ‘n leiersrol gespeel en die dag saam met 100 vroue uit 17 lande gereël. Vroue in talle lande het dié dag betogings gehou om gelyke regte vir vroue te bevorder.

Zetkin-hulle het veral klem gelê op die kwessie dat geen vrou in die wêreld stemreg gehad het nie. In 1918 het Brittanje vroue uiteindelik toegelaat om te stem en verlede jaar kon vroue in Saoedi-Arabië vir die eerste keer stem.

Suffragette

FOTO: Plakkaat

Die rolprent Suffragette, met Carey Mulligan en Meryl Streep, het onlangs die aandag op vroueregte gevestig en “nuwe feminisme” gevestig.

Prof. Deirdre Byrne, hoof van Unisa se instituut vir genderstudie, sê daar is nie sprake van “nuwe feminisme” nie. “Feminisme vandag is steeds dieselfde as daardie tyd. Feministe sê nie mans en vroue is dieselfde nie. Ons glo wel dat vroue dieselfde regte ten opsigte van veiligheid, geluk, geldelike bronne, opvoeding en die vervulling van hul drome as mans moet geniet. Suffragette maak dit duidelik dat die wortels van feminisme lê in stemreg vir vroue in Engeland.”

Dié Britse historiese drama is geskryf deur Abi Morgan. Maud Watts, vertolk deur Carey Mulligan, beland in ’n suffragette*-opstand waar sy ook Violet (Anne-Marie Duff ), een van haar kollegas by ’n wassery, raaksien.

Later word die vroue by die wassery toenemend betrokke by die stryd om stemreg vir vroue. Maud word veral gemotiveer deur Emmeline Pankhurst (Meryl Streep), ‘n rol wat gegrond is op die ware verhaal van ‘n vrou wat van 1858 tot 1928 geleef het. Prof. Byrne reken mense leer meer oor vraagstukke deur visuele impulse soos rolprente en televisie as wanneer hulle byvoorbeeld na ’n seminaar-lesing luister.

“Daar behoort ’n groot teikenmark vir dié rolprent te wees. Feministe moet nog ’n ver pad stap. Slegs 4% van alle uitvoerende hoofde in Suid-Afrika is vroue, en elke vier minute word ’n vrou gewelddadig aangeval. Miskien help dié rolprent ook om te wys ‘feminis’ beteken nie mannehater nie.”

*Suffragettes verwys na lede van vroue-organisasies wat hulle sowat 100 jaar gelede vir stremreg beywer het – in die besonder in Brittanje.

Die gedeelte oor Suffragette kom uit ons SARIE se Maart 2015-uitgawe. Koop dit nou.

Maart-voorblad 2016 Karen zoid

Lees ook: