ys4f8343
Dit laat jou dink

Op vrouwees

Deesdae word baie klem gelê op duur skoonheidsbehandelings wat vroue minstens sóveel keer per maand moet hê. Ek ken ’n hele paar vroue wat nie sulke skoonheidsessies kan bekostig nie, maar tog so straal van vroulikheid dat hulle dit net nie kan wegsteek nie. My een vriendin met die sagte hande en glinsterende hare het ’n warm hart wat net wil géé. Sy lag oor haar nuwe plooitjies, en die dag as sy ’n skoonheidsbehandeling nodig het, hou niks haar terug nie. Sy doen dit behoorlik, en vier haar vroulikheid met komkommerskywe op die oë, ’n borrelbad en ’n glasie vonkelwyn!

Sonder om afgeskeep te voel tussen vriendinne wat wel al die luukses kan bekostig, lig sy eerder haar kop, glimlag met oorgawe, en fluister dan saggies in my oor dat haar helderpienk lipstiffie ’n geskenk van SARIE is.

Sy voel soos ’n million dollars!

Ek besef opnuut: Om goed versorg te wees en fantasties te voel hoef jou nie jou hele salaris te kos nie. Niks keer jou om elke dag vrouwees behoorlik te vier nie.


Elaine Coetzee, Knysna

  • Elzett Kotze

    Dit is pragtig, en ek wens so mense wil dit meer besef vandag. My mantra – ‘Geld kan nie geluk koop nie, dit kom van binne’

  • Marianne Jacoby Brisbane Australia

    Dit is so waar – werklike skoonheid kom nie uit n potjie of van skoonheidsbehandeling nie – Dit is in jou oe – jou pragtige bree glimlag en net jouself wees. Vriendelikheid en opregtheid verbloem baie krakies wat die lewe ons gegee het.

  • Freda Nieuwoudt

    Ja, vrouwees is ‘n geskenk uit God se Hand. Hy kyk na ons harte en so behoort ons ook na mekaar te kyk. Ons vrouens se menswees, vriendinne wees, ma en vrouwees kom alles van binne, hoe ons daaroor dink en dit benader. God maak ni flopse nie, so….vrouens ju is ALMAL uniek en spesiaal. Geniet elke oomblik daarvan net soos jy is.