IMG_3418
Dit laat jou dink

SA vroedvrou ‘omarm’ Midde-Ooste

Sy het kleintyd al geweet sy wil mense help . . . En tree vir tree het Zani Prinsloo, vroedvrou, haar loopbaan uitgetrap. Van Witbank in Mpumalanga tot in die stowwerige Djedda in Saoedi-Arabië, Khost in Afganistan tot in Pakistan…

Die vrou wat die lewe deur ’n rooskleurige bril beskou. Dít is hoe haar vriende na haar verwys. Sý sê: “Ek is ’n tawwe meisie.” En jy gló dié woorde as sy meer vertel oor haar loopbaan. Tot onlangs nog, in Mei 2013, was Zani Prinsloo (37) se adres Médecins Sans Frontières (MSF – Dokters sonder Grense) se kraamhospitaal in Khost, ’n stad met
een miljoen inwoners in die noorde van Afganistan. Een van die talle projekte van dié onafhanklike organisasie wat wêreldwyd mediese hulp in humanitêre krisisse verskaf.
Einde September vanjaar het sy vir ’n maand ingeval by haar nuwe werkplek: die Fellini-hospitaal in Jabal al Akrad in die oorloggeteisterde Sirië. Sy het baie uitgesien na die son en goeie weer van daardie wêreld, maar erken dat die senuwees vooraf ’n bietjie geknaag het. Dán het sy maar gedink hoe sy die ma’s in ’n oorloggeteisterde land sou help
en hoop gee.

In Desember is sy op pad na ’n vroedvrou-pos by die MSF-ondersteunde Timergara-hospitaal in Pakistan. Gedurende haar jaarlikse vakansie in Suid-Afrika gesels sy met SARIE, en lig die sluier oor haar pas afgelope werk in Afganistan. ’n Land waar vroue swaar kry en onderdruk word. En wat veral deur die Afgaans-Amerikaanse skrywer
Khaled-Hosseini aan baie van ons tuisgebring is in The Kite Runner (2003) en A Thousand Splendid Suns (2007). Volgens onlangse statistieke het net 5,8% van Afgaanse
vroue hoërskool-opleiding, net 15,7% is deel van die arbeidsmag en sowat 460 uit 100 000 sterf wanneer hulle ’n baba in die wêreld bring. (Wikipedia)

Die meeste van die vroue weet ook nie hoe oud hulle is nie. Hulle leef volgens die Islamitiese of Hijri-kalender, en gewoonlik is die vroue bloot een van drie “ouderdomme” – 19, 28 of 35. Baie mense in Afganistan besit ook nie identiteitsboekies nie. Die hospitaal waarby Dokters sonder Grense in Khost betrokke is, is begin omdat dié stad net een openbare hospitaal het met twintig beddens vir kraam en voor- en nageboortesorg, boonop met bedenklike higiëne, vertel Zani. Die agttien private klinieke is baie duur. En chirurgie word net by een van dié klinieke gedoen. “Die hospitaal waar ek gewerk het, was net vir vrouepasiënte. Daar kon hulle ontspan, lekker gesels, grappe
maak, op die vloer sit en eet of tee drink. Hulle het nie eens die burka gedra nie. Ek praat ’n bietjie Pasjtoe, wat deur die meeste Afgane gepraat word, en het dit geniet om
saam te kuier. Ek het dié ervaring trouens omarm, want ek het soveel geleer. Om die dankbaarheid in hul oë te sien as jy hulle help, is ongelooflik. Dit voel goed om te weet jou
werk maak sáák, gee ander hoop.”

IMG_3309FOTO: Zani saam met medici van die MSF-span in Khost, Afganistan

Zani het dikwels geskenke van die swanger vroue ontvang. In hul kisklere – soos wye, kleurryke rompe met blinkertjies en spieëltjies – en reg vir die groot kraam by die hospitaal, sou hulle haar al waggelend tegemoetloop. Soms het hulle ’n lewende bok of dooie hoender vir haar gebring, of ’n stewige tros piesangs. Om dankie te sê. “Ek moes die bokke weggee. Die ‘babafabriek’ het my te besig gehou.”

Die ses maande daar – sy is in November 2012 daarheen – sal sy vir niks verruil nie, maar sy gee toe dit was ’n baie uitdagende tyd. “Dit was die reënseisoen,’’ onthou sy. “Aaklige weer, soms baie koud – tussen nul en agt grade Celsius! En daar is nie sprake van werksure nie. Jy’t gewerk van halfagt soggens tot saans wanneer jou werk klaar was. Sowat veertig babas is daagliks gebore en ons was net vier vroedvroue wat alles moes behartig. Maar elke geboorte was baie spesiaal. Om te dink jy help met die proses van lewe. Geboorte bly ’n wonderwerk.”

Sy onthou die keer toe hulle laat die aand, sonder die hulp van ’n tolk, dringend bloed moes kry. B-positief. Die ma het reeds haar baba verloor en hulle moes blitsig werk om háár lewe te red. Elke minuut het getel . . . “Ons kon nie moed opgee nie. Ek is na ’n tent vir sekuriteitswerkers langs die hospitaalterrein. Ek het in my beste Pasjtoe verduidelik ’n vrou het bloed nodig. Binne minute het sewe mans bloed geskenk. Vyf van hulle was B-positief. Ons kop was deur. Oor die volgende twee dae het mense steeds gekom om bloed te skenk. Die gevaar was verby, maar die gemeenskap het steeds saamgestaan. Dit het my so ontroer.”

Haar take het ook registrasie en voor- en nageboortesorg ingesluit. “En soms is ons in die middel van die nag uitgeroep vir ’n nood-kraamgeval.” Die khokhi’s (skoonma’s) het haar soms met die hande in die hare gelaat. “Hulle meng met alles in. Die skoondogters leef in vrees vir hulle en het dikwels die vroedvroue se raad verontagsaam en na die skoonma geluister. “Soms wil die khokhi nie hê die skoondogter moet ’n keisersnee hê nie, want volgende week is sy nodig op die lande. Sy moet mielies, hawer en koring plant of oes. En boonop het sy waarskynlik nog ses kinders by die huis wat die khokhi nie wil versorg nie…” Een van die grootste frustrasies was om deur ’n mediese tolk te werk. “Maar jy móés eenvoudig aanpas!”

IMG_3148FOTO: Kersoggend 2012 buite ons woonkwartiere

Afgaanse vroue sien neer op borsvoeding vir pasgeborenes. “Die babas drink die eerste drie dae net groentee. Die ma’s gee dit vir hulle met ’n teelepeltjie in. Hulle glo borsmelk is
onrein, maar die tee gee die kleintjies vreeslike krampe. Dit gaan nog lank neem voor ons
hulle oortuig dis nie gesond nie.” Die babas kry eers ná drie dae borsmelk, want dán, glo
hulle, het dit kans gekry om suiwerder te word. “Geboortebeperking is glád nie ’n prioriteit
nie. Die meeste vroue kry ses of sewe babas. Nie net die arbeiders op die platteland nie, ook baie gesofistikeerde stedelinge. Hulle reken die land het soveel mense in oorloë verloor, hulle moet ‘opmaak’ vir al die sterftes.” Zani ontstel haar nie meer daaroor nie. “Ek lig altyd net my kop op, glimlag, en glo môre gaan dinge beter. Jy kan nie toelaat dat dinge jou strem wat nié uitwerk soos wat jy hoop nie. Anders sal jy niks uitrig nie.”

Vanwaar dié insig? Zani het nie geweet wat sy wil doen nadat sy in 1993 aan die Hoërskool Generaal Hertzog in Witbank, Mpumalanga, gematrikuleer het nie. “Maar ek het kleintyd al geweet ek wil reis en mense help. En ek was nog altyd avontuurlik en is straatwys.” (Sy het al 42 lande besoek en glo reis leer jou baie van die wêreld.) “My streng plattelandse opvoeding het my voorberei vir harde werk. As kind was ons elke Sondag in die kerk. Ek en my boers, Stefan [nou 30] en Werner [nou 33], het my ma, Sheila, help kos- en tuinmaak, skottelgoed was en huis skoonmaak. Ek was nog nooit bang vir moue oprol nie . . . Haar ma het altyd gesê: “Jy kan alles verloor, maar nooit jou geleerdheid nie.’’ Voor sy die wêreld gaan verken het, is dit dié wyse woorde wat in haar kop bly vassteek het.

IMG_3245FOTO: Deel van my afskeidsgeskenk in Afganistan was dié plakkaat wat die vertalers vir my gemaak het.

Daarom het sy ná matriek deur die Suid-Afrikaanse Weermag ’n kursus in verpleging gevolg. Hier het sy ook haar vuurdoop in kraamverpleging gekry. Sy het later, in 2000, ’n diploma in neonatale sorg aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) verwerf. Zani was kriewelrig en het in 2002 haar tassies gepak. “Hoe kan jy nié gelok word deur die goeie werksvoordele, ruim salaris en reismoontlikhede in Saoedi-Arabië nie? Aanvanklik het ek in Djedda by die Koning Fahadweermaghospitaal se eenheid vir neonatale sorg gewerk. Dit was ’n groot aanpassing, want daar was werkers van reg oor die wêreld. Die werk was dikwels baie uitdagend. Ná ’n ruk het ek aanbeweeg na die Koning Abdulazizweermaghospitaal, ook in die neonatale eenheid. Dié hospitaal versorg ook die koningsgesin.”

Die vrouepasiënte wat dié hospitaal besoek het, was baie konserwatief. Hulle het handskoene gedra, was geklee in die swart abaja-gewaad en hul Moslemmans kon tot vier vroue hê, vertel sy. In die werksplek is sy altyd gerespekteer. “Baie van die dokters het Westerse blootstelling gehad omdat hulle ook in lande soos Kanada, Amerika of Engeland gewerk het. Ek het nooit my hare bedek nie en net in ’n doktersjas gewerk.”
Intussen het sy deur afstandstudie in 2008 ook haar graad in maatskaplike werk deur UNISA verwerf. Sy wou nie in Djedda bly tot “ek sestig is” nie omdat sy haar horisonne wou verruim. Sy het meer stimulasie gesoek. Jare lank het sy geldelik tot MSF bygedra, baie oor hulle opgelees en sy wou graag by ’n wêreldwye organisasie betrokke wees. “Ek het net nooit die guts gehad nie.” Op haar verjaardag op 3 September 2012 het Zani haar
moed bymekaar geskraap en aansoek gedoen. “Dieselfde dag nog het ek gehoor ek word oorweeg vir iewers in Bangladesj in Suid-Asië, of vir Khost in Afganistan. Maar dit was asof ’n skakelaar vir Afganistan in my kop aangeskakel is.”

FOTO’S: Al ses die babas is met ‘n keisernsnee in die wêreld gebring ná komplikasies.

Sy het haar werk bedank en in Oktober daardie jaar is sy twee weke lank na Vitorchiano, ’n uur se ry van Rome, vir opleiding deur MSF vir die nuwe fase in haar lewe. Dié lewe maak vir haar sin. “Nie almal sal van dié soort lewe hou nie. Ek verlang soms na my ma se groenboontjies. Of om by die huis te wees as die Springbokke ’n groot wedstryd speel. En dit sal lekker wees om vir Bon Jovi te gaan kyk as hulle in Kaapstad sing.”
Maar die lekkerte van dié bestaan is dat sy vakansies eksotiese dinge kan aanpak: rekspronge by die Victoriawaterval in Zimbabwe, ’n meditasiekamp in Indië, ’n skivakansie
in Swede. “Ek glo jy moet elke jaar iets uitdagends doen sodat jy genoeg ‘mal’ stories het om op 79 te vertel!’’

En ja, sy sal glad nie omgee om nog haar eie kinders ook te hê vir wie sy kinderpartytjies kan reël nie. “Soms droom ek van ’n mooi huis met ’n hond en ’n wit heining. My vriende dink mý lewe is so glam en ek dink weer húl lewens is so wonderlik, want hulle is goeie ma’s.” Maar vir nou leef sy haar droom.