sr1212 Brand vrou storie
Dit laat jou dink

‘Ter gedagtenis aan Henk’

Ná ’n vliegongeluk het sy nie net oor haar man se dood gerou nie, maar ook die Annerie wat sy ‘verloor’ het. Maar vandag weet sy sy het oorleef om ’n verskil vir ander brandslagoffers te maak . . .

In Mei vanjaar het ek besluit om die Hero Burn Foundation te stig ter gedagtenis aan my liewe man, Henk du Plooy. Dis ’n niewinsgewende organisasie met die doel om ander brand-oorlewendes en hul gesinne, waar moontlik, emosioneel en finansieel by te staan. Soms behels dit net die neem van ’n bord kos vir gesinslede wat elke oomblik van die dag by die hospitaal deurbring. Of hospitaalbesoeke en bystand aan slagoffers wat vrede moet maak met hul nuwe voorkoms. ’n Handdruk voor elke rekonstruktiewe operasie, of om gesinne wat alles in ’n brand verloor het te help om klere en meubels in te samel. Hoe belangrik al hierdie dinge is vir diegene wat ’n brand oorleef, weet ek vandag omdat ek self daar was.

Ek en Henk was op 18 Oktober 2008 in ’n vliegongeluk net buite Vaalwater in die Limpopo. Dit het my lewe onherroeplik verander. Die dag het begin as ’n gewone
wegbreek-naweek na ’n wildplaas saam met familie. Die Saterdagmiddag het ek en Henk vir ’n besigtigingsvlug oor die gebied gegaan saam met sy stiefpa, Spencer Watson. Spencer was die vlieënier en eienaar van die Piper Cherokee, ’n sessitplek-vliegtuig. Nooit dink jy daardie potjie wat jou man aan’t maak was, sal uitbrand omdat jou geliefdes jaag om langs jou hospitaalbed te wees nie.

Jy het jou huis die Vrydagoggend vroeg verlaat vir ’n ontspanne naweek in die Bosveld, die vuil wasgoed nog in die mandjie en twee halwe koppies koffie op die kombuistoonbank, want jy kom Sondagmiddag terug om reg te maak vir die volgende werksweek. Ek het nie eens kon droom dat ek en Henk nooit weer na ons huis in
Pretoria-Oos sou terugkeer nie. Van die oomblik toe ek in die vliegtuig daarvan bewus geraak het dat ons besig is om aarde toe te val het die adrenalien begin pomp. Dit is
regtig so – sekondes voel soos minute en minute soos ure. Ek was bewus van elke vreesgedagte in my wese. Die slag toe die regterkantse vlerk die bome tref, was skokkend, maar niks kan jou voorberei op daardie oomblik as jy teen sowat 320 km per uur die grond tref nie.My hand was nog op Henk se skouer voor my. Daar was dadelik vlamme op en om ons al drie. Intense hitte en blou vlamme oorheers jou liggaam en denke op daardie oomblik. Ek kon nie beweeg nie, maar ek was bewus daarvan dat ek wel die ongeluk oorleef het. Henk het ook, maar in daardie stadium was dit vir my half
vanselfsprekend dat hy daar moet wees. Nooit het ek kon dink dat hy nié in hierdie lewe saam met my sou wees nie.

Foto’s: Ek en Henk op ons troudag in September 2006

Henk kon die deur by hom binne sekondes oopkry en hy was gou buite op die halwe vlerk. Ek kon nie beweeg nie, want sy gebreekte stoel het my vasgepen. In dié warboel van gebeure was ek intens daarvan bewus dat ek besig was om lewend te brand. Henk het besef ek is vasgekeer en het met sy lyf die spuitende vlamme van die voorste deel van die vliegtuig van my af weggekeer terwyl hy met ongelooflike krag die stoel van my afgepluk en my uit die vliegtuig getel het.

Spencer Watson is op slag oorlede. Vliegtuig-brandstof hou nie op met brand nie. In dié stadium het Henk besef ons moet so gou moontlik daar wegkom. Hy het my regterhand gegryp. Ons het deur brandende bosse en veld begin hardloop.Tussendeur het ons die vlamme op ons lyf probeer doodslaan, maar dit het bly vlamvat. Al my sintuie was in overdrive: kleure, reuke, klanke. Alles was duideliker en helderder. ’n Ooggetuie wat die vallende vliegtuig gewaar het, het dadelik in die rigting van die ongeluk gehardloop om
ons te probeer help. Hy het ons in die rigting van die naaste plaashuis beduie.
Teen daardie tyd was die meeste van die vlamme geblus.

Ek het gedink: Ons leef…Ons leef …En dit herhaaldelik aan Henk geskree: ‘Ek is lief vir jou en ons leef.’ Maar my man het as skild tussen my en die vlamme ingetree, en as gevolg hiervan het hy 75% derdegraadse brandwonde opgedoen. Inwendig was sy wonde nog erger. My brandwonde was oor 40% van my lyf, met brandskade aan my lugweg en longe. My linkerarm was op vier plekke gebreek, met erge senuweeskade. Ons het vier kosbare ure saam gehad terwyl ons na die private hospitaal in Lephalale (Ellisras) in Limpopo vervoer is. Vier uur totdat die dokter vir my gesê het: ‘Mevrou, jy moet jouself op die ergste voorberei. Jou man is kritiek.’

Ek het kort-kort die verpleegpersoneel gevra om my nie met morfien in te spuit nie, want ek is dalk verwagtend. Ons het so lank gebid om swanger te raak, en ek was so seker ons kon dalk wees. Maar dit was ons nie beskore nie. ‘Liefie, dankie dat jy my lewe gered het.’
Henk: ‘My prinses, ek is mos lief vir jou.’ Dit was ons laaste gesprek. Die dokters het Henk uit die vertrek gestoot vir ’n noodprosedure, want hy kon nie meer self asemhaal nie. Met my ma langs my bed het ons God gesmeek om my man te laat lewe. Deurtrek van morfien het ek gereeld my bewussyn verloor. Die dokters het besluit ons beste kanse op oorlewing is as ons dadelik na die brand-waakeenheid van die Netcare Milparkhospitaal
in Johannesburg oorgeplaas word. Ek en Henk is verdoof en aan ’n ventilator gekoppel, want ons kon nie op ons eie asemhaal nie.

Ek het vir die eerste keer drie maande ná die ongeluk in die waakeenheid wakker geword. Daar het ek die nuus gekry dat Henk net elf dae ná die ongeluk bly leef het. Ek was steeds aan ’n ventilator gekoppel en kon nie praat en my diepste hartseer met my ouers en familie deel nie. Ek was nie op my man se begrafnis nie. Die donkerste tyd van my lewe het my oorval. Ek was ses maande in die hospitaal en rehabilitasie-sentrum. Ek moes van vooraf leer om te loop, my hande te gebruik en alledaagse dinge te doen wat mense meestal as vanselfsprekend aanvaar.

Nadat ek uit die sentrum ontslaan is, het ek by my ouers op Hartbeespoort gaan bly, aangesien ek 24 uur per dag hulp en versorging nodig gehad het. Ongeveer ’n jaar en ’n paar maande nadat die ongeluk gebeur het, kon ek weer dinge op my eie doen en ’n lewe vir myself begin bou. Talle rekonstruksie-operasies en veloorplantings, pyn, pyn, pyn, intensiewe fisioterapie, arbeidsterapie, trauma- en sielkundige behandeling – dít is jou voorland as jy ’n brand oorleef. Ek was in ’n diep, donker gat en die skuldgevoel as
enigste oorlewende het my daagliks ondergekry. Deur die fases van rou het ek besef ek rou nie net oor my man nie,maar ook oor die Annerie wat ek in die vliegtuig verloor het.

In die maande wat ek in die hospitaal was, het ons familie en vriende ingegryp. Ons huis is opgepak en die inhoud is gestoor. Die motors is verkoop. Die impak op my en Henk se familie en vriende was oorweldigend. In die tyd wat ek in die hospitaal was, moes my ma ophou werk sodat sy elke dag langs my bed kon wees. Ek het my man, my picture perfect
lewe, my geluk en sakeonderneming verloor en ek is nooit weer terug na ons huis toe nie.

Ek het ’n wonderlike kring geliefdes wat my ondersteun en help waar hulle kan. Die ander held in my lewe was dr. Hugo Nel, die rekonstruktiewe plastiese chirurg. Sy toewyding aan
sy pasiënte is ongelooflik. Tydens ’n lewensveranderende trauma is ’n ondersteuningsnetwerk seker die belangrikste ding om jou bo te hou en deur te haal. Deur die laaste paar jaar se stryd om herstel en om vrede te maak met my nuwe voorkoms en status as weduwee, het ek besef ek het voor ons ongeluk nie ’n benul gehad waardeur ander brand-oorlewendes en hul gesinne gaan nie.

Stadig maar seker het ek besef daar was wel ’n doel met wat met my en Henk gebeur het. God se doel met my lewe was nie klaar nie. Ek het oorleef en moet leef om ’n verskil te maak. My geloof was my grootste anker. Meer en meer het ek begin uitreik na ander wat gebrand het. Die pyn, hartseer en verlange is steeds deel van my.Maar die wete dat ek ’n wesenlike verskil kan maak en ander oorlewendes kan ondersteun omdat ek self so gebrand het, maak die swaarkry die moeite werd.

Die Hero Burn Foundation kon die laaste paar maande bydra tot die mediese uitgawes van die brandoorlewendes by wie ek betrokke is. Dis net moontlik danksy borge se
skenkings aan die organisasie. Om ná ’n brand te herstel is ’n ongelooflike duur en lang proses. Sekere mediese fondse dek ’n minimale deel van die uitgawes wanneer jy eers uit die hospitaal ontslaan is, wat die nasorg nog meer bemoeilik. Die trauma om te brand is
onbeskryflik erg en in 80% van gevalle is die oorlewendes by hul positiewe terwyl hulle brand. Om dít te oorkom is ’n byna lewenslange stryd. Om boonop geldelik geknak te word is ondenkbaar. ’n Gewillige oor en skouer van iemand wat self gebrand het, word
opreg waardeer. Slagoffers besef hulle is nie alleen nie en dat ook hulle hoop kan gee aan diegene wat ’n brand oorleef het. Om’n brand fisiek te oorleef maak nie van jou ’n survivor nie. Jy moet daardie bewuste besluit neem dat jy ’n vegter is wat oorleef het en jou nuwe,
veranderde lewe met oorgawe gaan aanpak.

VIR MEER INLIGTING
Besoek die Hero Burn Foundation op
Facebook: http://www.facebook.com/
HeroBurnFoundation of volg die stigting
op Twitter: @HeroBurn