FOTO: Instagram  @caradelevingne

FOTO: Instagram @caradelevingne

Dit laat jou dink

Vermiste kinders: Dinge wat elke ouer móét weet

Die wêreld se aandag is op vermiste kinders sedert die 276 skoolmeisies op 14 April in Nigerië ontvoer is. Die sosiale-media-veldtog #BringBackOurGirls, wat deur verskeie bekendes ondersteun word, wys hoe dié storie mense wêreldwyd raak. Maar wat moet jy doen as jóú kind vermis raak? Lees verder.

Dit is maklik om jouself te distansieer van hartseer nuusstories, maar wat as so iets met jou gebeur? Daar raak elke 6 uur ’n kind in Suid-Afrika weg. Slegs 8% hiervan is ontvoerings, maar die skok om te besef dat jou kind vermis is, bly groot maak, nie saak wat die oorsaak is nie.

Lees meer hier oor die #BringBackOurGirls-veldtog.

Het jy geweet: Jy hoef nie 24 uur te wag voordat jy dit aanmeld nie. Doen dit so gou moontlik.

Wat om te doen as jou kind vermis raak

  • Hou altyd ’n onlangse foto van jou kind in jou beursie of op jou selfoon. In ’n noodgeval het jy dit dan dadelik beskikbaar.
  • Bêre die naam, adres en nommer van al jou kinders se vriende op jou selfoon. Let elke keer op as jou kind ’n nuwe vriend maak en doen moeite om elkeen te leer ken.
  • Wees betrokke in jou kind se lewe. Bou ’n vertrouensverhouding met jou kind, maar moet dit nie oordoen nie. Spandeer gehaltetyd met jou kind.
  • Maak jou huis ’n plek waarheen jou kind graag sy/haar vriende wil bring. Sodoende weet jy die meeste van die tyd waar jou kind is en sal hy/sy die vrymoedigheid hê om dinge met jou te deel.
  • Laat jou kind so vroeg moontlik sy/haar naam, adres en telefoonnommer leer. Ook jou naam en telefoonnommer.
  • Leer jou kinders om nooit alleen te loop nie, maar altyd ’n vriend saam te neem. Moet nooit jou kind alleen winkel toe stuur nie.
  • Neem jou kinders na die naaste hospitaal, polisiestasie en kliniek en wys hulle hoe om daar te kom. Wys landmerke uit om te verhoed dat hy/sy vermis raak. Leer jou kind om altyd dieselfde roete huis toe te neem. Indien hy/sy vermis raak, sal jy weet op watter roete om te begin soek.
  • Leer jou kinders om ’n geraas te maak wanneer hulle deur ’n vreemdeling genader word. Leer hulle om te skree of iets opvallend te doen wanneer hulle in die moeilikheid is. Dit kom dalk nie natuurlik nie.
  • Indien jou kinders Facebook gebruik, kry ’n manier om dit te monitor. Weet met wie jou kind praat, wys dat jy belangstel. Vereenselwig jouself met die nuutste tegnologie en netwerke.
  • Onthou die basiese reëls: Leer jou kinders dat vreemdelinge nie vertrou kan word nie. Hulle mag nie met hulle praat of saam met hulle in ’n motor klim nie.

Bron: Missing Children South Africa. Lees meer op hul webtuiste. 

Die Burger het berig oor Matie-student Ilzé-Dene se ontvoer-hel. Lees die storie hier.

Ken jy iemand wie se kind vermis geraak het? Lewer jou kommentaar hieronder of deel jou storie op ons Facebook- of Twitter-blad