Angela Brower
FOTO:

Angela Brower FOTO: Facebook

Dit laat jou dink

Vrou laai eie skok-foto’s van huishoudelike geweld op Facebook vir bewusmaking

Angela Brower (37) het besluit dat die tweede keer dat haar gewese kêrel haar geslaan het, sal die laaste keer wees. As deel van bewusmaking oor huishoudelike geweld het sy besluit om haar bebloede gesig op haar Facebook-blad te laai om die boodskap te stuur: dit was die laaste. 

“Ek het die fout gemaak om hom een keer terug te vat en alles het goed gegaan vir ’n ruk,” vertel Angela aan Huffington Post. “As jy nog nie daar was nie, verstaan jy nie waarom vroue terug gaan nie …”

Vroue wil die man glo as hy sê hy gaan verander, hulle verloor hul familie en vriende en begin om nie meer soos hulself te voel nie

- Angela in Huffington Post

Angela van Tennessee in die VSA se dapper daad om foto’s haar stukkend geslaande gesig te deel, het vinnig oor die internet versprei en verskeie publikasies het al oor haar foto’s berig en mense aan die praat gekry – presies wat haar doel daarmee was.

Haar ekskêrel het op 18 Mei na haar huis gekom om sy besittings te kry. Volgens Angela  het hy haar in die gesig begin slaan. Maar dit was nie die eerste keer nie. Dié keer het sy haar bewussyn verloor en toe sy bykom, was hy steeds besig om haar te slaan.

Angela het gelukkig weggekom nadat sy hom gesmeek het om haar te spaar ter wille van haar twee kinders, volgens Daily Mail.

Nadat sy by die hospitaal was, het Angela foto’s van haar beseerde gesig en bebloede oog op Facebook gelaai om aan ander vroue die gevare van huishoudelike geweld te wys en só bewustheid te skep.

Angela het aan die Huffington Post vertel dat die been rondom haar oog vergruis is en haar neus aan albei kante gebreek is in die aanval. Sy het reeds ’n operasie ondergaan en sterk goed aan.

Angela laai gereeld foto’s van haar herstelproses op Facebook en kry ongelooflik baie ondersteuning van vriende en selfs vreemdelinge. Haar veldtog op GoFundMe het reeds meer as die beoogde $9 000 (sowat R95 000) ingesamel. Haar mediese versekering dek slegs die helfte van haar hospitaal-onkoste.

WAT DINK JY VAN HIERDIE VELDTOG? MOES SY HAAR FOTO’S OP FACEBOOK LAAI OF NIE?

Geweld teen vroue in Suid-Afrika en waar om hulp te soek

Volgens Stop Gender Violence word een uit elke drie vroue in Suid-Afrika gereeld geslaan en fisiek mishandel. Dié organisasie bied ’n tolvrye nommer waar vroue vertroulik berading kan ontvang.

Hulle ontvang gemiddeld 2 000 oproepe per dag en die beraders kan in al 11 die amptelike tale van Suid-Afrika gesels.

Die nommer is: 0800 150 150

People Opposing Woman Abuse (Powa) is in Gauteng en bied hulp aan vroue wat mishandel word. Hulle bied berading, skuiling vir vroue en hul kinders asook regshulp aan dié wat dit benodig.

Kontak hulle by 011 642 4345/6  of besoek hul webtuiste.

Bronne: Huffington Post en Daily Mail