Screen Shot 2016-02-01 at 2.11.44 PM
Inspirasie

Eerste Suid-Afrikaner in die geskiedenis ontvang Michelin-ster!

Gister het ’n droom werklikheid geword – die eerste Suid-Afrikaner het ’n Michelin-ster ontvang! 

Jan-Hendrik van der Westhuizen van die restaurant JAN in Nice, Frankryk, het gister sy eerste Michelin-ster ontvang. Hy is die eerste Suid-Afrikaanse restaurant-eienaar wat dié prys ontvang het.

Dié ster is wêreldwyd die hoogste toekenning vir enige sjef. Dit word deur ’n paneel uitgelese beoordelaars toegeken. Die toekenning is deur die buiteband-maatskappy Michelin begin om uitstappies in Frankryk te bemark.

FOTO: Instagram @janhendrik2016

FOTO: Instagram @janhendrik2016

Die hoogste ster wat enige sjef kan ontvang, is 3 – en net ’n handjievol sjefs het dít al reggekry.

Dit is ’n groot en wonderlike prestasie vir Jan. Dit is ’n eerste vir ’n Suid-Afrikaanse sjef en dit bewys dat ons ongelooflike sjefs het – en ek is vol vertroue om te sê dat baie van ons sjefs sulke prestasies verdien.

Abigail Donnelly, redakteur van Eat Out

Ons is baie trots op Jan-Hendrik!

Kyk ook uit vir sy nuwe kookboek JAN-A breath of French air


 

In ons April/Mei 2014-uitgawe van SARIE KOS het Herman Lensing met Jan-Hendrik gesels. Hier volg ’n uittreksel van dié onderhoud:

Waar kom jou liefde vir kos en kook vandaan?

Ek is ’n optimis wat daarvan hou dat dinge gebeur. Ek dink dis my Suid-Afrikaanse bloed wat my die vermoë gee om uit te hou en aan te hou, al raak die sous soms dik. Ek het op ’n plaas in Mpumalanga tussen wonderlike vroue grootgeword en daar my liefde vir kos ontwikkel. My ma, oumas en die huishoudster het my al van vroeg af laat help in die kombuis en my die basiese tegnieke geleer.

Hoe lank bly jy nou al in Frankryk en wat mis jy die meeste van SA?

Byna 6 jaar, en ek mis my familie, ons plaas, en boerewors met braaibroodjies. Ek kuier so twee keer per jaar in SA en dan gee ek myself oor aan enigiets wat met braai te doen het!

Was jou blog, Jan-Hendrik, die begin van die boek?

Die blog is ’n uitvloeisel van my liefde vir kos en fotografie en het sonder dat ek dit regtig besef het, die aandag van medekosliefhebbers getrek. Die plan vir die boek was al voor die blog daar, maar lg. het my ’n goeie idee gegee van waarin my lesers belangstel.

Hoe beïnvloed jou SA wortels die spyskaart van jou restaurant, JAN, in Nice?

JAN is nou 5 maande oud en volstoom aan die gang! Die plaaslike inwoners kom gereeld by ons eet, asook mense van Monte Carlo, Cannes en Engeland wat die Franse Riviera besoek. Die Franse is baie gefokus op hul eie kos, tendense en metodes, maar ek sien al hoe meer van hulle wat begin nuuskierig raak oor die nuwe wêreld se kos. Ek speel met die seisoene, wat vir die Franse belangrik is, en met my kindertyd-gunstelinge soos melktert met geposjeerde kwepers, geroosterde-witsjokolade-roomys en pistasiesponskoek.

Die spyskaart is dus ’n mengsel van bekende geregte en ander geregte wat die agies se nuuskierigheid prikkel. Suid-Afrika is op die oomblik hoogmode onder die Franse en hulle sal dadelik ’n gereg met ’n Suid-Afrikaanse geurtjie probeer! Dan het ek ook ’n wynlys wat spog met al die groot SA wynname, en natuurlik pampoenkoekies en koeksisters – en pakkies gesondheidsbeskuit wat elke gas as geskenk kry, met geïllustreerde instruksies oor hoe om dit te eet.

Kook jy self in jou restaurant?

JAN is eintlik “Klein Jan” (wat my ouma my altyd genoem het) en daar is plek vir 28 gaste. Ek is self agter die potte, en ook in beheer van die aankope en die wynlys. Aan die einde van die aand maak ek ’n draai by elke tafel om my Frans te oefen.

Om ’n restaurant te begin is geen grap nie. Wat was die grootste uitdaging?

Ek lag baie vir myself en vir al die foute wat ek maak, maar dit is ook die dinge wat my aan die gang hou. Ek klim steeds aan die verkeerde kant van my motor in en antwoord gereeld die foon in Afrikaans. En ja, dit was regtig nie maklik nie. Die taal het my aan die begin ondergekry, maar nou gaan dit al beter. My grootste uitdaging bly om goeie verskaffers te kry. Die kleinhandelaars praat glad nie Engels nie en dis moeilik om hulle op te spoor. Dit verg baie rondry en uitvra om by hulle en hul produkte uit te kom.

Wat eet jy wanneer jy uiteet?

Seekos, vis of enigiets wat eenvoudig gaargemaak is. En natuurlik nagereg. Ek het die grootste suikertand denkbaar! Ek is mal oor goeie tuisgemaakte roomys.

Geen kombuis mag ooit sonder…

…’n ordentlike Franse swaarboom-crêpepan en baie rooiwyn wees nie.

Kry jy so tussen die kokery deur nog tyd vir fotografie (jy het die foto’s vir die boek self geneem)?

Nie meer so baie soos in die verlede nie, maar ek neem steeds foto’s van kos vir Suid-Afrikaanse tydskrifte en geniet dit. Sodra ’n passie nie meer werk is nie, verander dit mos heeltemal!

Wat eet jy graag as niemand kyk nie?

Dik snye vars bruinbrood met baie botter, grondboontjiebotter en enige rooi konfyt – 10 sekondes in die mikrogolfoond en ek is op my gelukkigste. Dit neem my terug na my koshuisdae. Wonderlik!