Deirdre Barnard-Visser by Zeekoevlei, waar haar pa haar as kind in waterski afgerig het. Sy het op dertien Springbokkleure in dié sport gekry
FOTO: Willem Lourens
STILERING: Danny Toüa

Deirdre Barnard-Visser by Zeekoevlei, waar haar pa haar as kind in waterski afgerig het. Sy het op dertien Springbokkleure in dié sport gekry FOTO: Willem Lourens STILERING: Danny Toüa

Het jy gehoor?

Deirdre Barnard-Visser oor Parkinson se siekte: ‘Ek dink ek het dit’

Sy het geweet iets skort toe haar vinger uit die bloute begin dans, vertel die dogter van die beroemde hartpionier Chris Barnard

Dis ’n tinteling in haar linkerarm. ’n Gewriemel, soms so erg dat sy dit wil afsny. Soggens, wanneer sy opstaan, is dit asof die arm hang. Sommige dae is dit erger as ander.

Deirdre Barnard-Visser het gedink dis seker maar ’n vasgeknypte senuwee. Het haar dokter haar dan nie verseker sy is so fit soos ’n fiddle nie? ‘‘Maar gaan sien tog ’n neuroloog,’’ het hy aanbeveel.

In Junie 2013 maak sy so. Die man het toetse gedoen, haar gevra om haar vingerpunte teenmekaar te vryf, haar op en af laat loop. ‘‘Jy swaai nie jou regterarm as jy loop nie. Jou gesig is maskeragtig. Wat dink jy het jy?’’ het hy uiteindelik gevra.

‘‘Ek hoop nie Joost se siekte nie.’’ Die simptome het nie ’n klokkie gelui nie.

‘‘Dis Parkinson se siekte,’’ sê hy.

‘‘Ek het so groot geskrik, ek het sy voorskrif gegryp en sonder ’n woord uitgestorm. In die proses sien ek sy mediese-graad-sertifikaat teen die muur. Hy het met lof geslaag. ‘O, genade,’ het ek gedink. ‘Die man is slim, hy moet seker reg wees.’ ’’

Deirdre maak die vingers van haar linkerhand reguit, kyk na haar wysvinger wat alleen op en af wip, ’n lewe van sy eie het. ‘‘Ek het Lucky Man, Michael J. Fox se outobiografie oor sy Parkinson se siekte, in my deurmekaar boekrak ontdek. Hy het een oggend wakker geword en gesien sy vinger wikkel so. Dit was die eerste teken dat iets verkeerd is.’’

En elke keer dat sy teen haar dansende vinger vaskyk, dink sy opnuut, byna verwonderd: ‘‘Dis seker waar, ek het dit.”

Sy kyk op, proe aan die woorde: ‘‘Ek dink ek het dit.”

Hier in haar gesellige huis, in ’n cul-de-sac teen Tafelberg, vee sy kort-kort trane af. Bieg sy is maar ’n emosionele mens. Soos ’n huiswerker altyd gesê het: “Juffie se trane sit baie vlak.” Sy huil sommer in die karwag se arms wat ondertoe in die straat ’n ogie gooi. Dan sê hy: “Jy word kleiner. Hoe gaan dit?”

Aanvaarding kom in klein sarsies. Daar was besoeke aan nog drie neuroloë, kort ná mekaar. Elke keer was sy van voor af hoopvol dat die uitslag dié keer anders gaan wees.

Die tweede neuroloog het baie toetse gedoen. Gesê hy sien nie tekens van Parkinson se siekte nie, dat sy ses maande later moet terugkom. Maar die eerste dokter se diagnose het bly vassteek, hy was so seker van sy saak. ’n Derde een het haar vir ’n MRB-skandering gestuur. Daar is tekens van ’n ligte beroerte, het die man vinnig tussen ander pasiënte deur aan haar verduidelik. ’n Letsel, maar irrelevant. Sy was steeds in onsekerheid gedompel. Parkinson se siekte kan in elk geval nie met ’n MRB-skandering gediagnoseer word nie, dit kan net maar die moontlikheid van ander toestande uitskakel.

Die laaste dokter was wonderlik, caring. “Jy het lae dopamienvlakke,” het hy gesê. En sy het gedink: “Nou wat is dit anders as Parkinson?” Want die toestand affekteer die senuweeselle wat dopamien vervaardig.

Teen dié tyd was sy ’n senuweewrak. Sy kon nie ophou huil nie. Op haar dogter se aanbeveling is sy vir drie weke na ’n psigiatriese kliniek. Sy het dit baie geniet, vertel sy. ‘‘Ek is mos ’n mens-mens.’’

Daarna het sy weer die laaste neuroloog besoek. Hy kon nie glo dis dieselfde mens nie, sy het soveel beter gelyk. Op haar aandrang het hy gesê sy kan die medikasie los. “Jy glo tog nie daaraan nie, jy knibbel net daaraan.”

Die alternatiewe roete maak haar meer opgewonde. Sy het afgekom op John Coleman se aanlyn-ondersteuningsgroep (www.parkinsonsrecoveryprogram.com). Sy Parkinson was reeds in fase 4, maar met ’n positiewe ingesteldheid en dieet kon hy dit omkeer na fase 1.

Sy gaan vir kraniosakrale terapie, waar die vloei van serebrospinale vloeistof met sagte bewegings gemanipuleer word. En ook Bowenterapie, ’n sagte rolbeweging met die duim en vingers oor die spiere, ligamente en gewrigte om limfatiese vloei te verbeter. Sy doen baie oefening: joga, stap en swem. En eet hope organiese groente.

In haar soeke na antwoorde het sy afgekom op ’n teorie dat die toestand veroorsaak word deur trauma wat jy nooit verwerk het nie. “Maar ek verwerk dit al soveel jare! Dis seker al uit my uit!”

Op dertien was sy een van die land se jongste Springbokke nog, in waterski. Met dieselfde doelgerigtheid wat haar pa later beroemd sou maak vir die wêreld se eerste hartoorplanting, het hy haar afgerig. En sy moes perform. Mense het in die straat na hom gewys: “Daar is Deirdre Barnard se pa.”

Dit was egter ’n vulletjie teen die fame wat die gesin ná die hartoorplanting getref het. Toe sy in haar laat tienerjare gewig aansit, was dit groot nuus. “Dit was comfort eating, dink ek. My ma en pa was tog so besorg daaroor.”

Sy het die gewig afgeskud, ’n nasionale dieet-kompetisie gewen … en alles weer mooitjies aangesit. Vandag is daar natuurlik geen teken daarvan nie, sy is byna te maer.

Twee jaar ná haar ouers se egskeiding is haar pa getroud met die negentienjarige Barbara Zoellner, ’n paar maande jonger as Deirdre. Die flambojante “dokter van harte” het daarna self sy vele affairs aan die groot klok gehang.

In 1984 is Deirdre se briljante pediaterbroer, André, onverwags op 32 oorlede. “Ek wou altyd my broer red van my pa se verwagtinge,” sê sy nou. Maar jou pa het tog ook hoë verwagtinge van jou gehad? “Maar ek het gevoel ek kon cope.” Kon jy? “Nee, waarskynlik nie.”

Tog. Toe wêreldroem die gesin soos ’n skoot koue water tref, het sy reeds ’n identiteit om haar waterski gebou. Vir André was dit soveel moeiliker.

Sy lyk na haar oorlede ma, Louwtjie. Maar dis pa se kind wat met haar bloeiende hart op haar mou rondloop. “Ek kan net myself wees. My pa was net so.”

In die psigiatriese kliniek verlede jaar moes sy ’n prentjie kies en iets daaroor skryf. Sy het een van ’n hart gekies, natuurlik.

Sy het geskryf van haar eie, groot hart, hoe sy ander mense wil koester en troos, soms oorweldigend so. “Jy probeer almal se gebroke harte gesond maak, jy moet doodmoeg wees!”

Hoe haar eie gesin se harte op verskillende tye van hul lewe gebreek is. Sy is trots op haar pa se pionierswerk, maar moes terselfdertyd sy hart aan die wêreld afstaan. Dit het haar gesin uitmekaar laat spat. “My ma se hart was stukkend, my broer s’n het ophou werk …”

Tot aan die einde was sy die brug tussen haar ouers. Chris het ’n paar strate bokant haar gebly, Louwtjie ’n bietjie ondertoe. Deirdre sou G&T by hom gaan drink, whisky by haar ma. Louwtjie het sy broeke korter gemaak, vir hulle afval gekook. Hulle het saam met Deirdre gekuier en kon lekker oor die goeie ou dae gesels, hoewel Louwtjie hom goed op haar reguit manier kon roskam.

Deirdre se man, Kobus, dekaan: fakulteit ekonomie en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het ’n flegmatiese geaardheid. Jin teenoor haar meer emosionele jang. Kobie, sê sy, pas oral in. Toe sy meer as drie dekades gelede sien hoe maklik hy met haar komplekse familie klaarkom, het sy geweet hy is die man vir haar.

En watter kronkelpaadjies hul huwelik ook al loop, sy sal waak teen bitterheid. Want haar ma was bitter en dit was soos kanker. Sy het gesien dit kan jou oud maak, kwaai maak, jou lewensvreugde vernietig.

Haar dogter, Karen (Thompson), se Jamie (7) en Luke (5) is Ouma se vreugde. Karen is saam met Tim Noakes betrokke by Help, ’n leefstylprogram vir mense met koolhidraatverslawing (suiker en stysel). Sy is ’n voormalige model wat ook ’n pad met anoreksie geloop het. Toe sy destyds sien in watter rigting dinge beweeg, het sy na Deirdre gegaan. ‘‘Ma, dit moet stop.’’

Tiaan, Deirdre se seun, is pas, ná tien jaar in Engeland, terug in Suid-Afrika. Hy maak vir ons koffie en verdwyn.

Haar man en kinders se voete is vas op die aarde, sê sy.

En nou die ding met Parkinson se siekte. Maar sy gaan nie in sak en as sit nie. Jy moet baie lag en besig bly, sê sy ferm. ‘‘Wanneer ek soggens wakker word, sê ek vir myself: Kyk, jy het ’n keuse. Jy kan in die doldrums sit, of die dag geniet. Goedjies doen wat jou beter laat voel. Karen het altyd vir my gesê: ‘Mamma, net tien minute op jou pity pot. Dan moet jy afklim en met jou dag aangaan.’ ”

En dan, as nagedagte: “Ek is nie van nature hectic depressed nie, ek is nogal jolly!”

Laat een aand, weer ’n e-pos: “Dalk moet jy aan die einde van die artikel skryf ek is steeds nie heeltemal seker dis Parkinson se siekte nie.’’

Sy het intussen weer die medikasie begin gebruik, want gewrigspyne het haar begin teister. “Maar dit laat my groottoon op en af wip! My pa het altyd gesê jy drink ’n pil vir hoofpyn, dan kry jy maagpyn. Jy stop een simptoom, dan pop ’n ander een uit.”

Teen ’n muur in die leefvertrek is ’n swartwit foto van ’n jonger Chris Barnard. Hy kyk af, vreemd ingetoë. Hy sou die eerste wees om die mediese wetenskap se beperkinge te erken.

Hoop kan nie onder ’n mikroskoop bekyk word nie. En met hoop, positiwiteit, kan jy oorwin. Só glo Deirdre.

Facebookboodskappe van Deirdre aan SARIE-joernalis Lydia van der Merwe

  • 13 Okt 2013: Challenging journey. Gaan volgende week vierde neuroloog sien. Nie een se storie is dieselfde nie – was ook al by alternatiewe ouens

  • 13 Nov 2013: Was vir angs en depressie in kliniek, nou uit. Het dit geniet. Jou uitkyk seker die belangrikste. Gaan nou probeer vergeet van eerste neuroloog. Die vierde een was baie caring en gaan by hom bly

  • 3 Feb 2014: Dink nie ek wil dit eintlik erken nie, maar in my heart of hearts weet ek dis Parkinson se siekte. Denial maar groot. Op medikasie en lees Michael J. Fox se Lucky Man

Om te weet

  • Parkinson se siekte is ’n breinafwyking wat jou geleidelik spierbeheer laat verloor. Dit word onder meer gekenmerk deur bewerigheid, rigiditeit, ’n gebrek aan spontane bewegings en ’n uitdrukkinglose gesig. Dis nie bekend waarom selle wat dopamien vervaardig, agteruitgaan nie.

  • Dopamien is ’n breinchemikalie wat met senuweekommunikasie help.

  • Die simptome is aanvanklik lig. As dit vroeg behandel word, kan dit jare lank so bly. Dit kan egter nie genees word nie.

  • Jou lewensverwagting is omtrent dieselfde as vir mense daarsonder.

  • Sowat 5 – 10% van mense kry dit voor vyftig. Die akteur Michael J.Fox was 30 en bokser Muhammad Ali 42.

Bron: webmd.com