FOTO:  Facebook

FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Neem jou #footsie-foto vir voet-Vrydag

’n Nuwe sosialemedia-veldtog samel geld in vir straatkinders in Afrika deur mense reg oor die wêreld aan te moedig om “footsies” te neem, berig The Independent.

Die Britse organisasie Street Child Africa sel nuutste veldtog, Voet-Vrydag, vind dié Vrydag (20 Junie) plaas en moedig mense aan om “footsies” op sosiale netwerke te laai.

Wat is ’n “footsie”?

Dit is amper soos ’n selfie, maar van jou voete – jou kaal voete – om mense bewus te maak van die kinders in Afrika wat nie skoene kan bekostig nie.

Hoe werk dit?

1. Neem op Voet-Vrydag (oormôre) ’n footsie en laai dit op ’n sosiale netwerk soos Facebook, Twitter of Instagram.

2. Onthou om die hutstekens #footsie en #BareFootFriday te gebruik.

3. Benoem jou vriende om deel te neem.

4. SMS “Street” na 70660 om £3 (ongeveer R55) te skenk aan Street Child Africa.

5. Onthou om die donasiebesonderhede ook aan jou vriende te gee.

Besoek die webblad www.barefootfriday.org.uk vir meer inligting.

Voet-Vrydag volg kort op die hakke van die “no makeup selfie”-veldtog wat vroeër vanjaar op sosiale netwerke vlamgevat het. Laasgenoemde was ’n reuse-sukses en het £8 miljoen (ongeveer R146 miljoen) vir borskanker-navorsing ingesamel.

Ander internet-veldtogte wat ons inspireer het

Neknominasie

Dié neiging het volgens Die Burger in Australië begin. Jy benoem iemand om ’n drankie (gewoonlik sowat 500 ml) vinnig te drink en dit op kamera vas te vang. Dié persoon benoem dan nóg twee mense wat dieselfde binne 24 uur moet doen.

Maar Brent Lindeque van Johannesburg het besluit om “neknominasie” se nek om te draai. Hy het dié trend gebruik om eerder goeie dade te bevorder. Hy het vir ’n hawelose langs die pad ’n toebroodjie, sjokolade en koeldrank gegee en twee van sy vriende benoem om binne die volgende 24 uur dieselfde te doen.

Dié video van Brent het vinnig oor die internet versprei.

Ná die video het talle Suid-Afrikaners in Brent se voetspore gevolg. Soek op YouTube na die hutstekens#NekNomination en #ChangeOneThing om nóg video’s te sien waar mense goeie dade doen.

Joost en sy J9-stigting se #neknominasie

Gelukkig vir 100 dae

Die webtuiste 100happydays.com het aan mense dié uitdaging gestel: Neem elke dag vir 100 dae iets af wat jou gelukkig maak en deel dit met mense op sosiale netwerke.

Die mense agter dié inisiatief glo dat mense vinnig sal sien hoe geseënd en gelukkig hulle werklik is. Hulle glo ook dat dit jou meer optimisties maak en in ’n beter bui plaas as jy daagliks iets sien wat jou gelukkig maak.

Skryf op die webtuiste in vir dié uitdaging en begin jou foto’s deel! Soek die hutsteken #100HappyDays om mense se foto’s te sien.

Een van die dinge wat Nadia Beukes, die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou, gelukkig maak.

Jou Facebook-hoogtepunte

Om Facebook se 10de verjaardag te vier kan jy nou ’n video van al jóú groot oomblikke op Facebook sien:

1. Teken in op jou Facebook-profiel
2. Klik op jou profiel
3. Vee jou naam bo in die URL-blokkie uit en vervang dit met “lookback” – Dit moet lees: http://www.facebook.com/lookback
4. Siedaar! ’n Video van jou Facebook-hoogtepunte

Bronne: The Independent, Die Burger, 100happydays.com

Nóg oor sosiale media