Zani en Monika in Rusland

Het jy gehoor?

SA vroue wen goud by die Poolsirkel- Olimpiese Spele

Twee Suid-Afrikaanse vroue het onlangs ons vlag hoog laat waai toe hulle elk ’n goue medalje by die Internasionale Winter-swemkompetisie in Rusland gewen het.

Die twee oopwater-swemmers van Kaapstad, Monika Hayes (50) en Zani Muller (27), het albei die 450 m-uithouresies kafgedraf, oftewel geswem. Albei het goud in hul onderskeie afdelings behaal en Hayes se tyd van 06 min en 50 sekondes was ook die beste van al die vroulike swemmers tydens dié kompetisie.

Dit word, heel gepas, die Polar Olympics genoem omdat dit elke jaar in die yskoue Tyumen-meer naby Murmansk plaasvind. Die water se temperatuur is gewoonlik om en by 0°C. Swemmers mag geen ander toerusting buiten hul swembroeke, keppies en swembrille dra nie.

Die twee het in die koue Atlantiese Oseaan en in ysbaddens geoefen om gereed te wees vir dié uitdaging.

Dit was nog altyd Monika se droom om Rusland te besoek. “Ek het nooit gedink dat ek aan ’n ysswemkompetisie sal kan deelneem nie, maar dit was ’n baie trotse oomblik vir my om Suid-Afrika te verteenwoordig.”

Lees hier hoe Carina Bruwer die ysige seewater om Kaappunt trotseer het vir kanker-bewusmaking.

BRON: Speedo en Daily News