Nuut & nuus

Killing Kebble-skrywer, Mandy Wiener, gesels met SARIE

Die gesoute radio-joernalis is kort en kompak, met diep bruin oë wat reguit kyk – en sien. Jy weet sommer hier kom besigheid wanneer sy aangestap kom. En sy luister baie goed voordat sy ‘n vraag antwoord. Dis juis hierdie kwaliteit van haar wat gemaak het dat sy die skemer-karakters van Mikey Schultz en Kie. so goed kon vasvang in haar boek, Killing Kebble: An Underworld Exposed (Pan MacMillan, R195). Sy is ‘n fyn waarnemer en het die onderwêreld se karakters lewe gegee op papier. Die hele spul het mense geword, en is nie net name wat jy op die radio hoor of in koerante van lees nie. Hierdie boek skets die hele Kebble-moordsage, en vertel die verhaal uit verskillende rolspelers se monde. Van die familie, tot die moordenaars, tot die butler. . .

Dis boeiende leesstof en klink meer na fiksie as feite. Ongelukkig is dit ons onlangse geskiedenis.  Vir enigeen wat regtig wil weet hoe die hele drama ontvou het, is hierdie boek ‘n moet-lees.

Die eerste oplaag van 10 000 boeke is in dae uitverkoop en die uitgewer het inderhaas nog 20 000 eksemplare laat druk. Dis bykans ongehoord in Suid-Afrika vir hierdie soort boek en is ‘n pluimpie vir dié jong skrywer. 

Ek het baie vroeg een oggend oor ‘n koppie koffie met Mandy Wiener gesels oor wie en wat sy is en waar die boek ontstaan het.

Waar kom jy vandaan?

Ek is gebore en getoë in Pietersburg, Polokwane, en het daar skoolgegaan. Ek was ‘n jaar oorsee, voordat ek joernalistiek by RAU gaan studeer het. Terwyl ek studeer het, het ek by die universiteit se radiostasie gewerk. Daarna is ek 702 toe. Ek wou altyd ‘n verslaggewer wees. Dis so snaaks, ek het ‘n foto van myself toe ek twee jaar oud was, waar ek in my stootwaentjie sit en ‘n Newsweek lees!

Jy is jonk om ‘n ondersoekende joernalis te wees?

Ja, ek is 28. Maar daar is ander jong ouens ook, soos Adriaan Basson en Julian Rademeyer. Dis baie meer bevredigend om ondersoekende joernalistiek te doen. Vir ‘n hele klompie jare het ek  skietvoorvalle, brande, ongelukke, moorde, daardie tipe stories gedoen. Dit was nooit my bedoeling om ‘n ondersoekende joernalis te word nie, dit het net gebeur.

Hoe het dit gekom dat jy die Kebble-storie gedek het?

Ek het nie aanvanklik die storie gedoen nie. Ek het wel die dag na Kebble se moord lewendige oorskakelings van die toneel af gedoen vir radio. Daar was meer senior verslaggewers op die storie. Maar ek het baie goeie bronne gehad en het net meer en meer stories oor die gebeure gekry. Ek het myself  ingewurm in die storie en toe geklou daaraan, min wetende dit gaan so ‘n uitgerekte storie wees en dat dit my jare sou besig hou.

Baie van die storie het eintlik in die hof afgespeel. Was dit vermoeiend en vervelig?

Daar was oomblikke. Dit was twee van die mees vermaaklike hofsake, die Selebi- en die Agliotti-saak, wat ons in ‘n lang tyd in die land gesien het. Die karakters, die kruisverhoor was nogal plofbaar met tye. Jy het Agliotti, wat vir dae aaneen in die hof getuig het, so suave soos ‘n ervare ou hand. Dan was daar Nigel McGurk, wat gebloos het van die punte van sy ore af. Elke karakter was fassinerend om te sien. En om Lawrence Hodis te sien terwyl hy vir Clinton Nassif ondervra en Gerrie Nel terwyl hy Selebi onder kruisverhoor gehad het! 

Hoe was Gerrie Nel?

 Hy is ‘n Rottweiler. Hy is nie ‘n innemende mens nie. Ons het tydens die breuke probeer om met hom te gesels, maar hy was nie juis toeganklik nie. Maar hy is ongelooflik hardnekkig en daarvoor het ek baie respek. 

Jy moes ‘n verhouding opbou met Mikey Schultz en sy boksombende. Hoe het jy dit gedoen?

 Dit was harde werk. Dit het baie tyd en moeite gevat. Ek was gelukkig dat hulle geweet het wie ek is, omdat ek die saak vir so lank gedek het. Ek het met Nigel en Kappie begin gesels buite die hof, terwyl hulle gewag het om te gaan getuig. Ek sê altyd jy moet mense nie veroordeel nie, veral nie karakters soos daai nie. Baie verslaggewers veroordeel mense, want dis maklik. Ek luister na mense, ek sit en hóór wat hulle te sê het. En hulle was gemaklik om met my te praat. Daar was ander joernaliste wat baie hard gedruk het om die storie onmiddellik te doen, maar dit was nooit my agenda nie. Ek het hulle kans gegee om self te besluit.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                 

Jy het ook met ander mense gepraat, soos Andrew Minnaar, Kebble se butler. Hoe het jy dit reggekry dat hy so openlik gepraat het?

Andrew Minnaar  hou van die aandag. Hy het ook ‘n baie interessante storie om te vertel en was gereed om dit te doen. Hy wil ook sy eie boek skryf.

Het jy nog ‘n verhouding met Mikey Schultz-hulle?

Ek weet nie of dit ‘n verhouding is nie, maar ek praat nog dikwels met hulle, veral toe die boek gepubliseer is. Hulle is natuurlik ook fantastiese bronne van inligting, want hulle is so ingeplug in hierdie stad en wat hier gebeur. Dis handig om aan hulle goeie kante te bly.

Hoe het dit gebeur dat jy die boek geskryf het?

Ek is oorspronklik deur ander mense betrokke in die saak gevra om hulle boeke te skryf, maar ek wou dit nie doen nie. Ek wou eerder ‘n objektiewe dokumentêre weergawe doen. Oorspronklik wou ek ‘n boek oor die Selebi-saak doen, maar my vriend, Adriaan Basson, het my voorgespring. Ek was nogal verpletter, maar hy het ‘n fantastiese boek geskryf. So ‘n paar jaar gelede wou ek ‘n boek skryf oor die bouncer-groep, Elite. Die tyd was nie ryp nie. Ek het nog altyd geweet ek het ‘n boek in my en die tyd het net gekom dat dit die regte ding was om te doen – alles het net in plek geval.

Dis baie anders om vir radio te skryf. Hoe moeilik was dit om die boek te skryf?

Vir radio skryf jy baie bondig en gee jy nie jou eie opinie nie. Vir dié boek moes ek uitgebreid skryf én my opinie gee. Ek moes myself in die verhaal plaas. Ek het dit gehaat om myself deel daarvan te maak, maar dit was belangrik vir die diepte en ook om ‘n persoonlike stem aan die verhaal te gee. Verrassend genoeg was die skrywery self nie so moeilik nie, behalwe dat ek teen ‘n geweldige tempo moes skryf. Ek moes dit gou uitkry en het die boek in twee, drie maande geskryf en die redigering het so drie maande geneem. Van my kontakte het my in my af-tyd steeds gebel met wenke vir stories en dit was nogal moeilik om dit oor te gee aan ander kollegas. Maar ek moes fokus op die boek, so ek moes maar. My katte het my geselskap gehou terwyl ek geskryf het.

Hoe het jy gevoel toe jy die boek vir die eerste keer in jou hande gehou het?

Ek het so ‘n klein dansie gedoen in die nuuskantoor. Dis baie bevredigend, maar ook ietwat surrealisties. Ek word steeds so effe angstig wanneer ek in ‘n boekwinkel instap en my boek daar sien. Ek is mal oor boeke en versamel boeke, spesifiek oor Afrika en plaaslike nie-fiksie. Ek lees wyd in die genre waarin ek self skryf.

Jy het ‘n hele nuwe neiging in joernalistiek begin, toe jy begin Tweet het tydens die Selebi-hofsaak. Is dit ‘n groot ontwikkeling in die joernalistiek?

Massief. Dit het die hele landskap van joernalistiek verander. Stories breek deesdae eerste op Twitter. Voorheen was radio ver voor al die ander media, maar nou moet ons heeltyd bewus wees van wat gebeur, want gedrukte media kan ook die nuus nou breek op Twitter en ons scoop. Dis ook ‘n unieke manier van stories vertel, want ek kan meer sê op Twitter as wat ek in ‘n 30 sekondes se nuusverslag vir die radio kan doen. Mense wat my volg, weet hulle kry meer en hulle kry dit dadelik – en met kleur en geur. Ons moet ook baie meer verantwoordelik wees oor hoe ons tweet, want ‘n storie kan onmiddellik viral raak. As jy net een klein dingetjie ‘n bietjie verkeerd kry, is jy gedoem, want jy kan daardie storie nie terugtrek nie. Jy moet weet wat jy doen om só verslag te lewer.

En jy is verantwoordelik daarvoor dat Agliotti ook tweet?

Ja, maar ek weet nie of dit tot my voordeel is nie. Hy vertel vir almal om nie my boek te koop nie, maar om te wag vir sy boek. Hy bly maar ‘n man met ‘n agenda.

Watter insigte het jy in die menslike psige gekry deur hierdie ervaring?

Die fassinerendste vir my was die hitman se psige en ek wou dit graag weergee, want dis selde dat mens die geleentheid kry om dit eerstehands te ervaar. Nigel McGurk gebruik altyd hierdie aanhaling: “I was bad, I was naughty, but I was not evil.” En dis presies hoe hulle oor hulself voel, dat hulle nie boos is nie. Hulle erken wat hulle gedoen het, was verkeerd, maar hulle het die moord bloot as ‘n guns gedoen. Dis moeilik om dit te verstaan, want dis so bisar. Hulle is almal groot familiemense, altyd beleefd en wys jou graag foto’s van hul kinders op hul fone. Dis nie die prentjie wat mens kry as jy hoor hitman nie. Mens moet onthou wat hulle gedoen het, is afstootlik. Ek dink dis vir hulle ook moeilik om hierdie twee wêrelde waarin hulle beweeg met mekaar te vereenselwig.

Die reaksie op jou boek?

Ek het min negatiewe reaksie gekry. Moontlik omdat almal in die boek voor die tyd bewus was van wat ek geskryf het. Hulle het die manuskrip gekry en kon feite regmaak of goed byvoeg, maar hulle het geweet ek gaan niks uithaal nie. Ek wou so deursigtig as moontlik met hulle wees.

Voel jy ontbloot deur hierdie boek?

Ja, en ook weerloos. Mense kon die boek haat. Toe dit verskyn het, was ek beangs. Ek het oomblikke van loutere vrees en paniek beleef, terwyl ek dit geskryf het en myself gevra wat doen ek om die boek te skryf. Ek het nog nooit bedreig gevoel deur die hele proses nie en niemand het my gedagvaar nie.

Toe jy hoor jou boek is uitverkoop en daar is ‘n herdruk van nog 20 000 kopieë, hoe het jy gevoel?

Dit was in die middel van ‘n warrelwind-bemarkingstoer en dit was moeilik om dit te verwerk. Noudat ek daaroor dink, is dit ongelooflik. Die boek het net op die regte tyd verskyn, met die hele Paparas-hofuitspraak en die Radovan Krejzer-arrestasie. Ek was ook gelukkig om die ondersteuning van al my kollegas by die radiostasie te hê. Ek is baie gelukkig!

Moes jy baie navorsing doen?

Ja, en ek sou graag meer wou doen. Maar mens moet iewers ‘n streep trek. Ek het baie ure bestee om onderhoude te doen en om stories te vergelyk en bevestig te kry. Waar ek dinge glad nie bevestig kon kry nie, sê ek so in die boek. Daar is ook inligting wat ek nie ingesluit het in die boek nie.

Jy het Mikey Schultz se eie stem behou in die boek. Was dit opsetlik?

Ek wou dit van die begin af doen. Dit gee lesers baie insig oor die manier waarop hy praat, sy sinsnedes en woordeskat. Dis rou en grinterig en mens verstaan sommer die onderwêreld waarin hy beweeg beter. Ek dink dit gee die boek ook meer diepte.

Wat wil jy by mense agterlaat na die lees van die boek?

n Beter begrip vir die mense wat betrokke was en ook oor die wêreld waarin ons leef, van hoe naby ons aan die afgrond was. Ons polisiekommissaris was in die bed saam met rampokkers en karakters uit die onderwêreld. My grootste vrees is dat mense sinies sal raak oor ons land en dan padgee. Maar ek wil hê mense moet bewus wees van wat kan gebeur en dat dit dalk weer kan gebeur.

Jy sê aan die einde van jou boek jy weet nie of almal die waarheid gepraat het nie?

Ja, oor vyf jaar kan dit aan die lig kom dat almal gelieg het en watter beter manier om hulle weergawe van gebeure te promoveer as deur ‘n boek. Almal het ‘n agenda en juis daarom moet mens so versigtig wees. Dis een rede waarom ek nie ‘n oordeel uitspreek nie, want ek weet waaragtig nie wat die waarheid is nie.

Moet jy senuwees van staal hê om jou werk te doen?

Ek dink so, maar dit help nie om konfronterend of aggressief  te wees nie. Ek is nie ‘n onverskrokke joernalis nie. Ek is bang, maar nooit vir stories nie.

Hoe moeilik is dit om nie die fyn lyn van familiariteit te oorskry met ‘n bron wat ook deel van ‘n storie is nie?

Mens moet die heeltyd bewus wees daarvan. Spesifiek met my boek, moes ek dit die heeltyd in gedagte hou. Daar was toenadering, maar vir my gaan dit om professionaliteit en ek het dit duidelik gestel van die begin af. Terselfdertyd moet mens vertroue en respek wen en dit kry jy net deur tyd saam met mense deur te bring en hulle goed te leer ken. Dit maak dit moeilik wanneer jy ‘n ander sy van mense leer ken as wat die openbare persepsie is. Jy moet heeltyd bewus wees waar hulle vandaan kom en wat hulle gedoen het om sodoende jou objektiwiteit te behou.

Hoe pas jy aan by gewone stories nadat jy so ‘n groot storie gedek het?

Met moeite. Die afgelope jaar was dol. Ek is onlangs getroud, het verhuis en geniet die kalmte eintlik op die oomblik. My man is fantasties en ondersteun my loopbaan ten volle. Dis nie alle mans wat sal toelaat dat hulle vrou met ‘n klomp rampokkers heul nie! Ons het heelwat kompromieë oor tyd aangegaan, want die boek en die hele saak het baie van my tyd opgevreet.

As jy kon kies waarheen jy kan gaan om ‘n groot storie te dek, waar sal dit wees?

Ek weet nie. Aan die begin van my loopbaan sou ek sê enige plek waar daar oorlog is. Ek het altyd gedink dis so glamorous om ‘n oorlogsjoernalis te wees. Ek was nog nooit in ‘n oorlog nie. Maar my prioriteite het nou verander. Ek weet nie of dit die moeite werd is om my lewe op die spel te plaas nie. Ek weet ook nou dis glad nie glamorous nie.

Skakel jy ooit af?

Nie regtig nie, maar mens moet tyd maak om af te skakel anders sal jy uitbrand. Ek gaan bos toe om “my-tyd” te hê en dan die geweldige luukse te hê van my foon afskakel.

Is jy ‘n “meisie”-meisie?

Ek hou van kook. En ek hou daarvan om my naels te laat doen en my hare, so ek is seker so ‘n bietjie van ‘n “meisie”-meisie, maar ek dink nie ek is ‘n tipiese “meisie”-meisie nie. Ek is eerstens ‘n hardekoejawel joernalis en ‘n career girl.

  • Debbie

    Die BESTE en intersanste boek wat ek nog ooit gelees het. Die manier waarop dit geskryf is trek ‘n mens in die onderwereld in, kan nie glo wat onder ‘n mens se neus aangaan nie.
    Briljante werk Mandy.