Nuut & nuus

Bekende SA groep saam met Bokke na Nieu-Seeland

“Dankie almal julle het ons album vandag laat offisieel GOUD gaan dis wonderlik! Vlieg nou NZ toe om saam met die book te gaan gees vang en vir hulle te sing! whooohooo.bokke!dh” was hul inskrywing op Facebook en Twitter op 6 September.

En gepraat van nasionale trots: In ons nuutste SARIE KOS wys die manne van Die Heuwels Fantasties net hoe lekker hulle kan braai. Hulle kén van pryse wen. Hulle het juis vanjaar geil geoes by die MKtoekennings waar hulle vir onder meer beste musiekgroep en beste video vereer is.

Maar as daar ’n prys was vir die grootste braai-entoesias sou sanger Pierre Greeff ’n sterk mededinger wees. Jy móét ’n braai-begeesterde wees om die lirieke te kon help skryf van Braai4Heritage, Suid-Afrika se amptelike braai-lied. Saam met sy band-lede Hunter Kennedy en Johnny de Ridder het Pierre onlangs deelgeneem aan die groot Braai4Heritage-toer.

Jan Scannel (Mnr. Braai), Pierre Greeff en Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties

Dié inisiatief van Jan Scannel, Suid-Afrika se Mnr. Braai, het die boodskap van braai as nasiebouer oor 40 dae met 40 braaie na 40 erfenisryke plekke gebring. Moenie dat die posseël-agterplasie van Pierre se ou Victoriaanse huurhuis aan die voet van Seinheuwel jou afskrik nie. Hier word met mening gebraai, want langs die ou vyeboom is daar plek vir die Weber en genoeg spasie vir ’n kuiertafel, stoele en selfs ’n ou rusbank. ’n Braai vra nie vir meer nie. Hy braai die graagste steak en dik gesnyde lams-lendetjoppies “van die soort wat ek my slagter vra om so drie duim dik te sny.” Daarmee saam enige goeie wyn, maar veral Tokara 2009 Walker Bay Sauvignon Blanc.

’n Ander gunsteling is kabeljou oor die kole, net met knoffelbotter. Sy braai-partytjietruuk? Om ’n hoender op ’n bierblik in die Weber gaar te maak. “Op ’n tienpunt-skaal sal my braaivernuf op ’n goeie dag – met my onverdeelde aandag – darem seker ’n agt haal. Ander dae val dit weer tot ’n vier!” vertel Pierre. Oor sy braaibroodjies is hy puntenerig – wit brood, uie, cheddar, blatjang en tamatie. Wat nooit op sy braairooster sal verskyn nie is ’n vegetariese kekerertjie (chick pea) pattie. Hy het by sy pa geleer vuurmaak. “Ek is seker maar ’n pyromaniac. My fassinasie met vlamme maak dat ek altyd ’n enorme vuur maak.”

En dit doen hy met rooikrans, enigiets, selfs houtskool as dit moet. Enigiets behalwe ’n gasvlam. Die manne voel sterk dat braai meer is as net ’n gaarmaak-metode – op dieselfde manier dat Die Heuwels Fantasties meer as ’n naam is – dis ook ’n mitiese plek, vertel hulle. “Die braaivleisvuur is ’n tyd en plek waar mense stories met mekaar deel, wat veral in dié tye waar mense so min persoonlike kontak met mekaar het, ’n redding is,” reken Pierre.