FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Nuut & nuus

Seun red babakat #InspirasieStorie

’n Seun van Steytlerville in die Oos-Kaap het gesien hoe ’n groep kinders ’n 8 weke oue katjie op die grond neersit en die diertjie met klippe gooi. Sonder om te dink het hy tussen die kinders ingeduik, die katjie gegryp en weggehol.

Louise Kilian, inspekteur van Steytlerville Animal Rescue Centre, vertel aan SARIE.com hoe die seuntjie met groot oë by haar aankom.

“Ek was besig om met iemand te praat toe ek hom by die agterdeur sien. Hy het ’n katjie by hom gehad. Ek was geskok om sy storie te hoor.”

Al wat Louise van die seuntjie af weet, is dat sy naam Pareek is.

“Ek was so oorstelp om te sien hoeveel ’n kind vir ’n dier omgee, dat ek nie eers daaraan gedink het om meer oor hom uit te vind nie.”

Volgens Louise het Pareek vertel die kinders het hom agterna gesit en met klippe gegooi. “Hy het net gesê: ‘Tannie, die kinders wou die katjie doodgooi. Ek het net gehardloop.’ Dis ongelooflik.”

Sy het dié storie op die organisasie se Facebook-blad gedeel.

“Kinders in die omgewing gee nie sommer vir diere om nie. Ek sien gereeld lelike goed. Sy storie gee my weer hoop. Pareek het teen daardie kinders opgestaan.”

Louise sê die katjie is gesond en het geen ernstige beserings opgedoen nie. “Sy is nou in pleegsorg tot ons vir haar ’n permanente huis gekry het.”

 

 

Lees nou