Santa Shoebox Project 2013
Ons hou van

Die wonder van gee – Deel 2

Wat is lekkerder as om te gee? Deel dié Kersfees jou tyd, liefde, kos, geld en geesdrif.

Liefde in ’n boks – Dee Boehner van Santa Shoebox

Sy kry soms ’n knop in haar keel as sy sien watter verskil ’n Santa-skoenboks in ’n kind se lewe maak. Dee Boehner van Kaapstad is die stigter van die Santa Shoebox liefdadigheidsprojek, ’n uitvloeisel van die Kidz2Kidz-trust. Sedert dit in 2006 afgeskop het, het sowat 320 000 kinders landwyd “liefde in ’n boks” ontvang.

“Die Kidz2Kidz-trust het baie klein begin. Met die geboorte van my eersteling, Lauren, in 2001 wou ek en ’n vriendin, Carole Elliott, iets aan die gemeenskap teruggee. Ons het uitgevind wat kinderhuise in die omgewing nodig het, oral plakkate opgesit en vriende gevra om ou klere en speelgoed te skenk. Ons het dit aanvanklik by die kinderhuise Baphumelele en Emasithandane in onderskeidelik Khayelitsha en Nyanga naby Kaapstad en die Holy Cross-kinderhuis in Parow afgelaai,’’ vertel Dee. Mettertyd het dit uitgebrei. Hul stokperdjie, om kinderharte bly te maak, het in ’n volwaardige liefdadigheidsorganisasie, Kidz2Kidz, ontwikkel.

Santa Shoebox Project 2013 3

“In 2006, toe my tweede kind, Julia, gebore is, het ek besluit om skoenbokse vir liefdadigheid in te span. Ek is dol op skoene en het dit altyd in skoenbokse gebêre. Ek het die bokse met découpage versier en ons het dit vir weeskinders uitgedeel. Aanvanklik sou ons net sagte speelgoed insit. Maar toe besef ek baie van hulle het nog nooit hul eie tandeborsel gehad nie. En só begin ons nóg geskenke inpas: tandepasta en -borsels, seep, ’n klere-item en sjokolade. En ’n verrassing. “Aanvanklik het ons dit net in die Wes-Kaap uitgedeel, maar mettertyd het dit landwyd uitgebrei. Irene Pieters koördineer dit sedert 2007. Dit is só wow om te dink ons verdubbel jaarliks die aantal bokse wat ons uitdeel. Al hoe meer vrywilligers help. Ons het onsself landwyd begin organiseer. Dit was ’n reuse-taak, maar waar ’n wil is, is ’n weg.

Oral het vroue onselfsugtig ingespring en gehelp.’’ Dee se kinders help om die bokse te versier en uit te deel. ‘‘Dit leer hulle die wonder van gee en dat hulle baie bevoorreg is.’’ Van die kinders wat in 2006 skoenbokse ontvang het, het sedertdien weer hul eie skoenbokse volgemaak en vir ander kinders gegee. ‘‘Dít is wonderlik, want dit wys net weer as iemand iets kry, wil hulle gewoonlik weer goed wees vir ander. Die pay it forward-konsep werk,’’ sê Dee.

Santa Shoebox Project 2013

Die groot uitdagings vir dié projek is volhoubaarheid, om die webtuiste daagliks nuuswaardig te hou en goeie verspreiding. “Ek het geleer daar is soveel Suid-Afrikaners wat wil gee, maar net nie weet hoe om betrokke te raak nie. Dis ’n reënboognasie-projek. Christene, Moslems, Jode – almal neem deel, hoewel dit net oor die Kerstyd bedryf word.
“Natuurlik is dit wonderlik om fisiek iets vir kinders in nood te kan gee, maar hul grootste behoefte is empatie.’’

Dié projek skop jaarliks op 1 September af.

Navrae www.santashoebox.co.za of volg hulle op Twitter by
#santashoebox

Die wonder van gee – Deel 1

‘As ek elke dag iets kan uitdeel, is ek gelukkig’ – Luci van Schalkwyk

Luci11Hul kinders het oorsee gewerk. Die Kerstafel sou dus bestaan uit syself, haar ma en man. Heeltemal te klein. En hulle was te alleen. Daarom het Luci van Schalkwyk en haar man, Christo, van Pietermaritzburg, die afgelope twee Kersfeeste gevra dat almal in die kerk [Nederduitsch Hervormde Kerk van Pietermaritzburg] wat Kersfees alleen sou wees,
hul hand opsteek.

In 2011 het veertien mense, met slaapsakke en al, by haar ma, Ami, se plaas Mooiloop buite Pietermaritzburg opgedaag. Hulle het drie dae oorgebly en almal het saam die Kersete help kook en ’n reuse-Kerstafel gedek. “Dit was so prettig en het die heimwee help verdryf,” vertel Luci. Verlede jaar was daar tien mense. “Ons het weer die heerlikste tradisionele kos gemaak: skaapboud, gebakte patats met botterskorsie, baie heuning en kaneelsuiker, koekstruif, melktert. Dis mos hartskos. “Ek wou die nuwe ‘familie’ bederf met kos. Dit moes prentjiemooi lyk en harte warm maak. Kerstyd gaan immers oor die geboorte van Christus, die grootste geskenk. ’n Tyd van geluk, van gee . . .’’

Luci04Vanjaar gee sy oor Kerstyd alle aandag aan haar antiekware-winkel, Luci’s Unique Antiques, en koffiewinkel, Die Twee Susannas, in Pietermaritzburg. “Ook daar gee ek graag. Ek is gelukkig as ek elke dag iets kan uitdeel. As iemand vertel van geldelike nood, of ’n ernstige siekte, ’n verhouding wat versuur, kry hy sommer sy koffie en koek verniet. Ek glo vas as jy nie kan gee nie, kan jy ook nie met grasie ontvang nie.”

Die wonder van gee – Deel 1: Lees waarom gee so lekker is én leer meer oor oud-Springbok-kaptein Francois Pienaar se MAD-inisiatief PLUS jy kan ook bydra!